Chris, wat in Despatch in die Oos-Kaap woon, was vir net meer as ’n 100 dae aan ’n ventilator gekoppel nadat hy in Oktober covid-19 opgedoen het. 

Hy word waarskynlik later vandeesweek ontslaan.  

Hoewel dié pa van drie, wat onlangs oupa geword het, huis toe gaan, lê daar steeds baie struikelblokke voor. 

Chris en Ilse voor hy covid-19 gekry het. Foto: Ve
Chris en Ilse voor hy covid-19 gekry het. Foto: Verskaf

“Ek het eers verlede week vir die eerste keer weer geloop. Ek moet heeltyd ’n suurstoftenk met my saamdra. As ek nie op suurstof is nie, val my suurstofvlakke sommer tot in die 30%,” vertel hy aan Huisgenoot

’n Gesonde mens se suurstofvlakke is volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) bo 94%.

Chris vertel hy kan nie veel onthou van daardie eerste 100 dae in die Life St. George-hospitaal in Gqeberha (voorheen Port Elizabeth) nie. 

Chris op sy 100ste dag in die hospitaal. Dit was o
Chris op sy 100ste dag in die hospitaal. Dit was ook die eerste keer dat hy weer sy vrou gesien het. Foto: Verskaf
Chris net voor hy met rehabilitasie begin het. Fot
Chris net voor hy met rehabilitasie begin het. Foto: Verskaf

“Ek was in ’n koma en het verskriklik gedroom. Maar ek onthou wel een gesprek wat die dokter met my vrou gehad het. Hy het vir haar oor die telefoon gesê sy moet my kom groet.

“Mense met beter stats as ek is rondom my dood en ek het gedink ek gaan dit nie maak nie. Ek het nie paniekbevange gevoel nie. Ek dink nie dit het heeltemal deurgedring nie,” sê hy. 

Minstens drie keer het dokters vir Chris se familie gesê hy gaan dit nie maak nie, maar elke keer, wonder bo wonder, het hy. 

Chris en sy vrou, Ilse, het albei middel Oktober verlede jaar covid-19 opgedoen. Ilse was olik, maar Chris het binne drie dae so versleg dat hy nie kon loop nie. 

“'n Ambulans het my kom haal. Ek is daardie selfde dag nog, 28 Oktober, op ’n ventilator gesit. My suurstofvlakke was toe 35%.” 

Elke keer wanneer dokters hom van ’n ventilator afgehaal het, moes hy binne ’n dag weer onder verdowing geplaas en geïntubeer word, want sy suurstofvlakke was gevaarlik laag en hy het gesukkel om asem te haal. 

“Een spesifieke keer het die dokter vir my vrou gesê hy gaan my van die masjien afhaal. Sy het vir nog tyd gesmeek en hy stem toe in dat hulle my op die ventilator sal los tot die volgende oggend. As ek nie ’n verbetering getoon het nie, sou hulle my afhaal. Maar die volgende oggend het dit beter gegaan,” vertel Chris. 

Op 6 Februarie is al die pype uit Chris se keel verwyder, maar hy kon nie sy arms of bene beweeg nie en ook nie praat nie. 

“Ek kon nie eens my hande beweeg om die laken reg te skuif nie. Daar was net niks krag binne my nie. My stembande het seergekry van al die pype, so ek moes weer leer praat ook,” sê hy. 

Chris sê hy was nog taamlik aktief voor sy opname in die hospitaal.

Chris het graag fiets gery. Foto: Verskaf
Chris het graag fietsgery. Foto: Verskaf

“Twee jaar gelede het ek nog in ’n kickboxing-toernooi deelgeneem. Ek het gereeld fietsgery. Ek het in die 90’s geweeg, maar ek weeg nou 67 kg,” sê hy. 

Nadat hy van die ventilator afgehaal is, is hy na ’n rehabilitasiesentrum geskuif, maar hy het bedsere op sy knieë gekry wat steeds besig is om te genees. 

“In St. George (hospitaal), terwyl ek op die ventilator was, het ek op my knieë gestaan en half vooroor gehang. Toe kry ek bedsere.

“Omdat ek so lank niks gedoen het nie, het my ligamente gekrimp. Ek het nou daagliks verskeie terapiesessies om dit te verbeter, maar ek kan steeds nie ’n vuis met my linkerhand maak nie. Ek het verlede week eers weer vir die eerste keer geloop.” 

Ilse het ook eers vir Chris in lewende lywe gesien nadat hy finaal van die ventilator af is. 

“Ons het mekaar vir 100 dae nie gesien nie. Sy was baie geskok toe sy my sien. Ek was fiks voor dit en nou is daar niks vet aan my lyf nie.”

Chris, wat voorheen ’n bestuurder van ’n fabriek was, kan nie terugkeer werk toe nie omdat hy steeds op suurstof is.

Chris was vir byna 180 dae in die hospitaal. Foto:
Chris was byna 180 dae in die hospitaal. Foto: Verskaf

“Dokters sê my longe het kwaai skade opgedoen en hulle dink nie dit gaan met tyd verbeter nie. Maar hulle het ook gesê ek gaan sterf. Dit is nou my doelwit om te oefen en van dié (suurstof)tenk langs my ontslae te raak. 

Chris en sy vrou Ilse in sy rehabilitasiesentrum.
Chris en sy vrou, Ilse, in sy rehabilitasiesentrum. Foto: Verskaf

“Ek gaan nou nie iemand op 100 m aanvat nie, maar ek leef. Ek vat dit dag vir dag en ek hou aan oefen om sterker te word.” 

Chris sê hy hoop sy storie gee aan die families van covid-pasiënte hoop. 

“Daar is altyd hoop. Byt net vas en wanneer jy in die oggend jou oë oopmaak, dank die Vader vir nog 'n dag,” sê hy. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe