Haar eienaar, Jean Sauer van Roodepoort, het drie dae lank na Cloé gesoek voor hy haar by die waterval gevind het. 

“Sy is al taamlik oud, maar sy was op hitte en ek het haar vreeslik jammer gekry,” vertel hy. Dis toe dat Jean besluit het om Cloé Muldersdrif toe te vat om gedek te word. 

“Ek het vir haar ’n soort date night gereël, maar dinge het lelik skeefgeloop en sy het van die mense by wie se reun sy was, ontsnap.” 

Volgens Jean was sy baie verwilderd en het hulle in die sosiale media gevra dat mense moet uitkyk vir haar. 

“Sy is blykbaar verlede week Donderdag gesien in Robert Broomstraat, maar het toe weer die hasepad gekies.” 

Verlede week Vrydag het ’n inwoner van Roodepoort Jean gekontak en gesê hulle dink Cloé is vasgekeer by die waterval. 

“Toe ek daar aankom, het ek gesien sy is aan die onderkant van die waterval. Dit is steeds ’n raaisel hoe sy daar gekom het, want dit is meer as ’n 30 m-val.” 

Jean het die nooddienste ontbied en ’n reddingstog is van stapel gestuur om die hond by die waterval te red. 

“Die reddingsmanne moes hulself met ’n tou afhys om by Cloé uit te kom. Dit was nogals ’n spektakel om te aanskou.” 

Cloé is veilig terug aan Jean besorg en hy sê sy het geen beserings opgedoen nie. 

“Sy was net vreeslik gedehidreer en uitgeput. Ons het haar veearts toe gevat en vir haar rehydrate gegee om te drink. Sy is ná baie liefde weer haar self.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe