As China nies, kry die hele wêreld ’n verkoue, lui die gesegde. Maar deesdae is dié “nies” nogal ernstig en het die “verkoue” verreikende gevolge.

Ná die uitbreking van die dodelike corona­virus in Januarie word beeld ná beeld van verlate Chinese stede die wêreld in­gestuur. Die strate en vervoerstelsels, wat gewoonlik wemel met mense, is onheilspellend leeg en stil.

Fabrieke, winkels, skole, restaurante en pretparke is gesluit en die land se inwoners bly op bevel van die owerhede tuis agter geslote deure.

Ook winkelassistente dra beskermende drag. Foto: G
Ook winkelassistente dra beskermende drag.Foto: Gallo Images/Getty Images

Hubei, ’n binnelandse provinsie in Sentraal-China, eens ’n besige sentrum wat aan byna elke hoekie van die wêreld verbind was, is nou die afgesonderde middelpunt van die nuwe coronavirussiekte met die amptelike naam COVID-19. En dis van die res van die wêreld afgesny.

Die COVID-19 al die dood van meer as 3 000 mense op die Chinese vasteland veroorsaak en ten minste 335 elders ter wêreld. 

Teen Vrydag 6 Maart is meer as 100 330 mense is al geïnfekteer, en die virus het al na minstens 88 ander lande versprei. Die eerste geval in Suid-Afrika is Donderdag deur die departement van gesondheid bevestig. ’n 38-jarige man van Hilton in KwaZulu-Natal het na Italië gereis en op 1 Maart na Suid-Afrika teruggekeer. Die man en die dokter wat hom behandel het, is intussen in isolasie geplaas. 

Dat dié virus die wêreld behoorlik op hol het, is duidelik. En die ekonomiese gevolge gaan veel verder as net in China gevoel word, sê kenners.

DIE UITWERKING OP AFRIKA

Die finansiële impak wat die virus op China het, kring uit na byna elke land ter wêreld danksy die groot rol wat China in die sakewêreld speel. Suid-Afrika is geen uitsondering nie.

“China se ekonomie is ’n wêreldreus,” het Eswar Prasad, ’n ekonomieprofessor aan die Cornell-universiteit, aan Time gesê. “Enigiets wat China se groei skok, sal wêreldwyd weerklink.”

Afhangend van hoe ernstig en vir hoe lank die virus versprei, kan die rand aanhou verswak, wat ons ekonomiese groei sal beïnvloed en tot probleme soos hoër rentekoerse en werkloosheid kan lei.

China is Afrika se grootste handels­vennoot, met sowat 10 000 Chinese firmas op die vasteland.

“Suid-Afrika sien reeds die impak in terme van wêreld-finan­siële markte,” sê Dawie Roodt, die hoof­ekonoom van die Efficient Group.

“Afhangend van hoe ernstig en vir hoe lank die virus versprei, kan die rand aanhou verswak, wat ons ekonomiese groei sal beïnvloed en tot probleme soos hoër rentekoerse en werkloosheid kan lei.”

Ons toerisme kan ook geknou word, het Kutoane Kutoane, die hoof van die staatsbeheerde Uitvoerkredietversekeringskorporasie van Suid-Afrika aan IOL gesê.

“Met die toenemende wêreldwye kommer oor die potensiële verspreiding, kan ’n mens moontlik heelwat minder Chinese besoekers aan Suid-Afrika sien, en ’n afname in handel tussen die twee lande, wat nie goeie nuus vir ons sukkelende ekonomie sal wees nie,” sê hy.

Chinese toerisme het aan­sienlik gegroei en ’n belangrike bron van buitelandse inkomste vir Suid-­Afrika geword, voeg Kutoane by.

“Suid-Afrika voer baie minerale na China uit – ystererts, steenkool, pla­tinum, ensovoorts, en die vraag hierna uit China hang af van hoe gesond die Chinese ekonomie is,” sê Tony Leiman, ’n mede­professor aan die sakeskool van die Universiteit van Kaapstad.

“Daar is dus talle individuele sektore wat potensieel beïnvloed kan word. Tydens die uitbreking van akute respiratoriese sindroom (SARS), wat in 2002 in China ontstaan het, het mense daar byvoorbeeld ophou uiteet.

As gevolg daarvan het die hoeveelheid kreef wat ons uitvoer, skerp gedaal.

“Ons voer ook heelwat vervaardigde goedere vanuit China hierheen in. As die klere­vervaardigers in Wuhan byvoorbeeld minder kan vervaardig en hul uitvoersyfers na Suid-Afrika daal, sal plaaslike vervaardigers dalk moet inspring,” voeg hy by.

