Byna twee maande lank is die hele land al as’t ware in huisarres. Selfs die gelukkigstes onder ons, in gerieflike woonplekke met tuis­vermaak en ons gesinne by ons, kla soms omdat ons nie na willekeur kan rondbeweeg nie. Sommige van ons raak rebels omdat daar vir ons voorgeskryf word wat ons mag doen, hoe laat ons dit mag doen en waar.

Ons beleef die emosionele toestand bekend as kajuitkoors en verlang na vriende of verre familielede.

“Ek kan gek word; wanneer gaan dit end kry?” hoor jy gereeld . . .

Kortom, ons het tydens die afge­lope weke van inperking begin besef wat die gevangenes in ons tronke reeds weet: Om jou vryheid ontneem te word is moeilik en traumaties.

Volgens die departement van korrektiewe dienste (DKD) se jongste jaarverslag is daar minstens 163 000 mense in 243 tronke in die land, waarvan sowat 48 000 verhoor­afwagtend is. Die verlies aan vryheid is vir die veroordeelde misdadigers en verhoorafwagtende beskuldigdes ’n alledaagse werklikheid, maar weens die gevaar van die coronavirus is die lewe agter tralies nóg erger. Want die virus kan immers ’n ander soort vonnis beteken – dié van die siekte COVID-19, en moontlik die dood.

Meer as 95% van al die gevangenes in die land is mans, wat volgens baie kenners vatbaarder vir die virus en ernstige simptome as vroue is.

In ’n poging om infeksies in tronke te beheer het pres. Cyril Ramaphosa op 8 Mei gelas dat 19 000 paroolafwagtende “laerisiko”-gevangenes vrygelaat word. Dit is gedoen om ons tronke leër te maak sodat sosiale distansiëring en ­higiëne beter agter tralies toegepas kan word.

Nogtans was daar kort voor druktyd al minstens 605 bevestigde gevalle van COVID-19 in die land se tronke. Van hulle is 186 tronkbeamptes en 419 gevangenes; 118 mense het al herstel.

Alle besoeke aan gevangenes is vir ’n onbepaalde tydperk gekanselleer om die verspreiding van die virus in tronke te probeer vertraag, sê Singabakho Nxu­malo, ’n DKD-woordvoerder. Boonop mag ge­vangenes geen pakkies ontvang nie uit vrees dat die verpakking of inhoud besmet kan wees.

Volgens hom mag gevangenes wel ­telefonies met hul naastes praat.

Maar die familielede van verskeie gevangenes in opspraakwekkende sake, onder wie beskuldigdes wat nog veroordeel of gevonnis moet word, het aan Huis­genoot vertel hulle kan nie dié gevangenes agter tralies telefonies bereik nie.

Hulle is angstig om te weet of hul familie­lede in die tronk veilig is, want die DKD maak nie bekend in watter tronke COVID-19 al voorgekom het nie.

Dit is ook onseker wanneer party se verhore hervat sal word – wat spannend en traumaties is vir die families van slagoffers wat na afsluiting smag.

En terwyl die res van die land dalk min simpatie het met die veroordeelde misdadigers en verhoorafwagtende beskuldigdes wat agter tralies wonder of die virus hulle sal tref, gaan slaap dié gevangenes se naastes snags met die vrees: Wat as die virus die tronk bereik?

Huisgenoot het gepraat met van dié mense wat besorg is oor die impak van die pandemie op gevangenes wat reeds ’n permanente inperking ervaar.

Oscar Pistorius (33)

Die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius, wat sy mo
Die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius, wat sy moord­vonnis in die Atteridgeville-gevangenis in Pretoria uitdien.

Die voormalige Paralimpiese lemnaeler dien steeds sy vonnis van 13 jaar en vyf maande uit vir die 2013-Valentynsdagmoord van sy vriendin, die model Reeva Steenkamp, in sy huis in Pretoria se Silver Lakes-landgoed.


Oscar, wat eers oor meer as twee jaar vir parool in aanmerking sal kom, het ’n enkelsel in die Atteridgeville-gevangenis buite Pretoria. Sy pa, Henke (59), sê sedert die begin van die inperking op 27 Maart het hy geen kontak met Oscar gehad nie.

“Ek is bekommerd oor hom. Dit is nou meer as ’n maand dat hy geen oproepe kon maak nie. So ons kan ook niks uitvind nie. Ons probeer self kontak met die tronk maak, en om terugvoering te kry.”

