Oor landsgrense heen het dit die wêreld in ’n greep van vrees beetgekry en ander nuus van voorblaaie verdring. Skielik is COVID-19 op almal se lippe, ’n nuwe virale siekte wat die wêreld soos ’n tsoenami uit die Ooste getref het en oor die aardbol heen verskrikking saai.

Uit China – waar die nuwe coronavirus vermoedelik by ’n dieremark in die stad Wuhan vir die eerste keer van vrugtevlermuise na die mens oorgedra is – het dit binne drie maande na meer as 100 lande versprei.

Dit het selfs sy pad tot by ons aan die suidpunt van Afrika gevind, met 150 bevestigde gevalle in Suid-Afrika teen druktyd, maar genadiglik nog geen sterfgevalle nie.

In die res van die wêreld is daar reeds meer as 200 000 bevestigde gevalle en ’n dodetal van meer as 9 200. Meer as 85 000 het ook reeds herstel van die virus.

Intussen wys skrikwekkende beeldmateriaal uit Iran – een van die lande wat die swaarste getref is – hoe lyksakke oor ’n vloer van ’n hospitaal gestrooi lê.

Met die virus wat soos ’n sluwe verstekeling saam in vliegtuie reis, gewaar jy mense met gesigmaskers op lughawens. Pleks van ’n atmosfeer van opwinding, heers daar kommer.

Droomreise ontaard in nagmerrie-ervarings. Gewilde toeristebestemmings soos in Italië – waar van die grootste uitbrekings van COVID-19 is – word in spookdorpe met verlate strate omskep.

En met fabrieke en ondernemings wat in China tot stilstand geruk is, en internasionale sakereise wat gekanselleer word, word die ekonomie ook swaar getref en tuimel aandeelpryse wêreldwyd.

Wat staan ons te doen noudat ’n virus die wêreld op sy kop gekeer het? Hoe kan ons kop hou, en ons en ons kinders beveilig teen COVID-19 wat dreig om in ’n pandemie te ontaard?

Die wêreld steier

Dit steek nes ’n gewone griep aan met die virus wat deur ’n gehoes en genies versprei word en ook vanaf oppervlakke soos krane en deurhandvatsels. Maar COVID-19 – dit staan vir “coronavirus disease wat in 2019 ontstaan het” – blyk meer aansteeklik te wees en 30 keer dodeliker as ’n seisoensgriep.

Statistieke van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) wys iemand met COVID-19 steek gemiddeld twee tot drie mense aan, teenoor die seisoensgriep wat gewoonlik net een ander mens aansteek.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Mense op ’n lughawe in Italië. Kenners stel voor jy vermy dit om na enige van die brandpunte te reis. Foto: Gallo Images/Getty Images

Op grond hiervan raam kenners dat maklik 60% van die planeet met die nuwe coronavirus – bekend as SARS-CoV-2 – besmet kan word as dit nie onder bedwang gebring word nie.

Die lande met die meeste bevestigde gevalle van COVID-19 teen druktyd was China met 80 928, Italië met 35 713, Iran met 17 361, Spanje met 17 147, Duitsland met 9 367, Frankryk met 9 134, Amerika met meer as 8 700 en Suid-Korea met 8 565 gevalle.

In China is daar op 19 Mei vir die eerste keer geen nuwe gevalle van die coronavirus waar dit plaaslik oorgedra is, aangemeld nie.

G’n wonder die verspreiding van die virus laat die wêreld steier nie.

In Italië het die sterftesyfer kort voor druktyd tot 2 978 gestyg en die noordelike en vooruitstrewendste deel van die land word geïsoleer.

“Ons word deur ’n nasionale krisis in die gesig gestaar,” het die premier Giuseppe Conte by ’n mediakonferensie verklaar.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Beamptes in beskermende klere ontsmet die strate van die Iranse hoofstad, Teheran. Foto: Gallo Images/Getty Images

In dié land is skole en universiteite gesluit en meer as 10 miljoen mense teen druktyd onder kwarantyn geplaas om die verspreiding van die virus te probeer keer. Sedert COVID-19 sy aaklige kop in Desember 2019 uitgesteek het, is byna 233 miljoen studente ook in China deur die virussiekte ingehok.

