Toe museums ook weens die coronavirus-pandemie hul deure moet sluit, het twee museums dié speelse uitdaging aan gebruikers van die sosiale media gestel: Skep jou eie nabootsing van ’n kunswerk, het eers die Rijksmuseum in Amsterdam, en toe die Paul Getty-museum in Los Angeles gevra. 

“Die enigste gereedskap wat jy vir dié aktiwiteit benodig, is jou verbeelding en ’n foto van ’n kunswerk waarvan jy hou of wat vir jou interessant is,” het die Getty-museum oor die uitdaging geskryf. 

Die reaksie was verstommend en mense van reg oor die wêreld het hul herskeppings in die sosiale media met die hutsmerk #betweenartandquarantine gedeel. Dit het lewensgetroue nabootsings van Renaissance-skilderye, kreatiewe kinkels waar troeteldiere die model word, en ’n hele paar toiletrolle ingesluit.

“Duisende en duisende herskeppings later, staan ons verstom oor jul kreatiwiteit en sin vir humor,” het Getty op hul blog geskryf. 

Hier is van dié kreatiewe herskeppings.

Girl with a Pearl Earring

Johannes Vermeer se skildery uit 1665 is ’n gewilde keuse onder nabootsers – met mans, vroue en selfs troeteldiere wat soos die meisie in die skildery aantrek en effens oor hul skouer na die kamera loer. 

View this post on Instagram

A post shared by Freya (Pyrenees mix) (@freya.dogg) on

The Creation of Adam

Mense gebruik ook die coronaviruspandemie as inspirasie vir hul nabootsings. Hoe sou Michelangelo se yslike skildery teen die plafon van die Sistynse kapel in die Vatikaanstad vandag gelyk het? 

View this post on Instagram

A post shared by Paulla (@paulla_70) on


Frida Kahlo

Die ingeperkte “kunstenaars” hou van dié Mexikaanse skilder se portrette:  Daai kenmerkende donker wenkbroue, welige groen plante, en siedaar!  


Whistler's Mother

Selfs mense wat nie veel van kuns weet nie, sal dié 1871-skildery deur James McNeill Whistler dalk herken as die een wat Mr Bean (Rowan Atkinson) in die fliek Bean beskadig. Nou word dit herskep met onderskrifte daarby soos: “Ons wag vir die einde van die inperking.” 

Portrait of Marie Jeanne Puissant 

Toiletpapier word in heelwat herskeppings gebruik – waarskynlik ’n tong-in-die-kies-verwysing na mense wat voor die inperking toiletpapier in grootmaat aangekoop het. Dié foto is ’n herskepping van ’n skildery deur Alexander Roslin. 

Dante Alighieri

Is dit ’n gesigmasker wat dié Italiaanse digter op Sandro Botticelli se portret van hom dra? Waarskynlik nie, maar ’n mens moet werk met wat jy tuis het!

American Gothic

Die uitdaging betrek die jonger én ouer generasies: Kyk net die twee herskeppings van die paartjie in Grant Wood se 1930-skildery. 

Vaandeldrager van het Groene Vendel der Haagse Schutterij 

Nog ’n kreatiewe manier om al daai toiletrolle in te span! Joachim Houckgeest het dié vaandeldraer in 1621 geskilder.

Boy with a Basket of Fruit 

Die inhoud van dié mandjie lyk ’n bietjie anders as in die oorspronklike skildery uit 1593 – dis propvol geriefskos vir die inperking. 

Lady at Eden Concert

Nie almal is so gelukkig soos die dame in Picasso se skildery om nog ’n bottel  wyn byderhand te hê nie . . . 


View this post on Instagram

Dama en Eden Concert . Picasso

A post shared by Amy (@amyslove1610) on

The Charging Chasseur

Wie het ’n perd nodig as jy ’n BMX-fiets het? Die outjie lyk kompleet nes die offisier in Théodore Géricault se 1812-skildery. 

The Gardener

Die skildery deur Giuseppe Arcimboldo lyk soos ’n bak groente, of ’n mens se gesig – afhangend van hoe om jy daarna kyk. Die herskepping lyk soos . . . wel, die resultaat van verveeld wees! 

Elizabethan collar

Noem my sommer koningin Mopshond! Hierdie gebruiker het sommer ’n A4-bladsy ingespan as koninklike kraag.