Mens hoor gereeld van Suid-Afrikaners in oorsese lande met ’n hunkering na plaaslike lekkernye soos biltong, blatjang en koeksisters. 

Maar blykbaar is die verlange na eg Suid-Afrikaanse lekkergoed net so groot, want in ’n onlangse onderhoud wat die oud Mej. Suid-Afrika Margaret Gardiner met die filmster Charlize Theron gedoen het, het sy besluit dit is die ideale geskenk.

“My genade! Crunshies, Flakes en Turish Delight. Ons sal hierdie onderhoud baie gou moet klaar maak,” het Charlize geskerts.

Margaret het vertel dat sy die vorige aand vanuit Londen gevlieg het en die spesiale lekkernye in ’n winkel daar gekoop het.

Margaret wat naamgemaak het as joernalis in Hollywood het die gesamentlike onderhoud met die akteur David Oyelowo gedoen na aanleiding van die film Gringo waarin hulle te sien is. 

Charlize het vir Margaret - wat sedert die 1980’s saam met haar man prof. Andre Nel in Los Angeles woon - vertel dat daar ’n winkel in die omgewing is wat die einste Suid-Afrikaanse lekkergoed verkoop. 

“My kinders is hoogs verslaaf aan Smarties,” het Chalize grappig vertel. “Ons gaan so een keer ’n maand soontoe. Daar is ’n hele afdeling vol Suid-Afrikaanse lekkergoed en dan breek alle hel los.”  

In die onderhoud praat Charlize oor die manier waarop haar ma, Gerda, haar geïnspireer het om haar eie waarde te ken en hoe dit haar gehelp het om haar drome na te volg.

Sy erken ook dat sy nie juis iemand is wat daarvan hou om die reëls te breek nie en glo dit het te doen met die Suid-Afrikaanse kultuur waarmee sy grootgeword het.

Kyk die onderhoud hier.