As jy dus weens jou ouderdom of ’n ernstige langtermyn-gesondheidsprobleem soos long- en hartsiektes, hoë bloeddruk, diabetes, kanker en ’n aangetaste immuunstelsel aan so ’n groter risiko onderhewig is, is dit by uitstek belangrik dat jy stappe neem om jou kanse om COVID-19 op te doen te verminder, benadruk die Amerikaanse Centers for Disease Control and Prevention (CDC).

Jy moet voortdurend daarop let om ’n veilige afstand tussen jou en ander te handhaaf. Wanneer jy moet uitgaan, moet jy veral nabye kontak beperk, mense wat olik is vermy en jou hande gereeld en deeglik was.

Die CDC se algemene riglyne vir mense in hoërisiko-kategorieë sluit voorts in:

  • Vermy groot groepe mense.
  • Vermy lugreise tensy absoluut noodsaaklik.
  • Veral wanneer COVID-19 in jou gemeenskap uitbreek, moet jy so ver moontlik tuis bly om jou risiko vir blootstelling aan die virus verder te verminder.
  • Jy kan geriefshalwe ekstra voorsiening maak vir kruideniersware en huishoudelik items soos skoonmaakmiddels, maar behoort veral op noodsaaklikhede soos voorskrifmedisynes te fokus. Jy kan ter voorsorg met jou gesondheidsorgverskaffer skakel oor die verkryging van ekstra voorraad noodsaaklike medikasie ingeval daar ’n COVID-19-uitbreking in jou gemeenskap is en jy ’n lang ruk tuis moet bly. Jy kan natuurlik ook medisyneafleweringsdienste oorweeg.
  • Jy kan voorts seker maak jy het oor-die-toonbank-medisyne vir die verligting van koors en ander simptome soos ’n droë hoes asook dinge soos snesies tuis byderhand. Die meerderheid mense kan tuis van COVID-19 herstel. Maar moet dit ook nie oordoen nie, anders sit jy dalk later met ’n oorskot produkte wat net gaan verstryk.

Veral sulke mense moenie die daaglikse voorkomende maatreëls wat almal maar moet volg verwaarloos nie. Volgens die CDC sluit dit in:

  • Was jou hande deeglik vir minstens 20 sekondes met seep en water, in die besonder wanneer jy in openbare ruimtes was, of nadat jy gehoes, genies of jou neus gesnuit het. As jy nie dadelik seep en water byderhand het nie, gebruik ’n handskoonmaakmiddel met ’n ontsmettingsbestanddeel soos alkohol daarin.
  • Probeer so ver moontlik om nie aan oppervlakke te vat wat gereeld in openbare plekke aangeraak word nie – byvoorbeeld hysbakknoppies, deurhandvatsels en handrelings. Jy kan byvoorbeeld jou mou of ’n snesie gebruik as jy aan iets moet raak. Vermy dit natuurlik om met mense hand te skud; die meeste sal teen dié tyd verstaan. Moenie aan jou gesig vat as jy uit was en voor jy jou hande deeglik gewas het nie.
  • Groot groepe mense moet veral in ruimtes met swak ventilasie vermy word. Die risiko van blootstelling aan respiratoriese virusse soos COVID-19 verhoog uiteraard in toe ruimtes met min lugsirkulasie as daar besmette individue onder ’n groep mense is.
  • “Sosiale distansiëring” is nou 'n gonswoord. Volgens SA se Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) is ’n veilige afstand van ander om die verspreiding van die virus te bekamp minstens een meter, verkieslik verder.
  • NIOS benadruk ook dat mense in snesies of, by die gebrek daaraan, in die waai van hul arm moet hoes of nies, en dadelik van sulke weggooibare papier ontslae moet raak en weer hul hande daarna moet was.
  • Verbeter ook die lugvloei in leefruimtes tuis deur deure en vensters so ver moontlik oop te maak, is hul raad.

As jy siek raak

Veral hoërisikogroepe sal natuurlik baat vind by ’n gereedheidsplan vir ingeval hulle siek raak. Vra jou gesondheidsorgverskaffers vroegtydig vir meer inligting oor hoe om jou gesondheid en moontlike COVID-19-simptome te monitor, is die CDC se raad.

Behou kontak met ander via foonoproepe, WhatsApp, enige sosiale media en e-pos. Jy gaan dalk familie, vriende, bure en gemeenskapsgesondheidswerkers se hulp nodig hê as jy siek raak.

Oorweeg maniere hoe kos na jou huis toe gebring kan word, byvoorbeeld deur familie en sosiale of gemeenskapsondersteuning- of handelsnetwerke. Bepaal vroegtydig wie versorgers kan wees as jy en/of jou maat siek raak.

Bel jou gesondheidsorgverskaffer as jy simptome bespeur wat moontlik daarop dui dat jy COVID-19 onder lede het, byvoorbeeld koors, droë hoes, kort asem en seer lyf (sien ook skakels aan einde vir meer inligting hieroor). Só kan hulle help dat die regte stappe geneem word om na jou om te sien en te help verhinder dat ander aan die virus blootgestel word.

Ander moet ook oueres en meer kwesbares help

Elke gesondheidsorganisasie beklemtoon dat jonger en gesonde mense die meer kwesbares in samelewings oral teen die coronavirus moet help beskerm: Allereers deur voortdurend daarop te let dat die virus ons almal kan besmet en almal dit dan na wel kwesbaarder mense kan versprei – al sal jyself nie noodwendig noemenswaardig siek raak of selfs enige simptome toon nie. Daarom behoort almal gesondheidsliggame en regerings se voorsorgriglyne ernstig op te neem.

Almal kan voorts ook kyk hoe hulle kwesbaarder geliefdes en ander lede van hul plaaslike gemeenskap kan bystaan, byvoorbeeld deur te help seker maak dat hulle die nodige medikasie het en hulle nie onnodig hoef uit te gaan vir kos en ander aankope nie.

  • Die nasionale coronavirus-hulplyn is 0800 029 999 (8 vm – 4 nm, weekdae). Besoek ook die regeringswebtuiste sacoronavirus.co.za vir omvattende inligting, insluitend riglyne oor hoe om jou teen die virus te beskerm asook die jongste statistieke oor die virus in Suid-Afrika.

    Bronne: cdc.gov, who.int, nicd.ac.za
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.