Sy het ’n glas wyn in die hand. Nege jaar lank het die ma vir dié dag gewag. “Dit het nog nooit beter gegaan nie!” gil Suzette Barnard (62) vanuit haar huis in Alberton, Gauteng.

Jurgens Vandekeere (42), die man wat haar dogter soveel leed aangedoen het toe hy haar op 1 April 2011 op ’n hoewe in Benoni ure aaneen gemartel, verkrag en vermoor het, is ure tevore in die hooggeregshof daaraan skuldig bevind dat hy dié dade beplan het.

Suzette Barnard. Foto: Onkgopotsi Koloti
Suzette Barnard. Foto: Onkgopotsi Koloti

Suzette is manies van blydskap. “Ek staan hier met ’n glas wyn in my hand. Ek voel fantasties. Nou kan my lewe aangaan,” sê sy.

Suzette Barnard met ’n geraamde foto van haar vermoorde dogter, Chantelle. Foto: Rowyn Lombard.

“Hy het nou gekry wat hom toekom. Hy verdien dit om te sit, dubbel en dwars. Hy is skuldig bevind aan my dogter se beplande moord, dat hy haar verkrag het en aan minagting van die hof.

“In my moederhart wil ek steeds nie glo hy het haar verkrag nie, ek wil glo dat sy daarteen baklei het tot die dood toe. Maar die hof sê hy het en hy gaan sit daarvoor. Ek glo, of hy het of nie, dít was sy intensie.”

Sy vertel Jurgens, wat sewe jaar lank voortvlugtig was, het geen emosie getoon nie.

Chantelle Barnard. Foto verskaf
Chantelle Barnard. Foto Verskaf

“As ek nou iets vir hom kon sê, sou dit wees: ‘Kry vir jou, jou gevoellose monster.’ Hy het net daar gestaan en voor hom uitgestaar. Ek hoop sy tyd agter tralies sal vir hom hel op aarde wees. Hy voel niks nie, maar darem kan ek nou met my lewe aangaan.”

Huisgenoot het in Januarie berig Jurgens het homself aan die polisie in Benoni oorgegee nadat hy al die jare voortvlugtig was. Maar as een van Interpol se mees gesoekte misdadigers het die druk vermoedelik net te veel geword.

Suzette vertel wanneer Jurgens na verwagting Maandag gevonnis word, sal Chantelle se broer, Jacques (31), wat 11 maande ouer is en soos ’n tweeling vir sy suster was, ook daar wees.

“In al die jare was hy nog nooit in die hof nie. Hy wou nie hoor wat sy suster aangedoen is nie. Maar hy sal Maandag daar wees. Toe ek hom vandag bel, het hy in trane uitgebars. Hy kon dit nie glo nie.”