Yann Arnaud (38), 'n veteraan lugakrobaat vir die gewilde vermaaklikheidsgroep, is later in die hospitaal oorlede.

Hy was Saterdagaand besig om toertjies hoog bo die verhoog uit te voer toe hy geval het. Die tragedie het hom tydens die groep se optrede in Tampa, Florida in Amerika plaasgevind.

In 'n verklaring het die groep gesê “nooddienste het hom onmiddellik na die naaste hospitaal geneem, waar hy later aan sy beserings oorlede is”. 

Die hele Cirque du Soleil-familie is geskok en platgeslaan deur die tragedie, lui die verklaring.

“Yann was vir meer as 15 jaar deel van ons groep en geliefd deur almal wat die voorreg gehad het om hom te ken,” sê Daniel Lamarre, president van Cirque du Soleil.

Hy sê hulle gaan oor die volgende weke hulle fokus en ondersteuning aan Yann se familie, sowel as die groep kunstenaars met wie hy gewerk het, bied om hulle deur dié moeilike tyd te help.

A post shared by Yann Arnaud (@yannarnophoto) on

Cirque du Soleil is tans besig om ondersoek in te stel oor hoe die tragiese voorval plaasgevind het.

Hulle bied hulle “volle en deursigtige samewerking met wetstoepassers” om vas te stel hoe die ongeluk gebeur het. Sondag se twee optredes is ná die voorval gekanselleer. 

Yann, van Frankryk, word oorleef deur 'n vrou en twee dogters, berig Buzzfeed.  

Vorige Cirque du Soleil-tragedies
  • In Augustus 2017 het 'n kunstenaar van Cirque du Soleil ook geval en sy kop en rug beseer.
  • In 2013 is Sarah Guillot-Guyard dood nadat sy ook voor 'n gehoor in Las Vegas geval het.

 

Bronne: Buzzfeed, BBC