Agt daaglikse direkte vlugte van Afrika na China is gekanselleer, wat die vasteland se ekonomie beïnvloed.

China het boonop die afgelope twee dekades reusagtige infrastruktuur­projekte in Afrika gefinansier en miljarde dollars in die vasteland belê.

Angola voer byvoorbeeld 60% van sy goedere na China uit. Die situasie beïnvloed ook landbou-uitvoerprodukte soos Namibiese beesvleis, Rwandese koffie, Keniaanse tee en ook wyn en sitrus­vrugte van Suid-Afrika.

Agt daaglikse direkte vlugte van Afrika na China is gekanselleer, wat die vasteland se ekonomie beïnvloed. Die internasionale ekonomiese spesialiste die Overseas Development Institute voorspel dat Afrika suid van die Sahara tot R60 miljoen se uitvoer kan verloor.

Die JSE se indeks van alle aandele het op 27 Januarie met 2,37% gedaal – tot die laagste vlak in ses weke.

AFRIKA SE EERSTE

Die eerste geval van iemand in Afrika wat met die
Die eerste geval van iemand in Afrika wat met die coronavirus geïnfekteer is, is op 14 Februarie in Egipte bevestig. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die eerste geval van iemand in Afrika wat met die coronavirus geïnfekteer is, is op 14 Februarie in Egipte bevestig.

Die pasiënt is nie ’n Egiptenaar nie, het die gesondheidsdepartement in ’n verklaring gesê. Sy of haar nasionaliteit is nie bekendgemaak nie – die verklaring het net gelui die “stabiele” pasiënt is in ’n hospitaal in kwarantyn geplaas.

Meer as 300 Egiptenare is vroeër in Februarie uit Wuhan ontruim en het toe 14 dae lank in Egipte in kwarantyn gebly.

Die Egiptiese gesondheidsminister, Hala Zayed, is hewig hieroor gekritiseer nadat die Al-Noejaila-hospitaal in die Marsa Matruh-distrik die ontruimde Egiptenare uit China ontvang het.

Al-Noejaila is ’n boerdery- en visvang­gemeenskap sowat 400 km van Kaïro.

Die hospitaal is in ’n woongebied en die minister het volgens berigte die hospitalisering beplan sonder om dit met plaas­like inwoners te bespreek, terwyl dokters ingestem het om by die hospitaal te werk sonder dat hulle oor moontlike infeksies ingelig is, berig die Middle East Monitor.

WÊRELDREUSE SIDDER

Toe 800 mense wêreldwyd in 2002 weens SARS oorlede is, het die land se bruto-nasionale produk met 1,1% verklein.

Nou is dit ’n perd van ’n ander kleur. In 2002 was China die sesde grootste ekonomie ter wêreld, met ’n 5% aandeel in die wêreldeko­nomie. Nou is hy die naasgrootste, sowat R225 biljoen werd – 16% van die wêreldekonomie.

Die land is ’n belangrike handels­vennoot vir die wêreld se grootste ekonomieë. Hy voer meer ruolie as enige ander land in en die hoofstad, Beijing, is die grootste handelaar van koopware.

’n Leë straat in China se hoofstad, Beijing. Inwon
’n Leë straat in China se hoofstad, Beijing. Inwoners moet hoofsaaklik binnenshuis bly. In sommige stede word permitte uitgereik waarvolgens burgers net elke tweede of derde dag uit hul woning mag gaan om noodsaaklikhede te koop. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Die impak gaan heelwat groter wees omdat China ’n veel groter rol in die wêreldekonomie speel,” het Warwick McKibbin, ’n ekonoom aan die Australian National University, aan Time gesê.

“Baie Chinese verdien nou meer, en die hoeveelheid geld wat hulle op reis en luukse goedere bestee, gaan potensieel anders beïnvloed word as wat in 2003 die geval was.”

Die meubelwinkel Ikea het al sy winkels in China, sowat 30, gesluit, en die sowat 2 000 Starbucks-koffiekroeë en honderde McDonald’s-kitskoseetplekke is steeds toe.

Yum Brands, ’n sambreelmaatskappy vir handelsname soos Pizza Hut en KFC, in China sê die hoeveelheid klante by hul restaurante wat nog oop is, het met sowat 50% gedaal (baie van die restaurante bied ook ’n afleweringsdiens), en die maatskappy se aandele het boonop met 14% gedaal.

