Xi’an, die antieke Chinese stad bekend vir die Terracotta-soldate, is in die provinsie Shaanxi, wat grens aan die provinsie Hubei, waar die coronavirus die eerste keer uitgebreek het.

Volgens CNN is daar al meer as 40 000 gevalle van dié virus wêreldwyd aangeteken en meer as 900 mense is al oorlede. Meer as 30 000 gevalle van dié siekte is in Wuhan, die hoofstad van Hubei, aangemeld. 

Daneel Joubert (31) en sy vrou, Danelle (27) woon al ses jaar in China. Hulle het ’n vierjarige dogtertjie, Mia. 

“Ons het al meer as drie keer daaraan gedink om te vlug. Ons was baie bekommerd aan die begin maar daar was nie meer vlugte beskikbaar nie. Dit was ook baie duur en dan is jy in ’n skare, so die kans om só siek te word is eintlik groter,” sê Daneel aan Huisgenoot

Tog sê dié Suid-Afrikaner, wat oorspronklik van Barberton in Mpumalanga is, hy en sy gesin voel nou dinge is onder beheer en dat die Chinese regering alles goed hanteer.

“Die Chinese regering laat nie op hulle wag nie. Hulle het dadelik probeer om dinge onder beheer te kry en dit is nie maklik om ’n plek soos Wuhan se grense net toe te maak nie,” sê hy. 

Daneel bedryf ’n onderneming waar hulle onderwysers oplei om Engels by oorsese skole en universiteite aan te bied. Hy vertel sakeondernemings is summier aangesê om hulle werkers by die huis te laat bly. 

Foto: Verskaf
Daneel dra sy masker as hy enigsins die huis verlaat.

“Hulle het besighede aangesê om aan te hou om werkers te betaal anders kry hulle enorme boetes. Almal wat binne China reis word ge-screen vir tekens van die virus. Mense sal, as hulle iewers in China geland het, vir twee ure in die vliegtuig op die aanloopbaan sit voor hulle mag afklim om seker te maak dit versprei nie. Alles is baie georden en hulle voel in beheer.

“Ons voel nou baie rustiger maar ons dra maskers orals waar ons gaan. As mens nie een dra nie, word jy sommer gearresteer. Die publiek is baie erg daaroor. Jy gaan net nêrens sonder ’n mediese masker nie,” sê hy. 

Hy gaan doen steeds die gesin se inkopies, maar sy vrou en dogter bly binne die huis. 

“Die strate is leeg, leeg, leeg, want niemand wil hê dit moet versprei nie. Ek maak seker ek bly op datum met al die nuus. Ek kan basiese Chinees lees, so dit help. Hulle maak seker ons het genoeg kos en veral vars groente en vrugte in ons stad. Hulle spuit al die groente (met chemikalieë sodat die virus nie versprei) voor mens dit kan koop. Die regering doen regtig alles wat hulle kan om dit in toom te hou,” sê hy. 

Daneel vertel elke huishouding in sy stad kry sedert Vrydag ’n papiertjie op hulle deur wat sê wanneer hulle inkopies mag gaan doen. 

“Ons kan elke paar dae uitgaan en net een van ons kan. Hulle is só georganiseerd, maar dit beteken net een mens uit ’n huishouding van soos vyf kan uit die huis uitkom.”

Daneel sê hy glo hulle sal vir minstens nog ’n maand só in kwarantyn leef, maar dit kan meer wees as die verspreiding van die virus nie gestop word nie. 

“Ons sal ook eers vir Mia weer skool toe stuur na minstens twee maande. Ons buitelanders is baie goed ingelig. Hulle maak seker ons kry al die inligting in Engels ook. Ons is baie dankbaar hulle kommunikeer so goed,” sê hy. 

Hy sê dit is egter ’n groot uitdaging om hulle dogterjie in die woonstel besig te hou. 

“Ons het ’n klein tuintjie so ons kan darem bietjie buite toe gaan. Gelukkig het ons krag en dit beteken Wifi. En glo my, ons huis is nou behoorlik skoon want ons het tyd om te spring clean,” lag hy. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.