Toe kondig hy op 25 Februarie aan hy skuif nou na ’n gemakliker stoel. Hy staan terug as hoof- uitvoerende beampte en word die uitvoerende voorsitter van die grootste droomfabriek in Hollywood. Maar in 'n ander land het ’n handjievol mense begin siek word.

Bob Iger. Foto: Wiktor Szymanowicz / Barcroft Medi
Bob Iger. Foto: Wiktor Szymanowicz / Barcroft Media via Getty Images

Dit het fluit-fluit gemaak van sy planne om af te skaal, want nou moet Bob Iger, Disney se grootbaas, van vooraf moue oprol en van dag tot dag inklim om die reusemaatskappy te help veg vir hul voortbestaan ná die geldelike slagting wat die COVID-19-pandemie meegebring het.

Met sy terugtrede vanjaar sou die swierige Amerikaner, wat lyk asof hy ’n James Bond-rol kon vertolk, een van die suksesvolste grootbase van die maatskappy wees.

Maar as gevolg van COVID-19 wat tot 'n globale krisis gelei het, is Bob (69) weer teruggeroep weke nadat hy afgetree het om uitvoerende voorsitter te word, om die maatskappy deur dié pandemie te stuur.

Hy het immers die Walt Disney-maatskappy 15 jaar lank tot groot suksesse gelei.

In sy tyd as grootbaas by Disney het die maatskappy se jaarlikse wins verdriedubbel, die aandeelprys is viervoudig en 16 rolprente het wêreldwyd meer as R18 miljard verdien.

Hy het ook verskeie maatskappye namens Disney aangekoop. Nou besit Disney ook Pixar (wat verantwoordelik is vir groot bekroonde animasieprente soos Toy Story en Coco), Marvel (wat superheldflieks soos Black Panther en die Avengers-reeks maak), Lucas Film (wat verantwoordelik is vir die Star Wars-fliekreeks) en het ook onlangs 21st Century Fox (wat onder meer flieks soos Avatar en Titanic gemaak het) gekoop.

En onlangs het Disney, die grootste mediamaatskappy ter wêreld, die stroomdiens Disney+ bekendgestel wat Netflix ’n skrik op die lyf gejaag het.

In 2019 was heelwat mense warm onder die kraag, soos die Disney-erfgenaam Abigail Disney (60), omdat sy jaarlikse salaris by die R3,2 triljoen konglomeraat, sowat 1 000 keer meer was as dié van ’n gewone Disney-werknemer.

Bob het verlede jaar 'n salaris van R1,1 miljard verdien en volgens Forbes is sy banksaldo R12,4 miljard sterk. Maar hoewel hy nou die kruin van sukses ry, het Bob glad nie die lewe van ’n Disney-prins gehad nie.

BOB EN SY SUKSESSE

Bob onthou sy pa, Arthur, was nooit tevrede met homself nie.

“In sy oë was hy ’n mislukking. Dis hoekom hy ons so gedruk het om hard te werk en produktief te wees sodat ons suksesvol kon wees op ’n manier wat hy nie was nie,” skryf Bob in sy outobiografie, The Ride of a Lifetime.

Sy manies-depressiewe pa het in die reklamebedryf gewerk en sy ma, Mimi, was ’n huisvrou. Saans het sy pa in sy slaapkamer ingeloer om te kyk of Bob iets “produktiefs” doen, soos skoolwerk. 

Dit het hom genoop om al op 13 te begin soek vir werkies, onthou die boorling van Oceanside, Long Island, New York.

“Ek was in gr. 8 en het sneeu opgeskop en babas opgepas en voorraad gepak by ’n hardewarewinkel.”

Op 15 het hy begin werk as ’n opsigter in sy skooldistrik en was verantwoordelik vir die skoonmaak van verwarmers en om die kougom van die skoolbanke af te krap.

"Die skoonmaak van kougom van duisende banke kan karakter of ten minste verdraagsaamheid vir eentonigheid of iets opbou," skryf hy.

Later jare het hy die Ithaca-kollege in New York bygewoon en byna elke naweek pizza by Pizza Hut gemaak.

Sy pa se verlede was altyd in sy kop.

“Ek het nie 'n duidelike idee van wat sukses beteken nie, geen spesifieke visie om ryk of magtig te wees nie, maar ek was vasberade om nie 'n teleurstelling te wees nie," skryf hy.

Hy het nie nodig gehad om homself daaroor te bekommer nie. Vandag is een van sy goeie vriende immers die kletskoningin Oprah Winfrey.

“Bob is een van die mense wat ek die meeste in die wêreld respekteer,” sê sy.

Bob was 23 jaar oud toe sy in 1974 ’n werk as ’n studio-toesighouer by ABC, wat ook besit word deur Disney, gekry het. Bob was eers ’n weerman en nuusverslaggewer by ’n televisiekanaal in Ithaca.

En sy toesighouerwerk was net die begin van groot dinge. Daarna het hy sowat 20 verskillende posisies by ABC Television gehad voor hy in 2005 as Disney se hoof- uitvoerende beampte aangewys is, berig CNBC.

Bob Iger en Willow Bay. Foto: Amy Sussman/Getty Im
Bob Iger en Willow Bay. Foto: Amy Sussman/Getty Images

In 1995 het hy en die voormalige joernalis Willow Bay (56), wat ’n gesig van Estée Lauder in die 1980's was, getrou. Hulle het twee kinders. Voor dit was hy getroud met Kathleen Susan Iger, by wie hy ook twee kinders het.

TOT SIENS, DISNEY?

Hoewel hy in 2019 deur die tydskrif  Time as “Hollywood se gaafste” grootbaas en die sakepersoon van die jaar aangewys is, het Bob al in 2013 besluit dit is tyd om sy rol as hoof- uitvoerende beampte van Disney vaarwel toe te roep.