Inwoners met gesigmaskers staan in lang toue om be
Inwoners met gesigmaskers staan in lang toue om benodigdhede in supermarkte en apteke in ­die Chinese provinsie Hubei te koop. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hyundai, die wêreld se vyfde grootste motorvervaardiger, het sy motorfabrieke in Suid-Korea gesluit omdat die onderdele wat in China gemaak word, opgeraak het.

Nissan het een van sy grootste fabrieke in Japan om dieselfde rede gesluit, en die elektronika-reus Foxconn (’n verskaffer aan Apple) het halt geroep met hul vervaardigingswerk in China.

Verder het Tesla sy Gigafactory 3 in China gesluit, wat die aflewering van sy Model 3-sedan vertraag.

’n Lang stilstand kan die aanvoer­kettings in die chemiese, motor-, tekstiel- en elektronikabedryf onderbreek, sê ekonome van die Allianz-groep.

“Internasionale maatskappye sal dan nie meer die onderdele kry wat hulle benodig nie en sal ander verskaffers moet kry of vervaardiging moet stopsit,” sê Klaus-Jürgen Gern van die Kiel-instituut vir Wêreldekonomie.

GROOT GELEENTHEDE AFGESTEL

’n Hondjie dra ’n gesigmasker. Foto: Gallo Images/
’n Hondjie dra ’n gesigmasker. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die ander groot gevolg van die virus is dat byeenkomste wêreldwyd nou af­gestel word.

Die wêreld se grootste selfoonskou, die Mobile World Congress, word byvoorbeeld nie meer vanjaar in Barcelona, Spanje, gehou nie.

Dit was beplan vir 24 tot 27 Februarie en sou 14 100 deeltydse werkgeleenthede geskep het. Die organiseerders het gesê die kommer oor die ­coronavirus en die reis na Barcelona het dit vir hulle onmoontlik gemaak om met die skou voort te gaan.
 
Die Chinese Grand Prix sou op 19 April in Shanghai gehou word, maar is uit­gestel, terwyl die eerste amptelike toetsgeleentheid vir die 2002 Olim­piese Winterspele in Beijing ook af­gestel is.

Die Olimpiese kwalifiserende toernooi vir vrouesokkerspanne is afgestel, en Chinese gimnaste het hulle aan die Wêreld­bekerbyeenkoms in Australië onttrek.

Die Internasionale Olimpiese Komitee het Jordanië as die gasheer van die kwalifiserende bokstoernooi vir die 2020 Olimpiese Spele aangewys, nadat die geleentheid, wat in Wuhan gehou sou word, afgestel is.

Dis nog ’n ope vraag of die Olimpiese Somerspele in Julie vanjaar in Tokio sal voortgaan.

“Ideaal gesproke behoort ons ná drie maande die infeksie se hoogtepunt agter ons te hê en behoort die getal mense wat geïnfekteer word, af te neem,” sê Dawie.

“Ek twyfel of enige groot veranderings soos die afstel van die Spele gaan plaasvind. Maar as die virus muteer en die verspreiding nie bestuur word nie, is enigiets moontlik.”

KRITIEK TEEN CHINA

China se sentrale bank het tot dusver sowat R1 245 miljard in die bankstelsel gestoot om die finansiële impak van die virus te beperk, maar die regering het nietemin sedert die uitbreking onder ­hewige kritiek deurgeloop – omdat hulle te lank geneem het om iets daadwerkliks aan die virus te doen.

Dit nadat ’n 34-jarige dokter van Wuhan, Li Wenliang, hulle al op 30 Desember 2019 oor die implikasies van die virus gewaarsku het.

Li is deur regeringsowerhede uitgetrap omdat hy “onwaarhede op die internet gesê het”.

Hy is op 7 Februarie dood aan ­COVID-19 nadat hy deur ’n pasiënt aangesteek is.

’n Huldeblyk aan Li Wenliang, die dokter wat die o
’n Huldeblyk aan Li Wenliang, die dokter wat die owerheid teen die virus probeer waarsku het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Nou sê kritici China kon die verspreiding van die virus na soveel ander lande met vinniger optrede gekeer het.

China se pres. Xi Jinping is ook daarvan beskuldig dat hy laag lê terwyl die land in rep en roer is.

Xu Zhangrun, ’n Chinese regsprofessor, het die uitbreking van die virus ’n “nasionale ramp” genoem en gesê die krisis het “die verrotte kern van Chinese regeerkunde blootgelê.”

WAT WORD GEDOEN?