In Japan moet sowat 16,5 miljoen leerders tuis bly.

In Amerika het die dodetal teen druktyd op 121 gestaan en ’n noodtoestand is in Kalifornië afgekondig. Groot geleenthede is in verskeie lande gekanselleer om te keer dat mense by mekaar aansteek, en daar hang selfs ’n vraagteken oor die Olimpiese Spele wat vir 24 Julie tot 9 Augustus vanjaar in Japan beplan is.

The New York Times berig dié sportskouspel kan moontlik voortgaan, maar met weinig toeskouers . . .

Die virus tref SA

Die eerste Suid-Afrikaner op eie bodem by wie die gevreesde COVID-19 gediagnoseer is, was teen druktyd in kwarantyn in ’n hospitaal in KwaZulu-Natal saam met sy vrou, wat ook positief getoets het vir die virus.

Hul twee jong kinders, wat nog nie die virus opgedoen het, is saam met hulle daar.

Suid-Afrika se pasiënt zero, wie se naam aan Huisgenoot bekend is, was saam met ’n groep vriende in Italië met ’n skivakansie waar hy, sy vrou en nog vyf lede van die groep vermoedelik met die virus besmet geraak het.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

“Hy voel al baie beter,” sê Luke McNally (57), ’n direkteur van Crickmay and Associates, die onderneming waar dié 38-jarige man werk.

“Ek dink die ergste is verby. My grootste uitdaging is nou om myself besig te hou,” het die COVID-19-pasiënt aan Rapport gesê.

Nog voor die eerste geval van COVID-19 op 5 Maart in Suid-Afrika aangemeld is, het twee Suid-Afrikaners wat in die buiteland op ’n passasierskip met 3 700 passasiers aan boord (Diamond Express) werk, positief vir die virus getoets. Hulle was teen druktyd nog in kwarantyn in Japan maar is ná behandeling ontslaan.

Die derde amptelike geval van ’n Suid-Afrikaner in die buiteland by wie COVID-19 gediagnoseer is, is Hein Cloete (39).

Hy is steeds in Suid-Korea, waar hy as Engelsonderwyser in Daegu gewerk het. Nadat sy werkkontrak verstryk het, is hy op die lughawe in Incheon met ’n hoë koors voorgekeer, vertel sy suster, Celesti Mathews, van Pretoria.

Toe sy familie laas van hom gehoor het, het hy aangedui dat hy goeie sorg en goeie kos kry, maar dat die situasie in Suid-Korea vir almal moeilik en emosioneel uitputtend is.

Is SA voorbereid?

Pasiënt zero is net die begin, voorspel prof. Anton Stoltz, hoof van die Universiteit van Pretoria se departement van aansteeklike siektes. Hy meen die situasie hier kan selfs ernstiger as elders ter wêreld wees, soos toe Afrika in 2009 die ergste deur die uitbreking van varkgriep (H1N1-virus) getref is.

Weens ’n verswakte immuunstelsel is mense wat MIV-positief is en tuberkuloselyers veral kwesbaar.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Mense word in ’n Teheran, Iran, behandel vir COVID-19. Foto: Gallo Images/Getty Images

Suid-Afrika het die hoogste voorkoms van MIV ter wêreld met sowat 20% van die volwasse bevolking wat MIV-positief is, en die tweede hoogste voorkoms van tuberkulose.

Maar dit tel in ons guns dat die owerheid tyd gehad het om te sien wat in ander wêrelddele gebeur en daarvolgens kon beplan, voor die eerste geval van COVID-19 hier aangemeld is, meen Anton.

’n Gedetailleerde gids, wat Huisgenoot gesien het, is na rolspelers soos dokters en gesondheidsorgwerkers gestuur oor onder meer hoe om pasiënte te toets (deur monsters uit hul neus en mond te neem), hoe om gevalle aan te meld en watter hospitale as behandelingsentrums sal dien.

Gesondheidsorgfasiliteite reg oor Suid-Afrika is op ’n hoë gereedheidsgrondslag, sê Popo Maja, die woordvoerder van die nasionale departement van gesondheid. Hy maan Suid-Afrikaners wat vermoed hulle het die coronavirus om seker te maak hulle voldoen aan die nodige kriteria voor hulle hulle laat toets.

