As jy vrae het, kan jy die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) se tolvrye nommer bel (0800-029-999). 

Wanneer jy simptome begin toon, kan jy by jou huisdokter of naaste hospitaal aanmeld.

Maak seker jy bel jou dokter vooruit en waarsku hulle sodat voorbereiding gemaak kan word. As jy na ’n hospitaal toe gaan, sal die personeel by ontvangs jou in ’n veilige area laat wag tot reëlings getref is om jou te laat toets. 

Nadat jy getoets is, moet jy teruggaan huis toe en jouself in isolasie hou en jou toestand deurlopend monitor tot jy weet of die uitslae positief of negatief is.

Indien jy in kontak was met mense wat die virus het of in ’n omgewing was wat as ’n brandpunt beskou word, sal NIOS daagliks met jou skakel oor jou toestand.

Die uitslae behoort binne 48 uur bekend te wees, maar dit kan langer neem na aanleiding van die volume toetse wat die instituut moet verwerk.

As jy positief toets, moet jy na een van die 11 kwarantynsentrums in provinsiale hospitale geneem word.

Hulle is tans: 

Wes-Kaap: Tygerberg-hospitaal

Gauteng: Charlotte Maxeke-hospitaal, Steve Biko-hospitaal 

KwaZulu-Natal: Grey's-hospitaal in Pietermaritzburg

Limpopo: Polokwane-hospitaal

Mpumalanga: Rob Ferreira-hospitaal in Mbombela

Vrystaat: Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein, Noord-Klerksdorp-hospitaal

Noord-Kaap: Kimberley-hospitaal

Oos-Kaap: Livingstone-hospitaal in Nelson Mandelabaai (PE).

Daar is nog geen kuur vir die virus nie en behandeling wat pasiënte sal ontvang terwyl hulle onder kwarantyn is sal, volgens NIOS, hang af van die simptome wat hulle toon.  

Om te voorkom dat jy siek word, is dit die beste om jou hande gereeld te was vir minstens 30 sekondes en te vermy om aan jou gesig te vat

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.

Ekstra bron: News24