Mkhize (68) het Maandagoggend tydens ’n mediakonferensie verder uitgebrei oor die impak van die coronavirus op Suid-Afrika in die lig van pres. Cyril Ramaphosa se toespraak Sondagaand waartydens die COVID-19-uitbreking tot ’n nasionale ramptoestand verklaar is.

In Gauteng is ’n bykomende sewe gevalle gediagnoseer, in die Wes-Kaap is daar twee bykomende gevalle, onder wie ’n 15-jarige seun wat na Frankryk gereis het.

’n Dokter van die departement van gesondheid is positief getoets nadat hy Frankryk en Nederland besoek het. Hy is nou in selfkwarantyn.

In Mpumalanga is daar ook ’n pasiënt, waarskynlik ook ’n mediese beampte, wat met die coronavirus gediagnoseer is.

Die Suid-Afrikaners wat uit Wuhan teruggebring is, is Sondag ondersoek en die resultate word binnekort verwag.

Twee van die mense het ’n ligte hoes gehad maar het geen van die ander simptome van COVID-19 getoon nie.

Vier van die Suid-Afrikaners wat vir repatriasie geïdentifiseer is, het in China agtergebly omdat hulle van die simptome getoon het.

Dit beteken nie dat hulle die virus onder lede het nie, maar die stap is gedoen om die risiko van infeksie onder almal aan boord te beperk, het hy gesê. Hul families is reeds ingelig.

Ongeveer 15% van diegene wat die virus opdoen, het hospitalisasie nodig. Sowat 5% mag intensiewe sorg vereis. Die oorblywende 85% kan selfkwarantyn toepas en tuis herstel.

Maar hy het ook gemaan: Indien die prosedure van aanmelding vertraag word, kan gesondheidsdienste oorlaai word.

“Selfs al sien jy nie die virus as ernstig nie, moet jy weet ekstra stappe word gedoen om die toename van die virus te beperk. Almal moet saamwerk. Die regering moet as ’n eenheid saamwerk. Kerke, tradisionele leiers moet almal saamwerk. Elkeen moet sy kant bring om die verspreiding van die virus te keer,” het hy gesê.

Hy het die toename in die coronavirusgevalle as plofbaar beskryf: “Van 1 tot 61” – wat beteken dit het elke tweede dag sover verdubbel.

“Elke individu is daartoe in staat om sy eie mini-uitbreking te skep wat ’n reusehoeveelheid mense kan besmet.”

“Elke Suid-Afrikaner moet verantwoordelikheid aanvaar om die virus te beveg. Dit gaan nie maklik wees nie.

“Ons gaan besluite neem waar beperkings ingestel moet word.

“Ons moet dit máák werk binne die volgende twee tot drie weke. Ons moet sorg dat die getalle nie verder so vinnig toeneem nie en dat dit nie verder versprei as wat ons reeds ervaar het nie.

“Ons is nog nie daar nie, maar wanneer ons besluite gaan neem, kan dit taai besluite wees. Ons moet gefokus wees, ons moet samehorig wees.

“Ons het almal nodig om hul rol te vertolk, ons het al gesien die coronavirus kan geklop word. Ons het ook gesien diegene wat die virus geklop het, was vasberade om dit te doen, het saamgewerk en was bereid om taai besluite te neem.

“Hospitale moet byvoorbeeld ook beperkings instel op die aantal besoekers vir pasiënte.

“Die besluite wat die president en die kabinet geneem het, was nie maklike besluite nie.

“Die nasionale gesondheidsdienste koördineer alle skandering en toetse.”

Hy het ook ’n beroep op privaat hospitale gemaak om waar nodig van hul fasiliteite aan die staat beskikbaar te stel.

Interne oordraagbaarheid van die virus is nou ook ’n bron van kommer. “Kwarantyn beteken mense mag dalk van hul huise weggeneem word.

“As ons nie bereid is om saam te baklei en te werk nie, gaan die coronavirus ons op alle vlakke aanval,” het Mkhize gesê.

Die impak van die virus tot dusver

  • Skole sal amptelik vanaf 18 Maart tot ná die Paasnaweek gesluit wees.
  • Die Universiteit van Kaapstad het studente 72 uur gegee om koshuise te ontruim.
  • Soos Ikeys, het Wits ook klasse en hul gradeplegtigheid opgehef.
  • Ikeys het ook alle konferensies tot aan die einde van Junie 2020 opgeskort.
  • Die Universiteit van Stellenbosch is van Dinsdag 17 Maart in reses en aanlyn klasse sal van 30 Maart ’n aanvang neem.
  • Die Noordwes-Universiteit oorweeg ook die sluiting van klasse en dat klasbywoning vanaf 18 Maart opsioneel sal wees. In koshuise sal studente handreinigers ontvang.
  • Eksamens by die Universiteit van Limpopo is ook gekanselleer.
  • Die 2020 Two Oceans-marathon, die Kaapse internasionale jazzfees asook die Klein Karoo Nasionale Kunstefees sal nie plaasvind nie.
  • Die ATKV het ook hul jeugprojekte van die jaar as volg gekanselleer:
  • Die Pro-14-rugbytoernooi asook die Superrugby-toernooi is voorlopig afgestel.
  • Ook die toerisme-indaba is gekanselleer.
  • Die Kaapse Karnaval moes ook die knie buig voor die coronavirus.
  • Die jaarlikse film- en televisietoekennings (SAFTAs) wat op 27-28 Maart sou plaasvind, is ook in die lig van pres. Ramaphosa se toespraak gekanselleer.
  • Atletiek Suid-Afrika (ASA) het alle atletiekbyeenkomste met onmiddellike effek vir die volgende 30 dae opgeskort.
  • In Italië het die supermotorvervaardigers Lamborghini en Ferrari hul fabrieke gesluit tot die einde van Maart.
  • Die Indiese Premierliga-kriekettoernooi (IPL) is tot 15 April uitgestel.

Die Suid-Afrikaanse nasionale taxiraad (Santaco) het gesê hul bedrywighede gaan soos gewoonlik voort omdat dit baie moeilik sal wees om hul diens te staak.

Die raad se sektretaris, Ralph Jones, het aan News24 gesê hulle respekteer pres. Ramaphosa se oproep op 'n gedeeltelike reisverbod, maar hul hande is afgekap omdat hulle miljoene mense daagliks van een plek na 'n ander vervoer.

Waar prakties en gepas, sal die volgende treinstasies vir die coronavirus geskandeer word: Park, Durban, Kaapstad, Pretoria, Bloemfontein en Port Elizabeth.

Opportuniste slaan toe

Volgens berigte is daar nou ’n nuwe slenter wat die chaos rondom die coronavirus uitbuit. Mense gee voor hulle verteenwoordig ’n gesondheidsinstansie en doen huisbesoeke om mense vir die virus te toets. Dit is bloot ’n slenter om toegang tot huise te verkry vir die doel om te steel.


Bronne: cars.co.za, jacarandafm.com, news24.com

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.