Henke verstaan dat tronkbesoeke weens die virus opgeskort moes word.

Die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius, wat sy mo
Die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius, wat sy moord­vonnis in die Atteridgeville-gevangenis in Pretoria uitdien, se pa, Henke, wat hom destyds in die hof kom ondersteun het, mag sy seun glad nie tydens die corona-­inperking besoek nie. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Dit gaan so oor die hele land.”

Hulle gaan los egter steeds pakkies by die tronk se ontvangs vir Oscar “sodat hulle dit kan nagaan en doen wat hulle moet”.

Hy kan nie bevestig dat die pakkies ­Oscar bereik nie, maar sê “die integriteit van dié tronk is bo verdenking”.

Volgens Henke is hy so bekommerd oor Oscar wat die virus kan kry soos oor homself wanneer hy supermark toe gaan.

“Daar is heelwat gevangenes in Atte­ridgeville, maar wat my groter rustigheid gee, is dat ons bevestiging kon kry dat daar nog geen gevalle aangemeld is nie. Anders het ek lankal in my kar geklim en self gaan kyk.”

Tharina Human (27)

Tharina Human (links), Laetitia Nel en Pieter van
Tharina Human (links), Laetitia Nel en Pieter van Zyl, beskuldig van die ontvoering van ’n sesjarige meisie, se saak kon nie in Maart voorkom nie.

Die onderwyseres het die land laat gons nadat sy aangekla is van die ontvoering van ’n jong meisie van die Vaaldriehoek.

Sy is verhoorafwagtend in die vroueafdeling van Johannesburg Sentraal, waar die eerste COVID-19-­tronkgeval op 21 April by ’n bewaarder gediag­noseer is.

Tharina se pa, Riaan Botha (67), vertel hy het tans geen kontak met haar nie.

“Dit is ’n nagmerrie. Al wat ek weet, is Liewe Jesus hou sy hand oor haar.”

Tharina en haar medebeskuldigdes, Laetitia Nel (40) en Pieter van Zyl (50), is verlede September aangekla van die ontvoering van die dogtertjie uit die parkeerterrein van ’n laerskool in Vanderbijlpark. Sy is uit haar ma se arms geruk, in ’n wit Toyota Fortuner geboender en 19 uur lank aangehou voor sy in ’n donker straat aan haar eie genade oorgelaat is. Daarna is nog ’n verdagte, Bofokeng ­Molemohi (24), in hegtenis geneem.

Tharina se pa, Riaan Botha.
Tharina se pa, Riaan Botha.

Die beskuldigdes sou op 27 Maart weer in die hof verskyn het, dié keer om ’n verhoordatum in die hooggeregshof te bepaal, maar weens die virus is die verrigtinge tot 27 Mei uitgestel. Riaan weet ­egter nie of die saak dan sal kan voortgaan nie.

“Ek en my dogter het al meer as 50 dae geen kontak nie. Hoeveel vroue hulle in ’n sel is, weet ek nie. Baie. Ek kan dit nie verstaan nie. Hoe laat die president ander uitkom, maar hulle, wat nog verhoorafwagtend is, moet bly? Tharina is nog nie eens skuldig bevind nie,” sê hy.

Die familie van die ontvoerde meisie, wat ná haar traumatiese belewenis met haar ouers herenig is, wag ook steeds op antwoorde terwyl die verhoor op ys is.

Teen druktyd is 16 gevalle van COVID-19 in Gautengse tronke bevestig – die derde hoogste tronksyfer in die land.

Xander Bylsma (21)

Xander Bylsma saam met sy ouers, Monte en Mercia B
Xander Bylsma saam met sy ouers, Monte en Mercia Bylsma.

Weens die pandemie en inperking het Xander, wat skuldig bevind is aan die moord op twee tienermeisies in die skoolkoshuis van die Hoërskool Stella in Noordwes, op 13 Mei sy mondigwording sonder enige besoekers in die Rooigrond-gevangenis gevier. Sy vonnisverrigtinge moes van 18 tot 20 Mei plaasvind.

Hy het egter net die Maandag vlugtig verskyn.

“Ons was daar en hy was daar. Xander lyk heel orraait. Hy lyk goed,” sê Conrad Bester, sy prokureur van Jan Kempdorp in die Noord-Kaap.