Die gevaartekens is ’n ernstige asemhalingsiekte met simptome soos ’n gehoes, seer keel, kortasem en hoë koors (van meer as 38 °C) – tesame met die volgende:

  • As jy in kontak was met iemand met ’n bevestigde of waarskynlike geval van COVID-19;
  • As jy na China, Suid-Korea, Singapoer, Japan, Iran, Hongkong, Italië, Viëtnam, Spanje, Duitsland, Amerika, die Verenigde Koninkryk, Frankryk, Switserland en Taiwan gereis het;
  • As jy in ’n gesondheidsorgfasiliteit werk of teenwoordig was waar pasiënte met COVID-19 behandel is;
  • As jy opgeneem word met ernstige longontsteking van ’n onbekende oorsprong.

In elke provinsie is hospitale aangewys wat spesifiek toegerus is om COVID- 19-pasiënte te behandel, sê Maja.

Hulle is:

  • Polokwane-hospitaal in Limpopo;
  • Rob Ferreira in Mpumalanga;
  • Charlotte Maxeke, Steve Biko en die Tembisa-hospitale in Gauteng;
  • Greys-hospitaal in KwaZulu-Natal;
  • Klerksdorp-hospitaal in Noordwes;
  • Pelonomi-hospitaal in die Vrystaat;
  • Kimberley-hospitaal in die Noord-Kaap;
  • Tygerberg in die Wes-Kaap
  • en Livingstone in die Oos-Kaap.

WIE LOOP DIE GROOTSTE RISIKO?

Dit is meer waarskynlik dat bejaardes en mense met chroniese siektes soos artritis, diabetes en hartsiekte en diegene met ’n kwesbare immuunstelsel hospitaalsorg sal benodig. Hoewel die risiko vir albei geslagte ewe groot is om die siekte op te doen is mans 65% meer geneig om daaraan te sterf.

Dit lyk asof kinders ’n lae risiko het. Kinders jonger as 10 het minder as 1% van die gevalle in China uitgemaak wat die siekte opgedoen het. En kinders wat wel daar met die virus besmet geraak het, het dikwels die siekte in ’n ligte vorm gehad.

Volgens prof. Jeff Dorfman, van die Universiteit Stellenbosch se afdeling vir mediese virologie, is Suid-Afrikaners se kanse om die virus op te doen gering tensy hulle na ’n hoërisikogebied gereis het of in kontak was met iemand wat positief vir COVID-19 getoets het.

HOE WERK DIE TOETS?

Nadat ’n gesondheidsorgwerker ’n monster geneem het uit die neus of mond van iemand wat moontlik die virus het, word dit weggestuur en getoets by die Nasionale Instituut van Oordraagbare Siektes (NIOS) in Sandringham, Johannesburg.

NIOS sal alle monsters toets van mense wat vermoedelik COVID-19 opgedoen het, en die uitslae kan telkens binne 48 uur gedeel word.

Die rol van die instituut is om spesifieke uitbrekings of epidemies van oordraagbare siektes te bespeur en inligting daaroor na te vors, sê Sinenhlanhla Jimoh, ’n woordvoerder.

“Die doel is om te verseker dat die regering doeltreffend daarop kan reageer en naderende uitbrekings en epidemies kan identifiseer.”

WAT BEHELS KWARANTYN EN SELFISOLASIE?

Mense wat met COVID-19-pasiënte in aanraking was, soos die dokter wat pasiënt zero behandel het, kan hulself by hul huis afsonder tot die virus sy loop geneem het, wat waarskynlik binne 14 tot 21 dae sal wees.

Vir mense wat positief vir die virus toets of in hoërisikogebiede was, soos die 121 Suid-Afrikaners wat uit die virusepisentrum, Wuhan in China, teruggebring word, is dit beter om in kwarantyn te bly om te keer dat hulle die siekte hier versprei. Dit beteken dat hulle in ’n inrigting, waarskynlik met streng monitering en voorwaardes, in afsondering gehou sal word.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Die eens stampvol strate van die Chinese hoofstad, Beijing, is heeltemal verlate omdat mense binnenshuis bly om kontak met die coronavirus te vermy. Die impak op die wêreldekonomie gaan reusagtig wees. Foto: Gallo Images/Getty Images

Teen druktyd was dit nog onseker waar hulle gehuisves sal word, maar die groep is weldra by The Ranch in Polokwane onder kwarantyn geplaas.

Die ideale plek hiervoor is ’n militêre kamp met goeie toegangsbeheer, meen Jeff.

“’n Hotel is nie ideaal nie, veral nie met ’n sentrale lugverkoelingstelsel nie.”

Dr. Juno Thomas, ’n patoloog by NIOS, sê die inkubasieperiode vir COVID-19 is 14 dae.

“Met die gevalle op plesierbote was dit doeltreffend om mense net op die boot laat bly. Stede in China is geïsoleer, wat die verspreiding verminder het.

KAN SA SE WARM WEER HIER DIE VIRUS HELP KEER?

Omdat die meeste gevalle in die Noordelike Halfrond tydens hul winter aangemeld is, word daar bespiegel dat die virus stadiger in lande met ’n warmer klimaat sal versprei.

“Wat ons by ander coronavirusse gesien het, is dat hulle teen 4 °C van enkele ure tot 28 dae op oppervlakke kan agterbly. Maar as die temperatuur tot 30 °C styg, was dit ongeveer 18 tot 24 uur,” sê Anton.

Dr. Sibongile Walaza, ’n epidemioloog van NIOS, waarsku dat COVID-19 “moontlik ’n probleem kan word” wanneer die winter hier begin aanbreek.

“Ons weet reeds dat die virus in kouer klimate floreer,” sê sy.

HOEKOM DIE PANIEK?

Vir die meeste mense veroorsaak COVID-19 pyn, koors, ’n droë hoes, ’n loopneus en ’n seer keel. Maar in die meeste gevalle is die simptome nie veel erger as dié van ’n gewone griep nie. Jy kan selfs die virus opdoen sonder om ooit siek te voel.

Waarom dan die paniek?

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

In party gevalle kan lyers aan COVID-19 lewensgevaarlike virale longontsteking kry wat nie op antibiotika reageer nie. Dit kan ook ernstige akute respiratoriese sindroom en nierversaking veroorsaak.

Tot dusver het drie uit elke 100 mense by wie dit bespeur is, gesterf – wat dit 30 keer dodeliker as seisoensgriep maak.

Uit die beskikbare inligting blyk dit reeds dat die COVID-19 se sterftesyfer veel hoër is as dié van die seisoenale griep, sê die WGO. Teenoor ’n sterftesyfer van gewoonlik onder 1% vir seisoenale griep, is die sterftesyfer vir COVID-19 tussen 3 en 4% van die aangemelde gevalle.

Sommige kenners waarsku die dodetal kan dalk selfs dié van die Spaanse griep van 1918 verbysteek – een van die wêreld se ergste pandemies, wat 50 miljoen lewens wêreldwyd geëis het.

Dit neem twee tot 10 dae van jy met die coronavirus besmet raak tot jy simptome begin toon. Omdat jy in dié tyd onbewustelik ander kan aansteek, is dit moeilik om die verspreiding van die virus te stuit.

Maar die belangrikste is om nie paniekerig te word nie, sê dr. Pieter Bester, ’n algemene praktisyn van Mosselbaai in die Wes-Kaap.

“Die simptome van COVID-19 is presies dieselfde as griep. Mense sal daarom hul algemene praktisyn hiervoor besoek. Die praktisyn sal dan deur ’n paar eenvoudige vrae vasstel of die persoon ’n moontlike risikogeval is. Verdere behandeling sal volg indien die pasiënt positief toets.”

Dieselfde maatreëls vir as jy griep onder lede het, geld vir die coronavirus.

“Bly by die huis, moenie oor of naby ander mense nies of hoes nie en was jou hande gereeld.” 

KAN DIE VIRUS MUTEER – EN KOM DAAR ’N ENTSTOF?

Al kan die nuwe coronavirus soos die meeste virusse muteer, is “geen relevante mutasies al gevind nie”, sê prof Wolfgang Preiser, hoof van geneeskundige virologie aan die Universiteit Stellenbosch se fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe.

“Dit kan eindelik op ’n goeie manier muteer dat dit nie so aansteeklik is nie,” voeg hy by.

In Japan het kenners gemeen ’n vrou het moontlik ’n nuwe weergawe van die virus opgedoen toe sy van COVID-19 herstel het, maar drie weke later weer siek geword en ’n tweede keer positief getoets het.

Maar hulle voeg by dit is waarskynliker dat sy nie die simptome heeltemal te bowe gekom het nie en haar simptome daarom teruggekeer het.

Verskeie instansies werk aan entstowwe, maar dit sal tot 18 maande neem om te ontwikkel en waarskynlik nie voor die begin van 2021 beskikbaar wees nie, sê Wolfgang.

WAT IS DIE IMPAK OP ONS EKONOMIE?

Die nuwe coronavirus is ’n “internasionale skok” vir die wêreldekonomie. En dit verhoog die druk verder op Suid-Afrika se reeds wankelende ekonomie, sê Francois Stofberg, ’n ekonoom van die Efficient Group.

“As die wêreldekonomie nie groei nie, groei ons ook nie,” verduidelik hy.

Die verskaffingsketting van talle produkte word deur die virus geraak, omdat baie fabrieke in China deur die uitbreking van COVID-19 tot stilstand geruk is. “As sekere motoronderdele byvoorbeeld nie in China vervaardig word nie, kan ander produkte op ander plekke in die wêreld nie geproduseer word nie.

Dit veroorsaak dan ’n verskaffingstekort, ook in ons land,” verduidelik Francois.

Ook op Suid-Afrika se uitvoermark het die virus ’n uitwerking, omdat die vraag na ons produkte in die buiteland verminder.

“Dit kan ’n geweldige korttermynimpak op ons ekonomiese stelsel hê,” voorspel hy.

Die onsekerheid oor die presiese uitwerking van die virus en die paniek wat daarmee saamgaan, het ook ’n negatiewe uitwerking op die wêreldekonomie en markte.

Francois sê ’n ekonomiese inkrimping word reeds vir die eerste kwartaal vanjaar verwag.

DIE EINDE VAN CHINA SE DIEREMARKTE?

By die sogenaamde “nat mark” in Wuhan, waar die coronavirus vermoedelik die eerste keer die sprong van dier na mens gemaak het, word seekos en ander eksotiese diere lewend verkoop en op aanvraag geslag.

Aanvanklik is vermoed die virus is uit slangvleis oorgedra na ’n mens wat dit geëet het, maar die jongste toetse dui daarop dat die virus uit vlermuisvleis na die mens versprei het.

Die betrokke mark in Wuhan is intussen gesluit en China het reeds die verkoop en eet van wilde diere by hierdie markte verbied.

Tog meen Dirk Pfeiffer, ’n professor in veeartsenykunde aan die Stadsuniversiteit van Hongkong, die Chinese sal nie so maklik van dié sogenaamde “warm vleis” wat pas geslag is, afsien nie. Op ’n vraag aan sy studente waarom sulke diere lewend verkoop word, het die antwoorde gewissel van: “Die sop smaak dan lekkerder,” tot: “Dis ’n vertrouensding. Jy weet dan dis ’n lewende dier en nie een met siektes nie.”

Foto: Gallo Images/Getty Images
’n “Nat mark” in China. Foto: Gallo Images/Getty Images

In 2000 is ’n verbod ingestel op die eet van en handel dryf met meer as 1 700 spesies, en in 2007 is ’n handelsverbod op ietermago’s ingestel, vertel Wufei Yu, ’n Chinese joernalis.

Tog is daar in Januarie verlede jaar op ’n skeepsvrag met 14 t skubbe van dié diere in Singapoer beslag gelê.

Die lewe in die oog van die storm

Amy Pittaway (24) van Kaapstad was teen druktyd al meer as 50 dae sedert die uitbreking van COVID-19 in haar woonstel in Wuhan vasgekeer, waar sy 10 maande as Engelsonderwyseres gewerk het.

Foto: Facebook
Amy Pittaway (24). Foto: Facebook

Sy is bly dat die Suid-Afrikaanse regering eindelik besluit het om Suid-Afrikaanse burgers daar uit die episentrum van die gevreesde siekte te gaan haal.

