Die aand voor haar troue in 2009 het sy suster ontroosbaar gehuil. Sy was onseker of sy die volgende dag saam met Johan du Toit voor die kansel moet staan en ewige trou aan hom beloof.

“My ma het vir haar gesê sy moet óf besluit om weg te loop óf met die troue voortgaan,” vertel Jarred Murphy, die destydse bruid se jonger broer. Eers onlangs het sy ma, Marlietjie, hom van daardie gesprek met sy ousus, Chanel du Toit, vertel.

“Ongelukkig het Chanel moontlik die verkeerde besluit geneem,” sê Jarred (26) nou, sy stem bitter. Want meer as ’n jaar ná die troue is sy 28-jarige suster dood aangetref op die slaapkamervloer van haar en haar man se kothuis op die wynlandgoed Dieu Donné op Franschhoek.

Chanel is in 2010 in die egpaar se kothuis op die plaas Dieu Donné op Franschhoek vermoor.

Johan het op ’n buurplaas as plaasbestuurder gewerk. In die nadoodse ondersoek is bevind Chanel is verwurg.

Johan (nou 34) het in die vroeë oggendure die nag van haar dood op ’n jaguitstappie vertrek, maar is later aangekeer en het op aanklag van haar moord in die Paarlse streekhof tereggestaan. Hy het onskuldig gepleit en het in Maart verlede jaar ’n mislukte aansoek om ontslag gedoen.

'Chanel is dood; vermoor'

Nou, agt jaar ná Chanel se moord op 7 Julie 2010, moet haar familie op hul eie pas afsluiting oor haar dood kry. Want soveel jare het verbygesleep, en in al hierdie jare kon haar vermeende moordenaar – hul skoonseun en swaer – oënskynlik net met sy lewe aangaan.

Jarred onthou hoe sy pa, adv. Albert Murphy (71), Chanel se stiefpa, hom daardie oggend in Julie wakker gemaak het met die nuus: Chanel is dood; vermoor. Hy was toe in matriek en het by sy pa op Somerset-Wes gewoon.

“Ek het dadelik begin huil. Ek kon nie asemhaal nie. My pa moes my kalmeerpille ingee. Ek was onmiddellik woedend. Ek het gedink dit was ’n plaasmoord.”

Maar ’n week later het nog ’n skok op hom gewag toe sy swaer, wat vir hom “soos ’n broer” was, in hegtenis geneem word.

Johan kom op 25 Junie by die streekhof in die Paarl aan. Hy het vir die eerste keer in die hof getuig oor die gebeure op 7 Julie 2010.

Johan het op 25 Junie, kort voor Huisgenoot se druktyd, weer in die hof verskyn en sou vir die eerste keer self oor die gebeure getuig, maar Jarred sê hy het “geen belangstelling” meer in die voortslepende hofsaak nie.

“So ’n paar jaar gelede wou ek nie hof toe gaan nie, want ek was bang ek sou hom iets aandoen,” erken hy.

“Maar ek is nie meer kwaad of hartseer nie. Ek het vrede gemaak.” Tog is daar een vraag wat steeds aan sy binneste knaag en waarop hy by Johan ’n antwoord wil hê.

Sy was die middelpunt van ons familie. Sy het almal bymekaargehou.

“Ek wil hom net graag vra: Hoekom?”

Sy pragtige suster was “ ’n great mens”, onthou Jarred in sy houtkantoor op die plaas Wittedrift naby Redelinghuys aan die Kaapse Weskus, waar hy as produksiebestuurder werk.

“Sy was die middelpunt van ons familie. Sy het almal bymekaargehou en was baie familievas.”

Vir hom was Chanel soos ’n tweede ma met dié dat hul ma ná haar egskeiding van Jarred se pa, Albert – haar tweede man – in Centurion gaan woon het.

“Chanel het my byna elke dag gebel. Sy was altyd daar vir my.”

Die moord op haar in sy matriekjaar het hom swaar getref.

'n Ordentlike ou

“Ek het op my agterent deur matriek geskuur,” onthou hy. Nie net het hy sy suster verloor nie, maar ook die man wat hy as ’n broer pleks van ’n swaer beskou het.

“Hy was ’n heel ordentlike ou; die bekende boerseun op die dorp,” vertel hy van sy eerste indrukke van Johan toe dié met Chanel begin uitgaan.

Die twee het mekaar in 2003 deur gemeenskaplike vriende ontmoet. Toe hulle sewe jaar later besluit om te trou, het Chanel, administratiewe hoof van die Glenwood-wynplaas op Franschhoek, selfs ’n tweede werk as boekhouer by ’n vulstasie aanvaar om geld vir die groot dag te spaar.

Johan en Chanel het in Februarie 2009 getrou.

Kort voor die troue het sy gekla Johan bring nie sy kant nie.

“Sy het vir ons gesê sy betaal alleen vir hul troue,” vertel Jarred. Tog het hulle vir hom na ’n gelukkige paartjie gelyk.

