Ons praat oor: Studie wys medisyne verminder COVID-19-sterftes

’n Groot Britse navorsingstudie het gewys ’n sekere soort medisyne help dat minder mense wat baie siek is weens covid-19 doodgaan. Dié medisyne, deksametasoon, help om inflammasie te keer.

Inflammasie is wanneer jou lyf se immuunstelsel teen ’n besering of siekte baklei, wat dan pyn of swelling kan veroorsaak. Die navorsers het die medisyne vir pasiënte gegee wat weens covid-19 sukkel om self asem te haal en op ventilators is of ekstra suurstof moet ontvang.

Sonder die middel sterf sowat drie uit elke agt pasiënte wat ’n ventilator nodig het om mee asem te haal.

Maar deur deksametasoon aan sulke pasiënte te gee het net twee uit elke agt pasiënte gesterf. Die navorsers skat dat die medisyne tot 5 000 sterftes in Brittanje sou kon gekeer het as dokters dit al van die begin van die pandemie af gebruik het.

By party baie siek mense lyk dit asof hul immuunstelsel so hard teen die coronavirus probeer baklei dat dit kwaai inflammasie veroorsaak wat die pasiënt se lyf – veral die lugweë en longe – nog seerder maak. Dit lyk nou asof deksametasoon help om dié inflammasie te keer.

Dit is ’n groot deurbraak, veral omdat deksametasoon ’n bekostigbare soort medisyne is wat wyd beskikbaar is. Dit is die eerste middel wat dit regkry om sterftes weens covid-19 te verminder.

Die navorsers is so seker van hul resultate dat hospitale in Brittanje onmiddellik begin het om die medisyne aan mense wat baie siek is weens covid-19 te gee, al is die studie nog nie gepubliseer nie.

Voor enige groot wetenskaplike navorsing algemeen aanvaar word, moet dit gewoonlik eers in ’n gerespekteerde wetenskaplike tydskrif verskyn.

Maar voor dit gebeur, moet dit deur ’n proses gaan waar ander wetenskaplikes wat niks met die navorsing te doen gehad het nie dit deeglik deurgaan om seker te maak die regte prosedures is gevolg en sê hulle stem saam met die uitslae.

Hoe het die navorsing gewerk?

Die navorsing was deel van die “RECOVERY Trial” – ’n groot projek waardeur verskillende medisynes op covid-19-pasiënte getoets is.

Sekere pasiënte (altesaam 2 104 in verskillende hospitale) is lukraak gekies (dit beteken daar is geen rede of patroon vir watter pasiënte gekies word nie) om deksametasoon te kry en toe is hul resultate vergelyk met dié van 4 321 ander pasiënte wat nie die medisyne gekry het nie. Dié soort studie is ’n belangrike soort navorsing, veral in die mediese veld.

Omdat die mense wat die medisyne kry lukraak gekies word en die medisyne wat getoets word die enigste verskil is tussen hoe die twee groepe pasiënte behandel word, kan die wetenskaplikes dan duideliker sien of die medisyne enige uitwerking het.

Die RECOVERY Trial is die grootste van dié soort wat wêreldwyd gedoen word oor medisyne teen covid-19.

Foto van die week

Foto: Getty Images/Gallo Images
Foto: Getty Images/Gallo Images

Werkers in Duitsland sit vir ’n kameelperd van Lego-blokkies ’n masker aan. Die kameelperd is 7 m hoog en bestaan uit 45 000 Lego-stukkies. Hy staan by die Legoland Discovery Centre in Berlyn, Duitsland. Dié sentrum het onlangs weer oopgemaak nadat dit weens die inperking gesluit was.

Nuus van oor die wêreld

NOORWEË

Agt geboue verdwyn ná grondstorting

Agt geboue, meestal groot tweeverdiepingvakansiehuise, is tot in die see gestoot tydens ’n grondstorting in die Alta-omgewing in Noorweë. ’n Grondstorting gebeur wanneer klippe of grond teen ’n helling af skuif as gevolg van swaartekrag.