Om sowat 121 van die moontlike 184 terug te bring huis toe is die grootste militêre ontruimingsaksie weens blootstelling of moontlike blootstelling aan ’n oordraagbare siekte nóg in die Suid-Afrikaanse geskiedenis Phumla Williams, ’n regeringswoordvoerder, het bevestig ’n multidissiplinêre span van die departemente van gesondheid, binnelandse sake, maatskaplike ontwikkeling en die Suid-Afrikaanse weermag is hiervoor saamgestel.

Die groot groep sal vir 21 dae in kwarantyn by The Ranch gehou word. Die algehele koste word op meer as R80 miljoen geraam.

“Ek volg elke brokkie nuus,” sê Amy.

“Kos is nou baie duur, en ons moet dit aanlyn bestel omdat al die winkels toe is. Ek is bang hier. As ek my voet by die deur sou uitsit en iemand haal op my asem, loop ek die gevaar om siek te word.

“Ons mag met die toestemming van die gebou se bestuur net drie tot vier uur uitgaan. Die polisie patrolleer die strate.

“Ek voel vasgekeer, en die afsondering veroorsaak angs. Ek mis my familie. My grootste vrees is om siek te word, maar ook oor hoe hierdie ervaring my op lang termyn gaan beïnvloed . . . Die onsekerheid oor wanneer ek weer vry gaan wees . . .

“Ek wil buite rondloop, die vars lug inasem sonder ’n masker. Wanneer ek huis toe gaan, weet ek darem ek gaan net 21 dae in kwarantyn wees.”

Hoe voel dit om in kwarantyn te wees?

Die vryskutfotograaf Corrie Hansen het destyds eerstehands ervaar hoe dit voel om in kwarantyn te wees.

“Dit was sewe dae en sewe nagte,” onthou hy van die tyd wat hy 25 jaar gelede in kwarantyn moes deurbring ná ’n besoek aan Ghana.

 Foto: Verskaf
Corrie Hansen. Foto: Verskaf

“Toe ek terugkom, het ek op pad werk toe begin hallusineer. My tong was droog en opgeswel.” Dokters het bly kopkrap oor ’n diagnose en besluit om hom veiligheidshalwe in kwarantyn in die destydse City Park-hospitaal in Kaapstad te hou.

“Hulle het gevra waarvan ek hou, en toe grap ek Nederburg-witwyn en salm. Dit was my stapelvoedsel.”

“Ek is vyf dae lank afgesonder. Ek het nie geweet wat fout is soos nou met corona nie. Sielkundig was dit erg, want dit het gevoel asof ek elke dag my laaste maaltyd kry. Dit was soos om in ’n dodesel te wees.

“Hulle kon my nie antibiotika gee nie, want dan sou hulle nie met toetse kon vasstel wat verkeerd is nie. Dit het my banger gemaak omdat hulle my nie behandel het nie.”

Eindelik is ’n spesialis in tropiese siektes uit Pretoria ingevlieg.

Hy het bevind Corrie het ’n virus ingekry uit melk wat nie gepasteuriseer was nie en swarttongsiekte opgedoen.

“Die spesifieke virus, Brucella, kan nie onder 14 °C leef nie. Die trope is mos warm.

Die hospitaalkamer se temperatuur is op sy minimum gestel en al my komberse verwyder. “Die verkoeling van my kamer het my gesond gemaak.

“Toe ek gesond daar uitstap, was dit asof my lewe weer begin het,” vertel Corrie.

Grieppandemies – die grootstes nog

Op ’n vyfpuntskaal wat die erns van grieppandemies meet, het vyf pandemies die afgelope 130 jaar twee punte of hoër gemeet.

1889-’90 se griep:

Daar word geskat dat tussen 300 miljoen en 900 miljoen mense daaraan siek geword het – en 900 miljoen was toe die helfte van die wêreldbevolking. Een miljoen sterftes is aangeteken.

1918-’20 se Spaanse griep:

Dit word as die “dodelikste grieppandemie” nog geklassifiseer en het twee jaar voortgeduur. Bykans 500 miljoen mense het Spaanse griep opgedoen, een derde van die destydse wêreldbevolking. Dit het sowat 50 miljoen lewens geëis.

1957-’58 se Asiatiese griep:

Dié griep het tussen 250 miljoen en 1 miljard mense siek gemaak, meer mense as die Spaanse griep. Maar die sterftesyfer was veel laer – tussen 1 en 4 miljoen.

1968-’69 se Hongkong-griep:

Soos die Asiatiese griep het dit tussen 250 miljoen en 1 miljard mense getref, met dieselfde sterftesyfer.

2009-varkgriep:

Daar word geraam dat dié griep by tussen 700 miljoen en 1 miljard mense gediagnoseer is. Tot 575 000 mense het gesterf.

Jou vrae beantwoord

MOET JY ’n MASKER DRA?

Al vlieg maskers van die rakke af in Amerika en Brittanje, is dit nog onseker hoeveel beskerming dit bied.

Chirurgiese maskers vir mense wat met COVID-19 siek is, kan die verspreiding van besmette deeltjies beperk, maar dit nie heeltemal keer nie, sê prof. Anton Stoltz van die Universiteit van Pretoria.

Weens die wêreldwye aanvraag na maskers word gevrees dat Suid-Afrika binne ses maande ’n tekort daaraan sal hê.

“Gesigmaskers moet beperk word tot gesondheidspraktisyns, siek individue met ’n produktiewe hoes en die versorgers wat na hulle omsien,” sê die epidemioloog dr. Sibongile Walaza.

KAN VITAMIEN C HELP?

Daar word bespiegel hoë dosisse vitamien A, C en D kan die virus help behandel, maar daar is geen bewys hiervoor nie én oordosering kan tot nier- en lewerskade lei.

HELP DIE GRIEPINSPUITING?

Omdat COVID-19 so nuut is, sal die griepinspuiting jou nie daarteen beskerm nie. Tog beveel NIOS aan Suid-Afrikaners kry die inspuiting – nie net om griep af te weer nie, ook om hul immuunstelsel so gesond as moontlik te hou, verduidelik Sibongile.

KAN ANTIBIOTIKA HELP?

Nee, antibiotika help slegs vir bakteriële siektes, nie teen virusse nie. Dieselfde medikasie wat griepsimptome verlig, kan slegs verligting bring vir pyn en koors.

KAN JOU TROETELDIERE BESMET WORD?

Omdat die virus vermoedelik deur vlermuise na die mens versprei is, is mense bekommerd hul katte en honde word ook besmet.

Maar daar is nog geen bewyse dat die virus van die mens na troeteldiere oorgedra word nie.

IS DIT VEILIG OM TE REIS?

Anton sê mense moet dit vermy om na COVID-19-brandpunte te reis. Die gevaarlikste deel is lugreise. “Sê nou daar sit iemand op die vliegtuig naby jou wat dit het? En dan wanneer jy van die vliegtuig af klim, moet jy in toue staan, en wanneer jou paspoort aan jou teruggegee word of jy geld verruil, is daar ’n kans dat jy besmet kan word.”

Hy sê as reis onvermydelik is, moet jy versigtig wees en vra om verskuif te word as jy langs iemand sit wat hoes of kort-kort nies.

HOE BANG MOET EK WEES?

“Die algemene publiek moet waaksaam wees, maar nie angstig nie, en onthou om net op betroubare bronne van inligting vir nuus staat te maak en nie alles te glo wat in die sosiale media versprei word nie,” sê Sibongile.

Onthou net meer as 80% van mense wat dit opdoen se simptome is so matig hulle het nie eens mediese sorg nodig nie.

“En selfs in die hoërisikogroep sal die groot meerderheid mense dit oorleef,” beklemtoon prof. Chris Whitty, hoofmediese beampte van Engeland. Wetenskaplikes meen die virusuitbreking sal ses maande duur, ná twee tot drie maande ’n spits bereik en dan eindelik ná ses maande doodloop.

Dit kan dan endemies word en elke winter saam met ander griepstamme terugkeer, maar hopelik sal ’n entstof dan al beskikbaar wees.

Ekstra bronne: BUSINESSINSIDER.CO.ZA, GUARDIAN.CO.UK, NATIONALGEOGRAPHIC.COM, BBC.COM, DAILYMAIL.CO.UK, NATIONAL PUBLIC RADIO US, THE GUARDIAN, CNN, TIME.COM, LIVESCIENCE.COM, THE TELEGRAPH UK, UNESCO
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.