Meer as 40 gesonde jong vrywilligers sal verskillende dosisse ontvang van 'n middel wat deur Moderna Inc in samewerking met die Amerikaanse National Institute of Health (NIH) ontwikkel word. Die eerste deelnemer aan die kliniese toetse sou teen Maandag reeds 'n eksperimentele dosis ontvang.

Moderna Inc/Facebook
Moderna Inc/Facebook

Daar’s geen moontlikheid dat die vrywilligers deur die inspuitings besmet sal word nie aangesien die middel nie die virus self bevat nie. Die doelwit in dié stadium is om te kyk of dit beduidende newe-effekte toon, voor die program uitgebrei word.

Die proeflopie vind plaas by die Kaiser Permanente Washington Health Research Institute in Seattle en word deur die NIH gefinansier, het Associated Press berig.

Namate COVID-19-gevalle snel toeneem, is talle oorsese navorsingsgroepe in 'n wedloop gewikkel om 'n inenting te ontwikkel. Hulle volg ook verskillende werkwyses en span nuwe tegnologieë in om inentings te ontwikkel wat vinniger geproduseer kan word en kragtiger is as tradisionele teenmiddels. Daarby mik party wetenskaplikes selfs na tydelike entstowwe wat byvoorbeeld beskerming vir 'n maand of twee kan bied, terwyl 'n inenting vir deurlopende beskerming voltooi word.

Inovio Pharmaceuticals wil ook aanstaande maand met veiligheidstoetse vir 'n moontlike inenting in Pennsilvanië en Missouri begin. Maar kenners sê selfs al verloop sulke proeflopies vlot, kan dit nog 'n jaar tot 18 maande duur voor 'n inenting ten volle markgereed sal wees.

Duitsland vies oor Trump na sy navorsers vry

Intussen is Duitse amptenare omgekrap omdat Donald Trump glo wetenskaplikes wat 'n inenting in Tübingen ontwikkel, probeer afrokkel het. Die Trump-administrasie het volgens die koerant Die Welt die maatskappy CureVac honderde miljoene dollar aangebied om die inenting wat hulle ontwikkel net vir Amerika te bekom.

Ná dese het die Duitse ekonomieminister Peter Altmaier op radio gesê: "Duitsland is nie te koop nie". Die Duitse regering het die biofarmaseutiese maatskappy blykbaar ook finansiële aansporings aangebied om in Duitsland te bly. Volgens Duitsland se FDP-party is Trump besig met politiekery: "Hy sal vanselfsprekend enigiets in 'n verkiesingsveldtog inspan." 

Jens Spahn, Duitse gesondheidsminister, het gesê 'n CureVac-oorname deur die Trump-regering was "van die tafel af". Die maatskappy sou net 'n entstof "vir die hele wêreld ontwikkel, nie vir individuele lande nie".

Dietmar Hopp, hoof van 'n groep beleggers in CureVac, het laat hoor: "As ons suksesvol is met die inenting-ontwikkeling, moet dit mense regoor die wêreld help beskerm."

'n Amptenaar van die Amerikaanse administrasie het egter gesê Die Welt se beriggewing was "oordrewe". Die Amerikaanse regering het met talle maatskappye beraadslaag wat meen hulle kan met 'n entstof help, en baie van hulle het reeds aanvangskapitaal van Amerikaanse beleggers ontvang, het hy gesê.

"Enige oplossing sal met die wêreld gedeel word," het hy bygevoeg.

SA se stappe en noodmaatreëls teen COVID-19

Pres Cyril Ramaphosa het intussen die naweek na aanleiding van die coronavirus-situasie (wat laas week deur die Wêreldgesondheidsorganisasie as as 'n pandemie geklassifiseer is) 'n nasionale ramptoestand verklaar. "Dis kommerwekkend dat ons nou met binnelandse oordrag van die virus te make het. Dié situasie verg buitengewone optrede," het hy gesê.

Teen Maandagmiddag het die getal bevestigde coronavirusgevalle in Suid-Afrika op 62 gestaan.

"Dringende maatreëls moet geneem word om die siekte te beheer, die mense van ons land te beskerm en die impak van die virus op ons samelewing te versag," het Ramaphosa gesê.

Die maatreëls sluit die volgende in:

  • Skole word Woensdag 18 Maart gesluit en open eers weer ná die Paasnaweek op 14 April. Om daarvoor op te maak, sal die Junie-vakansie met 'n week verkort word. Verskeie universiteit het ook intussen aangekondig hul kampusse word voorlopig gesluit.
  • Byeenkomste van meer as 100 mense word verbied.
  • Massavieringe van nasionale dae soos Menseregtedag en ander staatsbyeenkomste uiteraard ook.
  • Om kontak tussen moontlik besmette mense en Suid-Afrikaners te beperk, is 'n reisverbod vanaf 18 Maart van krag op alle buitelanders uit hoërisiko-lande soos Italië, China, Iran, Suid-Korea, Spanje, die VSA, Brittanje en Duitsland. Alle visa-aansoeke vir besoekers uit daardie lande word gekanseller en voorheen toegekende visas word herroep.
  • SA burgers word afgeraai om na of deur die Europese Unie, VSA, Brittanje en ander geïdentifiseerde hoërisiko-lande soos China, Iran en Suid-Korea te reis.
  • SA burgers wat uit hoërisiko-lande terugkeer sal aan toetsing en self-isolasie of kwarantyn onderwerp word.
  • Reisigers uit mediumrisiko-lande en -gebiede soos Portugal, Hongkong en Singapoer sal baie intensiewe mediese evaluasie moet ondergaan.
  • Alle reisigers wat Suid-Afrika sedert middel Februarie uit hoërisiko-lande binnegekom het, sal hulle moet laat toets.
  • Kapasiteit om die coronavirus-situasie te kan hanteer word by toegewese hospitale in alle provinsies vergroot.
  • Die staat span met die privaat sektor saam om 'n nasionale opsporing- en monitering-stelsel van besmette mense en dié met wie hulle in aanraking was te vestig.
  • Die meeste grensposte tussen Suid-Afrika en Botswana, Lesotho, Namibië en Swaziland sal gesluit word.

Die nasionale coronavirus-hulplyn is 0800 029 999 (8 vm – 4 nm, weekdae). Besoek ook die regeringswebtuiste sacoronavirus.co.za vir omvattende inligting, insluitend riglyne oor hoe om jou teen die virus te beskerm asook die jongste statisitiek oor die virus in SA.