Dis klaarblyklik nie wat die omstanders by die vrylating van die ses Siriese bruinbere in Duhok, Irak, verwag het of wat die diereregteaktiviste wat hard gewerk het vir hul hervestiging, sou wou hê nie.

Chaos toe die bere onder die omstanders begin inha
Chaos toe die bere onder die omstanders begin inhardloop. Foto: Gallo/Reuters/Ari Jalal

Maar die deure van die beerhokke is skaars gelig by die onlangse vrylatingseremonie, gereël deur die Kurdish American Cooperation Organisation, toe ’n paar van die diere tussen die teenwoordiges, insluitend fotograwe, gewapende veiligheidsbeamptes en nuuskierige omstanders instorm.

Van die diere het waarskynlik uit stres en kortstondige paniek so gereageer, maar dis ook moontlik dat hulle weens hul gevangeskap ’n weersin in mense ontwikkel het.

Hoe ook al, die toneel van die beerstormlopies het half herinner aan ’n skool visse wat uitmekaar spat wanneer ’n roofdier op hulle afpyl. Oral het toeskouers laat spaander, party sommer handeviervoet in hul haas om oor die sneeubedekte vlakte weg te kom.

Dis nie duidelik of almal ongeskonde daarvan afgekom het nie. Daar was waarskynlik ’n geswikte enkel of twee, maar darem nie berigte in die plaaslike media oor noemenswaardige beserings nie.

Chaos toe die bere onder die omstanders begin inha
Chaos toe die bere onder die omstanders begin inhardloop. Foto: Gallo/Reuters/Ari Jalal

Gelukkig het veiligheidsmaglede met outomatiese gewere kop gehou en eerder self ook die bere gepypkan.

En nadat die bere hul sports met die tweebeniges gehad het, het hulle belangstelling verloor en in die rigting van die sneeubedekte berge op die grens van Irak en Turkye koers gevat.

Volgens die internasionale groep Bear Conservation is Siriese bruinbere ’n bedreigde subspesie met kenmerkende eiesoortige wit kloue, en word hulle weens jag en gevangeskap deur uitsterwing in Irak in die gesig gestaar. 

Bronne: bearconservation.org.uk, news.com.au, gulfnews.com, YouTube, Facebook