Selfs die Europese adel spring dit nie vry nie. Aartshertog Karl von Habsburg (59) van Oostenryk is in selfisolasie; daar word elke tweede dag kruideniersware vir hom by sy deur afgelaai.

Hy sê hy is piekfyn en vind die siekte “irriterend”.

“Ek het gedink dis net die gewone verkoue. Toe ’n vriend my laat weet hy het positief vir die coronavirus getoets tydens ’n kongres in Switserland, is ek ook getoets.” Hy het die grootste lof vir die manier waarop dit deur die Oostenrykse owerhede hanteer is en sê dat daar nie paniek in die prentjie is nie.

Prins Albert II (62) van Monaco is sover bekend die tweede bloubloed by wie die virus gevind is.

’n Woordvoerder van die paleis het die aankondiging gemaak en gesê sy toestand is nie gevaarlik nie. Hy sal vanuit die privaatheid van die paleis met sy werksaamhede voortgaan.


Spanje se koning Felipe (52) en Queen Letizia (47) is intussen ook vir die virus getoets en is tot dusver nie deel van die land se coronavirusstatistieke nie. Hulle sal wel deurentyd gemonitor word. Daar is tot op hede meer as 18 000 gevalle in dié land aangemeld waarvan 831 mense gesterf het.

Koningin Elizabeth (93) en prins Philip (98) is intussen van Buckhinghampaleis na Windsorkasteel geneem om daar in isolasie te wees.
 
“Die koningin is enkele weke van haar 94ste verjaardag en haar raadgewers glo dis die beste om haar uit die risikogebied te vermy,” het ’n bron gesê.

Die bekende Britse akteur Idris Elba (47) is ook in selfisolasie nadat hy vroeër vandeesweek bekendgemaak het dat hy die siekte het.

Kristofer Hivju (41), wat die rol van Tormund in Game of Thrones vertolk, het ook COVID-19 onder lede. Hy en sy gesin is in isolasie in Noorweë.

Daniel Dae Kim (51), wat aan talle plaaslik bekend is as Chin Ho Kelly, een van karakters in die gewilde TV-reeks Hawaii 5-0, is ook positief getoets.

Hy is ook nou in isolasie in Hawaii.

Intussen word berig dat die akteur Tom Hanks (63) en sy akteurvrou, Rita Wilson (63), reeds uit die hospitaal ontslaan is maar nog in isolasie verkeer. Hulle voel glo “stukke beter”.

Bronne: nypost.com, cnn.com, hellomagazine.com, nytimes.com, aljazeerah.com

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.