Conrad en adv. Sakkie Nel van Kimberley het na die hooggeregshof in Mmabatho in Noordwes gery sodat die verrigtinge uitgestel kon word omdat hulle nog op die voorvonnisverslag wag. Volgens Conrad is die opstel van die voorvonnisverslag weens die reis­beperkings vertraag.

“Die vonnisprosedure sal nou eers van 5 tot 7 Augustus kan hervat. Ons het nou nie so gepraat oor die virus en die impak op hom nie, maar ek weet hy mag in hierdie stadium geen besoekers ontvang nie,” sê Conrad.

Regter Ronald Hendricks het Xander op 17 Februarie skuldig bevind aan die moord op sy eksmeisie Sharnelle Hough (17) en haar boesemvriendin, Marna Engelbrecht (16).

Hy het die meisies in die oggendure van 26 Mei 2018 in die koshuis van die Hoërskool Stella verwurg. Sharnelle se lyk het van die trap­reling gehang en Marna is sittend in ’n bad aangetref.

Xander ontken steeds skuld.

Ronnie Hough, pa van die vermoorde Sharnelle Hough
Ronnie Hough, pa van die vermoorde Sharnelle Hough.


Vir Ronnie Hough, Sharnelle se pa, is dit erg dat hy weens die pandemie en inperking selfs langer op afsluiting en geregtigheid sal moet wag.

“Wat kan jy maak? ’n Mens moet seker maar nou net die regte kanale volg sodat dié ding kan klaarkom,” sê hy.

Henri van Breda (25)

Die gesinsmoordenaar Henri van Breda. Foto: Gallo
Die gesinsmoordenaar Henri van Breda. Foto: Gallo Images/Getty Images

Henri is op 21 Mei 2018 in die hoog­geregshof in Kaapstad skuldig bevind van die bylmoorde van sy pa, Martin (54), sy ma, Teresa (55), en broer, Rudi (22), in Januarie 2015. Hy is drie lewenslange vonnisse opgelê.

Hy het nog 15 jaar tronkstraf gekry vir poging tot moord op sy suster (toe 16) tydens die bloedbad in die gesin se woning op die De Zalze-landgoed buite Stellenbosch. Henri dien sy tronkstraf uit in die Drakensteingevangenis naby die Paarl.

Sy oom André van Breda sê hulle het geen beheer oor die virus en die toestande in die tronk nie.

Die gesinsmoordenaar Henri van Breda se oom André
Die gesinsmoordenaar Henri van Breda se oom André van Breda vertel hulle kan net glo en vertrou dat die Drakensteingevangenis, waar hy sy vonnis uitdien, die nodige wetgewing sal volg om die mense daarbinne veilig te hou.

“Ons kan net glo en vertrou dat die Drakensteingevangenis die nodige wetgewing volg om die mense daar binne veilig te hou. Ek het baie hoë agting vir daardie personeel.”

Volgens die DKD-statistieke het die Wes-Kaap se tronke kort voor druktyd die tweede hoogste voorkoms van COVID-19 gehad met 134 bevestigde gevalle.

Christopher Panayiotou (33)

’n Familielid van Christopher Pana­yio­tou, wat sy
’n Familielid van Christopher Pana­yio­tou, wat sy vrou laat vermoor het, meen dit is vreesaanjaend dat die tronke deur COVID-19 getref is. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hy is lewenslank tronk toe gestuur nadat hy in April 2015 drie mans gehuur het om sy onderwyseresvrou, Jayde, buite hul meenthuis op Uitenhage te ontvoer en vermoor. Hy is in die St. Albans-gevangenis buite Port Elizabeth.


’n Familielid van Christopher, wat anoniem wil bly, sê die familie is vreesbevange.

Die Oos-Kaap het volgens die DKD die hoogste voorkoms van COVID-19 landwyd, met 414 bevestigde gevalle.

“Ons het juis gedink gevangenisse sal die veiligste wees, maar dinge lyk rof. Ons weet steeds nie wie die virus in die tronke oorgedra het nie. Dalk die tronk­bewaarders? Of nuwe mense wat ingekom het?

“Dit is geensins maklik vir ons as familie nie. Ons is heeltyd bekommerd,” vertel hy.

“Dis nou al twee maande dat Christopher nie meer besoekers ontvang nie. Dit maak dit moeilik vir hom, want hy kry geen ondersteuning nie. Daar is geen kommunikasie van die tronke na die families oor wat hulle doen om die mense veilig te hou nie.