“Ek het byna elke tweede naweek in hul kothuis gekuier. Ek en Johan het gereeld gaan visvang en in die plaasdam geswem.”

In die week van Chanel se dood sou Jarred en Johan die Vrydag vertrek om by Laingsburg te gaan jag. Maar die Dinsdagaand het Chanel haar broer gebel en gesê Johan gaan vroeër Karoo toe ry om foto’s te neem.

Min het hy toe geweet dit was die laaste keer dat hy sy suster se stem sou hoor. Die volgende oggend het Chanel se skoonma, Ronelle Kitshoff-du Toit, op haar lyk afgekom nadat Johan haar gebel het. 

Hy het gesê hy is bekommerd omdat Chanel nie sy oproepe beantwoord nie. Hy hou vol sy het nog geleef toe hy tweeuur die oggend op sy jagtog vertrek. Reeds op haar begrafnis het gerugte die ronde gedoen daar is iets raaiselagtigs omtrent haar dood, en daar is na Johan vinger gewys.

Een van die redes wat die familie laat wonder het, is daar was geen teken van inbraak nie, sê Jarred.

Hy onthou Johan se laaste woorde aan hom op die begrafnis: “Moenie jy worry nie; ek sien jou weer.”

Buite-egtelike verhouding

Tog het Johan daarna alle kontak met hom verbreek. Dit was vir Jarred vreemd dat Johan nooit sy kant van die storie aan hom verduidelik het nie.

“Ons het dan alles saam gedoen en so lekker saam gekuier.”

Kort ná sy swaer se inhegtenisneming het hy die eerste keer gerugte gehoor dat Johan glo ’n buite-egtelike verhouding met ’n goeie vriendin van Chanel, Lucia Koch, gehad het. (Sy het in 2013 in die hof getuig sy en Johan was nege dae voor Chanel se dood intiem, maar sy het gekeer dat dinge “te ver gaan”.)

“Ek het geweet as Chanel van die verhouding moes uitvind, sou sy haar moer goed vir hom gepluk het en hom daaroor gekonfronteer het,” sê Jarred.

Hy het Johan net een keer ná die begrafnis weer gesien – met sy eerste hofverskyning op 19 Julie 2010 in die Franschhoek-landdroshof.

“Hy het heeltemal agteruitgegaan en was baie skraal.” Johan is sedertdien op borgtog vrygelaat, en al hang ’n swaard oor sy kop, leef hy steeds, hangende die uitspraak in sy verhoor, soos ’n vry man. Jarred weet nie meer wat Johan deesdae doen nie.

Wanneer ek iemand kry wat soos sy ruik, dan stort ek ’n traantjie.

“Laas het ek gehoor hy bottel water iewers op Franschhoek en gaan met ’n blonde vrou uit. Snaaks genoeg, sy het eenkeer vir ons kom bid voor hulle mekaar begin sien het,” voeg Jarred by.

Al het die tyd vir Jarred genesing gebring, mis hy steeds sy suster.

“Sy was dol oor Counting Crows en The Cranberries. Wanneer ek af en toe ry en hul musiek speel, herinner dit my aan haar. En wanneer ek iemand kry wat soos sy ruik, dan stort ek ’n traantjie,” erken hy.

Ook sy ma het met Chanel se dood vrede gemaak, sê Jarred.

“Al wat haar lewe nou nog knou, is die hofsaak.” Marlietjie (60) woon elke keer die verrigtings by.

“Dan vlieg sy af en kom sit op ’n harde bankie in ’n koue hof. Die hofsaak vreet die lewe uit my ma. Sy is nie meer gesond nie en dis emosioneel vir haar swaar.”

Chanel se ma, Marlietjie, en Jarred by ’n vroeëre hofverskyning.

Hy wil hê die hofsaak moet nou tot ’n einde kom.

“Of hy skuldig of onskuldig bevind word – dit sal dieselfde uitwerking op my hê,” sê Jarred.

“Ek hoop net hy kan ons nou antwoorde gee. Ek wil hê ons ma moet gemoedsrus kry.”

En nou, agt jaar ná Chanel se dood, gaan haar broer en ma haar as op Elandsbaai, ’n dorpie aan die Weskus, strooi. Met ’n wrang glimlag verduidelik Jarred: “My ma is nou eindelik gereed om dit te doen.”

Johan du Toit

Teen Huisgenoot se druktyd het Johan se regsverteenwoordiger, William Booth, nog nie op Huisgenoot se versoeke om kommentaar gereageer nie.

Johan was steeds in die getuiebank en het op die eerste dag getuig hy was baie lief vir Chanél en dat haar dood steeds vir hom “onwerklik” is.

FOTO'S: LUBABALO LESOLLE, MISHA JORDAAN, LIZANE LOUW, GALLO IMAGES/FOTO24/DEON RAATH, GALLO IMAGES/FOTO24/DENZIL MAREGELE, VERSKAF