Don Williams, die "sagte reus" van country-musiek het Vrydag na 'n kort siekbed in die ouderdom van 78 gesterf.

Troy Gentry (50), lid van die bekende groep Montgomery Gentry, het dieselfde dag in 'n helikopter-ongeluk gesterf. 

Don Williams

Kyle Young van die Country Music-heldesaal en museum, het gesê Don se musiek sal vir ewig vertroosting in moeilike tye bring.

“Elkeen wat country-musiek met elegansie, intelligensie en ’n tydlose boodskap sal dit doen op die skouers van hierdie reus,” het hy gesê.

Don, van Portland in Texas, se ma het hom leer kitaar speel. Na ’n paar draaie in die musiekwêreld keer hy terug na Texas en verkoop meubels in sy pa se winkel.

Kort voor lank het “Cowboy” Jack Clement hom ingespan as ’n liedjieskrywer. Die Cowboy het ook in Don se talent as sanger geglo en in 1972 reik hy sy eerste country-liedjie uit: “Don’t You Believe”.

Sy musiek raak gewild wêreldwyd. Die Londense Country Music People-tydskrif se lesers het in 1980 vir Don gestem as die kunstenaar van die dekade.

Die ouer garde mag onthou dat hy in twee van Burt Reynolds se flieks verskyn het. In 1975 is dit in W.W. and the Dixie Dancekings en in 1980 in Smokey and the Bandit II.

Hy het 17 keer die eerste posisie op die Amerikaanse treffers beklee. Van sy gewildste bydraes tot country-musiek sluit in:  I Believe in You, Lord, I Hope This Day Is Good, You’re My Best Friend, Some Broken Hearts Never Mend en Till the Rivers All Run Dry.

Eric Clapton het sy We’re More Than Friends en Pete Townsend het Till The Rivers All Run Dry opgeneem.

Verlede jaar is daar hulde aan hom gebring met ’n album getiteld Gentle Giants: The Songs of Don Williams. Garth Brooks en Lady Antebellum sing van sy treffers op die album.

Don se laaste album is in 2014 uitgereik.

Troy Gentry

Troy Gentry (50) en Eddie Montgomery het groot aanhang onder country-musiekliefhebbers  as Montgomery Gentry geniet sedert hulle meer as 20 jaar gelede in ’n kroeg in Lexington, Kentucky, opgetree het.

Troy was luidens berigte Vrydag per helikopter op pad na een van hul vertonings in New Jersey.

Die polisie het ’n noodoproep ontvang wat daarop gedui het dat die helikopter in die moeilikheid is. Dit het egter by die lughawe neergestort met nooddienste se aankoms op die toneel.

Richard Meder, polisiehoof van Medford, het gesê reddingspanne het vir ure gewerk om James Evan Robinson (30), die vlieënier, uit die wrak te verwyder.

Beide is met hul aankoms by die hospitaal dood verklaar.

Lede van die Montgomery Gentry-orkes asook Eddie was op die lughawe toe die tragedie hom afgespeel het.

Die legendaries digter, Maya Angelou, het Montgomery Gentry genooi om in 2007 haar optrede by die Tennesse Performing Arts-sentrum te open.

Sy het gesê hulle musiek is ver verwyderd van die musiek waarvan sy gewoonlik hou, maar hulle is haar “seuns”.

Die groep het die afgelope drie jaar reeds verskeie hartseer in hul eie lewens gehad. Troy se broer, Keith, het in 2014 gesterf. Sy pa, Lloyd Gentry, is verlede maand op 13 Augustus oorlede.

Eddie se 19-jarige seun het ook twee jaar gelede in ’n ongeluk gesterf.

Twitter treur

Huldeblyk aan Don en Troy

Bronne: usatoday.com, theguardian.com, rollingstone.com