Dit lyk dalk nie so nie maar Coco is al 11 jaar ou
Dit lyk dalk nie so nie, maar Coco is al 11 jaar oud!

Coco, wat doof en blind is, het glo voor sonsopkoms Maandag op sy eienaars se stoep in hul erf gestaan. Dié huis is op die oewer van die stroom, wat toe in vloed was weens die vorige nag se hewige reën. 

“Coco het vermoedelik verbouereerd geraak weens die stroom wat afkom. Ons dink hy het toe reguit aangeloop pleks van terug huis toe en van die stoep afgeval, binne die stroom in. Gelukkig is daar baie biesies in die stroom, so dit het hom effens bo die water gehou,” vertel Ellie Potgieter van die Letaba Dierebeskermingsvereniging (DBV). 

Die stroom was in vloed na 'n storm die vorige aan
Die stroom was in vloed ná ’n storm die vorige aand. Foto: Verskaf

Ellie sê hulle ken Coco goed.

“Die ou man glip gereeld uit, veral as daar kwaai reën is. Wanneer iemand bel en sê: ‘Daar is ’n chow in die pad,’ weet ons sommer hy is weer op ’n uitstappie,” vertel Ellie. 

Coco se eienaar het glo al probeer om sy eiendom te beveilig sodat Coco nie uitkom nie, maar Ellie sê Coco kry steeds ’n manier om uit te glip al is hy byna heeltemal doof en blind. 

“Ons het kwart voor sewe ’n oproep van sy eienaar gekry wat sê Coco het in die stroom beland en ons moet kom help. Coco was toe al meer as ’n uur lank in die water. Sy eienaar het eers self probeer om hom te red, maar omdat Coco doof is, blaf hy ook nie elke keer as jy roep nie, so dit was baie moeilik om vas te stel waar hy is,” vertel Ellie. 

Ludwig Stemmet red Coco na hy in 'n stroom beland
Ludwig Stemmet red Coco na hy in 'n stroom beland het. Foto: Verskaf

Die DBV, Mopani Brandweer en die plaaslike rampsbestuur het gehaas om Coco te red.

“Toe ek daar aankom, was Ludwig Stemmet van die brandweer reeds in sy duikpak in die stroom opsoek na Coco. Die stroom is dig vergroeid en dit was moeilik om te sien. Ek vra toe dat almal net stil en rustig word sodat ons kan luister waar Coco is. Ek het toe sy asemhaling tussen die riete so vyf meter van ons af gehoor,” sê Ellie. 

Toe hulle tussen die riete begin soek, het Coco geblaf en kon hulle hom eindelik opspoor en red.

Ellie vertel die reddingswerkers was voor halfagt op die toneel en het Coco binne 10 minute opgespoor.

“Die arme ou man was gedaan, hy is nog ’n pokkel ook, maar hy het net aanhou veg om bo te bly. Ek dink as ons 10 minute later was, sou hy verdrink het. Hy was só moeg gespartel,” sê Ellie. 

Ludwig Stemmet red Coco na hy in 'n stroom beland het. Foto: Verskaf

Die DBV het Coco na ’n veearts geneem waar hy gestabiliseer en ’n kalmeermiddel gegee is. 

“Shame, hy het ’n paar keer inmekaargesak van uitputting, maar nadat hy twee dae lank by die veearts was, is hy terug huis toe. Sy eienaar sê Coco is weer sy ou self en hulle gaan hom in ’n ander gedeelte van hul erf probeer toemaak sodat hy nie weer in die rivier kan beland nie,” sê sy. 

Coco is veearts toe geneem na hy vir byna twee ure
Coco is veearts toe geneem na hy vir byna twee ure in die stroom gespartel het. Foto: Verskaf

Behalwe vir Coco se blind- en doofheid sê Ellie hy is spekvet en gesond en nog vol energie en lewenslus. 

“Ek is baie bly ons kon betyds vir Coco red. Hy het lankal reeds in ons almal se harte ingekruip,” sê Ellie.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe