Net ’n paar weke gelede was Stuart (74) en Adrian Baker (72) van Florida in Amerika blakend gesond.

Hulle was langer as 51 jaar getroud en het hul aftrede geniet. Die twee was bekend daarvoor dat hulle onafskeidbaar was en nie een van hulle het enige tekens van ernstige siektetoestande getoon nie.

Iewers in Maart het hulle begin siek voel. 

Op Sondag 5 April het die egpaar ses minute uitmekaar weens komplikasies van COVID-19 gesterf, het hul seun Buddy Baker aan die plaaslike media gesê.

“Soos ek getwiet het, was my ouers 51 jaar getroud en so te sê onafskeidbaar. Hulle was nooit op verskillende plekke nie en hulle was selde in verskillende vertrekke,” sê Buddy.

“Ons baie bekommerd daaroor dat my ma alleen was . . . Ons sou by haar gaan kuier en sien sy is baie swak en loop moeilik.”

Volgens Buddy het Stuart en Adrian drie weke tevore dokter toe gegaan, want hulle het siekerig gevoel. Die dokter het gesê hulle het ligte longontsteking maar behoort vinnig te herstel en het hulle huis toe gestuur.

Ná ’n paar dae het hul simptome steeds nie verbeter nie. Toe beveel hul dokter aan hulle gaan hospitaal toe. Hulle is wéér huis toe gestuur, maar dié keer aangesê om selfkwarantyn toe te pas.

Maar op 19 Maart is hulle terug hospitaal toe. Stuart het koors en asma gehad en is opgeneem.

Maar Adrian het nie koors gehad nie en is daarom nie opgeneem nie.

Vyf dae later het die hospitaal hul seun gebel om te bevestig Stuart het positief vir COVID-19 getoets en die dokter het gesê dit lyk nie of hy gaan oorleef nie.

Buddy en sy suster het besluit om as voorsorgmaatreël hul ma hospitaal toe te neem. Binne 45 minute nadat hul ma opgeneem is, het die dokter gebel om hulle in te lig haar suurstofvlakke is baie laag.

Die verslae seun sê hy en sy suster het op aanbeveling van mediese kenners hul ouers na hospiessorg verskuif.

Sy ma en pa is na dieselfde kamer verskuif en van ventilators ontkoppel om gemaklik te wees.

“In die tydsbestek van sowat vyf tot ses uur het twee verskillende dokters my per foon ingelig dat elk van my ouers heel waarskynlik nie sou oorleef nie,” sê Stuart.

Hulle is binne minute van mekaar oorlede.

“Ons versoek was dat wanneer hulle van die ventilators afgehaal is, toegelaat sou word om in dieselfde vertrek te wees.

“Die hospitaal het hulle in dieselfde vertrek geplaas en hulle het ’n foto gestuur waarop hulle hande vashou (terwyl hulle verdoof is),” sê hy.

Buddy sê hy hoop sy familie se verhaal kan ’n dryfveer vir verandering wees. Hy noop mense om te luister na wat gesondheidsbeamptes sê: beoefen sosiale afstand, was jou hande gereeld en, allerbelangrik, bly by die huis.

Bronne: CNN, GMA, The Tribune