“Ons kan maar net hoop en glo hulle het wetgewing in plek om almal veilig te hou.”

Morné Harmse (29)

Morné Harmse in 2008 in die hof. Hy kry ondersteun
Morné Harmse in 2008 in die hof. Hy kry ondersteuning by sy ouers, Machiel en Liza.

Hy is al 12 jaar agter tralies nadat hy op 18 Augustus 2008, destyds as ’n matriekleerder aan die Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs in Krugersdorp, ’n handgemaakte gruwelmasker oor sy kop getrek en met ’n samoeraiswaard skool toe is.

Daar gekom, het Morné (toe 18) die 16-jarige Jacques Pretorius doodgekap. Hy het nog ’n leerder en twee werkers beseer voor sy aanval gestuit is.

Morné is vir 20 jaar tronk toe gestuur nadat hy op alle klagte skuld beken het.

Sy pa, Machiel (51), en ma, Liza (50), lê nog al die jare gereeld die 100 km af van hul huis in Krugersdorp na die Zonderwatertronk buite Cullinan om hom te besoek. Maar die afgelope twee maande kon hulle nie.

“Die laaste keer toe ons daar was, het hy vir my gesê: ‘Pa, ons is ook in lockdown, maar ek is oukei.’ Dit is al wat ’n ouerhart wil hoor,” vertel Machiel.

“Alles is geslote daar. Hy kan ons nie bel nie, en sover ek verstaan, is al die seksies van mekaar afgesluit. Ek kon darem by hom kry wat hy nodig het. Ons kan ’n koopbewys van die plaaslike supermark stuur en die bewaarders gaan haal dit,” vertel Machiel.

“Hulle kan nie goed kry soos sigarette nie. Maar wel die basiese dinge, jy weet, soos seep.”

Morné sou in Junie vanjaar in aanmerking gekom het vir parool omdat hy reeds sy minimum vonnis (50% van sy vonnis) uitgedien het. Maar weens die virus is sy gesin nou in die duister daaroor.

“Dit is moeilik vir ons, maar as ons oor drie of wat maande ­terugkyk, sal ons verstaan hoekom. Hulle weet wat hulle doen,” sê sy pa.

Inperking binne die inperking

Die departement van korrektiewe dienste (DKD) wil alle gevangenes beskerm; daarom is besoeke “tot verdere kennisgewing opgeskort”, sê ’n DKD-woordvoerder, Si­ngabakho Nxumalo.

Tronkowerhede het nog nie die kapasiteit om alle besoekers vir simptome van COVID-19 te skandeer nie.

“Ons wil dit eindelik wel doen sodat besoeke kan hervat, maar weet nie wanneer dit sal wees nie.”

Dié owerhede het ook nog nie die ka­pasiteit om pakkies te ontsmet voor dit aan gevangenes oorhandig word nie.

Hy sê die departement probeer die gevangenes bystaan deur vir hulle bankrekeninge te open waarin hul geliefdes geld kan deponeer vir basiese aankope by tronkwinkels. Singabakho sê dit is “onsin” dat geen telefoonoproepe moontlik is nie.

“Gevangenes word steeds toegelaat om hul geliefdes te bel.”

Die DKD stel nie die syfers bekend van die tronke waar mense positief getoets het nie, vermoedelik om stigmatisering te voorkom. Singabakho beklemtoon dat streng voorkomende stappe gedoen word.

“Streng sosiale distansiëring word gehandhaaf. Gevangenes sal steeds buite toegelaat word, maar verskillende afdelings sal op verskillende tye uit hul selle gelaat word. Tronkpersoneel word ook streng gemonitor sodat hulle nie die virus in die tronk inbring nie.

“Daar is gesondheidswerkers by al die tronke. Hulle is toegerus met die nodige beskermende toerusting en sal enige nodige hulp verleen.”

Volgens Singabakho is daar ’n lys aangewese hospitale wat gevangenes sal opneem as hulle met COVID-19 siek sou word. Die departement ontsmet ook tronke waar gevalle reeds voorgekom het.


Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.

FOTO'S: PAPI MORAKE, GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GALLO IMAGES/FOTO24/FELIX DLANGAMANDLA, GALLO IMAGES/NETWERK24/DEON RAATH, GALLO IMAGES/THE TIMES/ALON SKUY