Om op te hou om aan jou gesig te raak, is 'n gewoonte wat baie mense sukkel om te breek.

Die onlangse uitbreek en verspreiding van die coronavirus het die wêreld opnuut bewus gemaak van die belangrikheid daarvan om jou hande gereeld en deeglik te was. (minstens 20 sekondes!)

Daarmee saam moet jy so min as moontlik aan jou gesig raak om die verspreiding van kieme na jou neus, mond en oë te verhoed. 

Maar noudat jy weet dit is sleg vir jou om aan jou gesig te raak, hoe hou jy op?

Deur die loop van die dag raak ons aan verskeie oppervlakke – deurhandvatsels, kombuisrakke, toiletsitplekke en hysbakknoppies – oral plekke waar virusse – insluitend die coronavirus – vir dae lank kan uitbroei.

Vanaf daardie oppervlakke vang verskillende mikrobes 'n gratis rit vanaf jou vingerpunte na jou neus, mond en oë.

Hierdie punte op jou gesig is oop deure vir die coronavirus sowel as enige ander viruses en kieme.

“Die meeste van ons vat gereeld aan ons gesig, en ons is nie eens bewus daarvan nie. Dit is 'n baie moeilike gewoonte om te breek,” sê dr. Vanessa Raabe, assistent-professor aan die department van gesondheid van die New York-universiteit se mediese sentrum. 

Volgens Kevin Chapman, sielkundige in angsverteurings in Kentucky, raak die meeste mense aan hulle gesig omdat, want dit gee vir hulle 'n gevoel van selfbewustheid en van ander wat rondom hulle is.

En in enige situasie waar jy sosiaal verkeer, kan die behoefte om aan jou gesig te raak, net meer intens word. 

Studies toon ook dat deur om aan jou gesig te raak word spanning verminder en jou geheue verbeter. 

“Mense begin aan hulle eie gesigte raak vanaf 'n jong ouderdom,  dan raak dit vining 'n gewoonte. Hoe ouer jy word, hoe moeiliker raak dit om te stop – selfs al hang die persoon se gesondheid daarvan af,” meen Kevin. 

Volgens kenners is dit nutteloos vir gesonde mense om maskers te dra, en die beste ding wat jy eintlik kan doen, is om die gewoonte te breek om gereeld aan jou gesig te vat.

“Maar solank jou hande altyd skoon is, is dit nie 'n ramp as jy aan jou gesig vat nie. Dit is 'n natuurlike gewoonte wat ons almal doen,” sê dr. Raabe. 

Maar as jy weet jy het 'n probleem en wil minder aan jou gesig wil raak, hoe kry jy dit reg?

Hier is 'n paar wenke

Sê vir jouself om op te hou aan jou gesig te raak – dan raak jy net meer daaraan

Hoewel dit moeilik is om minder aan jou gesig te raak, sê Kevin om dit te probeer onderdruk, gaan beslis nie die gewoonte breek nie.

“In plaas daarvan om vir jouself te sê ‘ek sal nie aan my gesig vandag in die publiek raak nie’, sê eerder ‘ek moet meer bewus daarvan wees wanneer ek aan my gesig raak.”

Stel 'n alarm op jou selfoon of maak notas

Kevin meen om 'n alarm op jou selfoon te laai wat jou gereeld sal herinner om op te hou aan jou gesig te vat, sal beslis help. 

Jy kan ook orals notas by jou werklessenaar plak om jou daaraan te herinner.

 “Om jou gewoontes om te draai is moontlik. Dit verg net baie oefening om jou brein te herprogrammeer,” meen hy.

Hou jou hande besig

Probeer om jou hande altyd besig te hou. Druk 'n stresballetjie (wat natuurlik gesteriliseer is) of vou jou arms sodat jou hande nie beskikbaar is nie. 

Vou die wasgoed, sorteer jou pos uit of smeer lekkerruikhanderoom aan jou hande. Wanneer jy dan aan jou gesig wil vat, sal jy die reuk ruik en dit sal jou meer bewus maak van jou bewegings. 

Dra handskoene

Dra handskoene om 'n jeuk op jou gesig te krap.

“Virusse gaan jou lyf binne deur jou mond, neus of oë.

So elke keer wanneer jy jou oë vryf as jy moeg is, kontaklense insit, jou hand voor jou mond hou wanneer jy gaap of jou neus krap, loop jy die risiko om 'n virus in te nooi,” meen dr. Raabe.

Hou 'n boks sneesdoekies byderhand

Wanneer jy jou gesig wil krap, jou neus wil vryf of jou brille wil opsit, gebruik eerder 'n sneesdoekie pleks van jou vingers.

As jy voel jy wil nies, maar jy het nie 'n sneesdoekie byderhand nie, nies eerder in jou elmboog as jou hand, meen kenners. 

Wees bewus van enige snellers

Stop deur die loop van die dag en raak bewus van enige kompulsiewe gedrag.

Eers wanneer jy bewus is van wanneer en waarom jy aan jou gesig raak, kan jy dit verander. 

Bronne: Business Insider; New York Times; Daily Mail

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.