Luidens berigte word dié nuwe tegniek deur die Yidu Feiyan-salon in Luzhou, ’n stad die suidwestelike Sichuan-provinsie in China, ingespan. 

Die video’s wys ook hoe personeel kliënte tuis besoek. Een man sit in die skop van ’n laaigraaf terwyl hy sy langafstand-haarversorging ondergaan.

Die salon wat die videomateriaal uitgereik het, het gesê die tegniek stel werknemers en kliënte gerus terwyl hulle probeer verhoed dat hulle COVID-19 opdoen of oordra.

snaakse hare
Foto: AsiaWire /He Bing/Magazinefeatures.co.za

Die salon het ná ’n lang tyd van verpligte sakesluitings weer op 1 Maart sy deure oopgemaak.

Jy moet ’n chirurgiese masker dra as jy die salon binnegaan, en die haarstiliste bedek ook hul mond en neus volgens amptelike gesondheidsriglyne.


’n Video wat die stilis He Bing gedeel het, wys hoe personeel uit hul pad sal gaan om ’n hoër veiligheidsvlak te verseker om hul kliënte van ’n  ‘langafstand-haarsny’ te voorsien.

In die video hou beroepstiliste houtstokke in elke hand vas terwyl hulle ’n skeermes en ’n kam hanteer. Elke ronde stok is omtrent 0,9 m lank en word vir basiese take gebruik soos was, sny en droogblaas.

Die nuwe metode is blykbaar gewild onder kliënte wat die vermaak verwelkom in ’n tyd van spanning oor die coronavirus.

Kliënte hoef nie ekstra te betaal vir ’n langafstand-haarsny nie; dit kan ook as ’n uitroep-afspraak bespreek word.