Die fondament vir ’n hospitaal in Yangzhou in die
Die fondament vir ’n hospitaal in Yangzhou in die Jiang­su-provinsie word gelê. Foto: Gallo Images/Getty Images

Zhong Nanshan, ’n Chinese respiratoriese kenner, voorspel dat die uitbreking teen April vanjaar in China iets van die verlede kan wees, maar daar is nog geen in­enting en geen kuur nie, ten spyte van voortgesette werk deur die Wêreld­gesondheidsorganisasie (WGO).

’n Hospitaal vir COVID-19-pasiënte is in rekordtyd, net agt dae, in Wuhan gebou – die bouwerk het op 23 Januarie begin en was op 2 Februarie afgehandel.

Hospitale is blitsvinnig vir coronavirus­pasiënte
Hospitale is blitsvinnig vir coronavirus­pasiënte opgerig, soos die Huo­shenshan-hospitaal, wat in 10 dae voltooi is. Foto: Gallo Images/Getty Images

Chinese banke het nou selfs begin om banknote met ultravioletligte of hoë temperatuur te ontsmet.

In Afrikalande soos Ghana, Madagaskar, Nigerië en Sierra Leone staan toetssentrums reg.

Die WGO het bykomende bystand verleen aan 13 Afrikalande, waaruit daar heelwat na China gereis word, om die virus vroeg te help identifiseer. Dit sluit Suid-Afrika in.

Maar dit is dalk nie genoeg nie.

“Baie siektewaarnemingstelsels reg oor Afrikalande is swak, en die grootste deel van die vasteland het nie die vermoë om ’n diagnose te maak nie,” sê dr. Ngozi Erondu van die wêreld­gesond­heids­program by die Britse Royal Institute of International Affairs.

“Om die meeste gevalle te identifiseer en die uitbreking te bestuur gaan dalk moeilik wees, veral in die armste lande met min hulpbronne.”

Suid-Afrika se gesondheidsowerhede het hul waarneming van reisigers verskerp wat uit plekke waar die virus voorkom na Suid-Afrika terugkeer.

Alle passasiers wat op die O.R. Tambo-lughawe aankom, word byvoorbeeld met ’n hitte­kamera vir simptome ondersoek, het Thandeka Nsele van die Ingangspoortgesondheidsdienste aan eNCA gesê.

Die Afrikaunie se sentrum vir siektebeheer en voorkoming werk nou saam met die WGO om ondersoeke en voorkoming te doen en gesondheidsorggeriewe voor te berei.

“Die risiko en waarskynlikheid van ’n uitbreking is baie, baie hoog,” het Ambrose Talisuna, die WGO se Afrikaspanleier vir noodgevalvoorbereiding, volgens The Lancet gesê.

 ’N NAGMERRIEBESTAAN

In Hanoi, Viëtnam, staan mense tou om gesigmaskers
In Hanoi, Viëtnam, staan mense tou om gesigmaskers te koop. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die inwoners van China leef nie net met die vrees van infeksie nie; die toestande is ook aaklig weens die regering se maatreëls.

Dis asof hy “in ’n nagmerrie vasgevang is”, sê ’n Somaliër wat in Wuhan, Hubei se hoofstad, woon, in ’n telefoononderhoud met The New York Times. Hy bring tot 20 uur per dag onder nieamptelike “huisarres” in sy woonstel deur.

In party stede in Hubei reik die regering permitte uit waarmee burgers elke twee tot drie dae uit hul huis kan gaan vir basiese benodigdhede.

Maar die winkels sukkel om hul voorraad aan te vul – die vervoer van goedere is beperk om die verspreiding van die virus te beheer – en mense staan in toue buite apteke vir gesigmaskers en ander basiese dinge.

Foto’s wys hoe tegnici in beskermende pakke mense in die straat voorkeer. Net ’n effens hoër liggaamstemperatuur is genoeg om in kwarantyn geplaas te word in een van die tydelike sale op sportterreine of in uitstallingsentrums. En as jy die kwarantyn veront­agsaam, kan jy ses maande tronkstraf kry.

Allen Li, nog ’n Hubei-inwoner, het aan die South China Morning Post gesê daar is ’n teken by haar voordeur aangebring: “In kwarantyn geplaas, geen besoekers toegelaat nie.” Daar is ook ’n ketting gespan wat haar en haar gesin binne hou.

BYKOMENDE BRONNE: BBC, ODI.ORG, NYTIMES.COM, ?TIME, THE GUARDIAN, DAILYMAIL.CO.UK, CNN, BUSINESSINSIDER.CO.ZA, BUSINESSTECH.CO.ZA, IOL.CO.ZA, NAMIBIAN.COM.NA, MIDDLEEASTMONITOR.COM, SCMP.COM, TIMESLIVE.CO.ZA
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.