Op 8 Desember 2017 het Panayiotou se regspan 'n aansoek ingedien om teen die vonnis te appelleer. Die aansoek is op 17 Mei vanjaar aangehoor waartydens adv. Terry Price (vir Panayiotou) aangevoer het regter Dayalin Chetty was bevooroordeeld teenoor sy kliënt.

Price het tydens sy vertoë aangevoer Panayiotou se skuldigbevinding spruit voort uit die video waarin hy en die beweerde middelman, Luthando Siyoni, na bewering oor die misdaad praat.

Donderdag het die regter Panayiotou se aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys.

Skuldig

Dit het hom op 2 November 2017 minder as 'n uur geneem om die uitspraak in die hooggeregshof in Port Elizabeth te lewer.

Sinethemba Nenembe, die huurmoordenaar, is op dieselfde dag nes Panayiotou tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is op aanklag van moord en omdat hy Jayde ook beroof het.

Zolani Sibeko is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir sameswering om moord te pleeg.

Siyoni het as staatsgetuie opgetree, maar Chetty het bevind hy het nie sy onderneming om eerlik te getuig, gestand gedoen nie. Hy het Siyoni se getuienis as 'n mengsel van "leuens, meineed en versinsels" beskryf. Hy is op 7 Mei 2018 in hegtenis geneem en word ook nou van die moord op Jayde aangekla.

Jayde Panayiotou
  • Op 22 April 2015 is Jayde Panayiotou (28) van Port Elizabeth se lyk in ’n veld by Kwanobuhle naby Uitenhage gevind.
  • Sy het op 21 April verdwyn toe sy omstreeks halfsewe die oggend op ’n saamrygeleentheid gewag het na die Riebeek College Girls’ High School op Uitenhage waar sy ’n gr. 7-onderwyseres was.
  • Dit was nie die eerste poging om haar te ontvoer nie. Sizwe Vumazonke, die vermeende moordenaar wat intussen oorlede is, het glo in sy verklaring genoem hulle het “probleme” ervaar.
  • Hulle het Jayde glo gereeld misgeloop terwyl sy vir vervoer gewag het. Jayde en haar beste vriendin en kollega, Cherise Swanepoel, het beurte gemaak met ritte na die skool en terug.
  • Die forensiese patoloog Kevin Fourie, wat die nadoodse ondersoek op 23 April 2015 op haar uitgevoer het, het getuig die skote aan haar skedel en bors het haar dood veroorsaak.
  • Sy is drie keer geskiet. Koeëls het ook haar rugwerwel en longe getref. Die koeël wat deur haar kop gegaan het, het aan die linkerkant ingegaan en is aan die anderkant uit. Sy het ook ’n harde hou teen die kop gehad.
  • Meer as 200 polisielede was by die soektog betrokke en ’n beloning van R150 000 is uitgeloof vir iemand wat met inligting vorendag kon kom.
  • Panayiotou word as die vermeende baasbrein agter haar moord en ontvoering verhoor. Sy medebeskuldigdes is Sinethembe Nenembe en Zolani Sibeko. Op 4 Mei 2015 is Panayiotou amptelik van die moord op Jayde aangekla.
  • Sy lofrede op haar begrafnis was gegrond op ’n huldeblyk geskryf deur Charles Atkins, getiteld “My Sweet Wife’s Eulogy” en die datum daarvan is Oktober 2010. Hy het aangevoer hy is nie “goed met woorde nie”.
  • Cherise Swanepoel, Jayde se vriendin en kollega, het destyds aan die ondersoekbeampte lt. Kanna Swanepoel gesê Jayde was eensaam, maar dit is nooit ondersoek nie.