Indien hierdie wet soos voorgestel deur Shenzhen bekragtig word, sal dit die eerste van sy soort in China wees.

Dit kom ná wetenskaplikes meen die coronavirus se oorsprong is vanaf diere in die land afkomstig, spesifiek diere vanaf die stad Wuhan.

Tot op hede is meer as 2 600 mense in die Hubei-provinsie in China oorlede aan die virus – meer as enige ander land in die wêreld. 

Meer as 82 000 mense wêreldwyd is reeds met die coronavirus gediagnoseer. 

Die jaarlikse Yulin Hondevleis-fees is een van die gewildste feeste in China waar duisende honde wreed doodgemaak, geslag en gekook word vir inwoners. 

Benewens hondevleis stel die wetsontwerp voor dat slang-, padda- en skilpadvleis ook op die etenstafel verbied moet word.

Inwoners van die stad Shenzhen het die voorstel op die regering se webtuiste geplaas. Hulle wag tans vir terugvoer. Volgens dié voorstel moet dit slegs wettig wees om die vleis van nege diersoorte te eet: varke, koeie, skape, donkies, hase, hoenders, eende, ganse en duiwe.  

Sedert dié land in die greep van die coronavirus vasgevang is, het China reeds die handel en verbruik van wilde diere verbied.

Die presiese oorsaak van die coronavirus is steeds onbekend, maar wetenskaplikes glo dit kan afkomstig wees van die vleis van vlêrmuise, slange en die ietermagog en dat die virus moontlik oorgedra is by straatmarkte waar die kossoorte verkoop word. 

By hierdie markte kon jy ook onder meer rotte, slange, honde, salamanders en wolfwelpies koop.  

Bronne: Dailymail; Independent