Hy het dié plan sedertdien vier keer uitgestel. Maar nou is sy aftrede ’n vyfde keer uitgestel.

Die afgelope COVID-19-pandemie het daartoe gelei dat die maatskappy se koffers tot ietwat van ’n stilstand geruk is. Disney se pretparke, waarop derduisende Disney-aanhangers van regoor die wêreld daagliks toegesak het, is tot verdere kennisgewing gesluit.

Hul pretparke lyk soos spookdorpe en fliekteaters is gesluit waar Disney se groot flieks soos Mulan, Soul en Black Widow uitgereik moes word.

Disney maak gewoonlik miljoene by die loket met hul flieks, nou is die uitreiking van dié flieks as gevolg van dié coronavirus wêreldwyd uitgestel.

In Desember het die coronavirus in Wuhan, China, uitgebreek en in Januarie was Disney gedwing om hul pretpark in Sjanghai te sluit toe die virus begin versprei het.


Met die virus wat ál meer ’n bedreiging geraak het, het Disney vinnig planne beraam dat Bob se aftrede gefinaliseer word, sodat Bob Chapek (60), voormalige uitvoerende voorsitter, as die nuwe grootbaas aangestel kan word.

Bob Chapek. Foto: Jeff Gritchen/MediaNews Group/Or
Bob Chapek. Foto: Jeff Gritchen/MediaNews Group/Orange County Register via Getty Images


Alles is gefinaliseer en op 25 Februarie, midde die COVID-19-pandemie, is Bob se aftrede aangekondig. 

Die media het begin skinder hoekom hy so gou aftree en bespiegel oor wat gebeur het.

“Geen verrassings, niks verborge nie, niks anders of vreemds om oor te gis nie," het hy in ’n e-pos aan New York Times geskryf.

“Geen groot mediamaatskappy is meer afhanklik van hul kliënte se sosiale en fisieke nabyheid as Disney met sy temaparke en skepe,” skryf dié Amerikaanse koerant.

Die ander Bob, oftewel Bob C, was net ’n paar weke die grootbaas, toe word die ou Bob weer teruggeroep om die grootbaas vir nog so ’n rukkie te wees tot die wêreld uit sy inperking gelaat word en mense weer vryelik buite kan loop na fliekteaters en pretparke.

Bob se groot plan is nou op die herfinansiering van Disney wat ná die krisis diep verander sal word. “Dit bied 'n blik op die toekoms ná die pandemie: Dit is 'n Disney met minder werknemers, wat die nuwe en onseker onderneming lei oor hoe om mense vir vermaak veilig bymekaar te bring,” skryf die New York Times.

Ontleders het beraam dat die maatskappy 'n daling van besoekersgetalle van 11 miljoen in sy temaparke kan verloor teen 'n moontlike koste van R9 miljard. Bob het voorgestel dat besoekers se temperatuur getoets word wanneer die pretparke heropen, berig die Britse The Guardian.

Bob het al laat hoor dat Disney waarskynlik sal heropen met minder kantoorruimte. Hy het ook al gesê dat hy verwag dat die onderneming minder werknemers sal hê.

Sowat 43 000 Disney-werkers in Florida is reeds afgelê en hul laaste salaris was op 19 April.


Disney se pretparke en skepe het in 2019 R468 miljard gemaak. Daar staan tans drie skepe in Duitsland wat nog nie klaar gebou is nie en Disney wonder nou oor die toekoms van dié skepe.

Die Disney Magic-boot. Foto: Gary Hershorn/Getty I
Die Disney Magic-skip. Foto: Gary Hershorn/Getty Images


Disney besit ook die sportnetwerk ESPN en maak jaarliks miljarde uit sportgeleenthede, maar nou is al wat ’n groot sportbyeenkoms is gekanselleer.

En volgens die New York Times is Disney+, wat reeds meer as 50 miljoen intekenare het, nog net ’n belegging, dit is nog jare weg om enigsins wins te maak. Dinge lyk so erg vir Disney, wat tot voor die virus ’n Goliat in die vermaakbedryf was, dat hulle in Maart R108 miljard moes leen om die maatskappy deur die COVID-19 pandemie te kry.

Dus het Bob nie ’n keuse gehad om terug te keer na sy pos as grootbaas nie.

“’n Krisis van dié omvang en die uitwerking daarvan op Disney, sou noodwendig daartoe lei dat ek Bob (Chapek) en die maatskappy daarmee help, veral omdat ek die onderneming 15 jaar bestuur het,” het Bob gesê.

Bob se droom in 2018 vir sy aftrede was om op sy seiljag verkieslik iewers langs die kus van Italië te gaan vaar. En hy het toe “eerlikwaar geen visie oor wat my lewe ná Disney gaan wees nie”.

“Ek wil nie 'n ander onderneming bestuur nie. Ek glo nie dat ek die begeerte het om te werk nie,” het hy toe aan Vogue gesê. Toe hy die hoof- uitvoerende beampte van Disney was, het hy elke weekdag om 4:15 opgestaan.

“En as ek gelukkig is, staan ek 30 minute later op. Ek doen dit om verskillende redes. Sommige daarvan is net tydsbestuur. Ek werk graag - dit maak nie net my kop skoon nie, maar dien 'n ydele aar in my. En ek hou van stiltyd, die tyd om stil te wees, na te dink,” het hy in 2018 aan Vogue gesê. 

Ongelukkig gaan hy nog so ’n paar ekstra maande om 4:15 moet opstaan om aan te hou werk om Disney se ridder op ’n wit perd te wees.

BRONNE: CNBC.COM, NYTIMES.COM, BLOOMBERG.COM, THEGUARDIAN.COM, VOGUE.COM.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.