Waar kom die paniek vandaan dat die land binnekort sonder toiletpapier gaan wees?

Dít is die vraag wat menigte mense in gesprek in die sosiale media vir mekaar vra, en waarvoor min ’n antwoord kan bied wat werklik sin maak.

Nadat pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand ’n nasionale ramptoestand afgekondig het, het paniekbevange mense in ’n stormloop op winkels toegesak en die winkelrakke gestroop.

Dit is egter nie net in Suid-Afrika waar mense skielik voor leë winkelrakke staan nie.

In lande soos Italië, Amerika en Australië moet die ook winkels skarrel om by te hou met paniekaankope.


Volgens Danie Nel, sielkundige van Alberton, is daar wel goeie rede waarom jy moontlik nagmerries begin kry as jy jouself op die toilet visualiseer en daar is nie ’n enkele velletjie  toiletpapier byderhand nie.

Want hoe maak jy dan?

"Dit gaan alles oor oorlewing,”  sê hy aan Huisgenoot.

“In tye van krisis, in die geval die coronavirus, soek mense na eenvoudige oplossings. Logiese denke vervaag en irrasionaliteit oorheers aan die einde van die dag.”

En by sommige mense kry hierdie irrasionele optrede beslis die oorhand.

In Sydney, Australië moes die polisie ontbied word nadat 'n man in 'n stryery met 'n ander kliënt betrokke geraak het en hy 'n mes uitgeruk het.

Die rede?

Hy wou die laaste pak toiletpapier op die rak hê.

Toiletpapier word tans in die sosiale media te koop aangebied teen buitensporige hoë pryse.
Ander  mense is so desperaat dat hulle die toiletpapier uit publieke toilette begin steel.

En in Hong Kong het gewapende rowers onlangs toegeslaan en palette toiletpapier geroof.

“Die coronavirus is ’n abstrakte verskynsel. Omdat ’n mens dit nie kan visualiseer nie, lei dit tot angs,” sê Danie.

Dit gaan alles eintlik oor die beheer van ’n situasie waaroor jy geen beheer het nie.

“Mense probeer hul angs hanteer deur aan paniekaankope toe te gee, ’n tipiese pandemiese psigose.

“Die oorlewingsdrang van die mens noop hom om voorsiening te maak vir die onvoorsiene. Die oormatige aankoop van toiletpapier gee ’n gevoel van beheer in die soeke na oorlewing,” verduidelik hy.

“Om in kwarantyn te verkeer is metafories en letterlik baie isolerend. Mense is sosiale wesens. Hul kudde-instink dryf ouers instinktief tot die versorging van hul gesin.

“En hoewel toiletpapier nie ’n mediese hulpmiddel is nie, het angs (en die behoefte om steeds ander te versorg) die aanvraag daarna drasties laat toeneem.”

Volgens ’n Britse meningspeiling in 2010 is die spoeltoilet die negende belangrikste uitvinding van alle tyd.

Dit word gesien as die geboorte van beskawing.

“Hoewel toiletpapier en spoeltoilette nie essensieel is vir oorlewing nie, is dit die skeidingslyn vir mense tussen die moderne beskawing en primitiewe leefwyses.

“Toiletpapier is dus simbolies van beskawing, en die moderne mens wil nie sy leefstyl prysgee nie, maak nie saak wat die krisis is nie,” meen Danie

Bykomende bronne: BBC; Dailymail; Metro