Dit word aan die gang gesit deur die stadige verweer van rotse of grond, en soms ook as gevolg van aardbewings of vulkane. Die grondstorting in Noorweë was die eerste in dié omgewing in 50 of 60 jaar.

Niemand het seergekry nie. ’n Hond is deur die bewegende grond tot in die see gestoot, maar kon tot by die kus swem waar ’n helikopter hom opgepik het.

Een van die inwoners het die grondstorting op sy foon vasgevang – gaan kyk die video by tinyurl.com/hgjuniorgrondstorting.

NIEU-SEELAND

Buurt sukkel met wilde hoenders

Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images
Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images

Die mense van Titirangi, ’n buurt in die Nieu-Seelandse hoofstad, Wellington, het net gedink hulle het die wilde hoenders wat die buurt op horings neem onder beheer, toe kom die coronavirusinperking.

Die probleem het in 2008 begin toe ’n inwoner twee mak hoenders in die buurt vrygelaat het. Die getal hoenders het sedertdien toegeneem en was laas jaar in ’n stadium 250.

Die hoenders raas inwoners vroeg wakker en verwoes die buurt.

Party inwoners het ook vir hulle kos buite gelos wat rotte gelok het. Die stadsraad het groot nette gebruik waarmee hulle sowat 230 hoenders gevang en na ’n plaas in die omgewing gevat het.

Maar tydens die inperking (wat nou verby is in Nieu-Seeland) het die hoenders weer meer geraak, en die inwoners sê hul geduld raak nou op.

RUSLAND

Diesel versprei ná storting

Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images
Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images

Diesel wat uit ’n tenk by Norilsk in die noorde van Rusland gelek het, het al sowat 20 km ver versprei. Omgewingskenners sê dis die ergste ongeluk van dié soort nog in die streek.

Die diesel het al ’n groot varswatermeer besoedel, en daar is ’n kans dat dit tot in die Noordelike Yssee gaan versprei, maar die Russe sê hulle gaan dit tot die meer probeer beperk.

Die omgewingsimpak van so ’n storting is yslik: Dis nie net sleg vir die visse en organismes in die water nie; die plante in die omgewing en diere en voëls wat die water drink, is ook in gevaar.

Dit lyk in dié stadium asof die tenk ineengestort het omdat die grond – wat gewoonlik bevrore is – begin smelt het as gevolg van aardverhitting.

Goeie nuus

Ietermago’s

Ietermago’s sal nie meer op die amptelike lys van
Ietermago’s sal nie meer op die amptelike lys van tradisionele Chinese medisyne verskyn nie. Foto: Getty Images/Gallo Images

Ietermago’s sal nie meer op die amptelike lys van tradisionele Chinese medisyne verskyn nie. Mense jag onwettig ietermago’s vir hul skubbe (gemaak van keratien), wat gebruik word in tradisionele medisyne, en vleis, ’n duur kossoort in plekke soos China en Viëtnam. Sommige mense sê die coronavirus het van ietermago’s na mense versprei toe mense die vleis daarvan geëet het, maar dit is nooit bewys nie. Daar is ook geen bewyse dat dit wel as medisyne werk nie.

Slegte nuus

Gesondheidsdiens, Nigerië

Die Nigeriese regering gaan sy begroting (hoeveel geld beskikbaar is) vir die land se gesondheidsdiens met 40% sny. Mense is bekommerd omdat Nigerië reeds minder as 5% van die land se begroting aan gesondheid afstaan. Dit beteken vir elke R100 wat die regering bestee, gaan minder as R5 na die gesondheidsdiens. Nigerië maak staat op die uitvoer van olie om geld te maak, en die val van die olieprys en die feit dat minder olie wêreldwyd gebruik is tydens die coronakrisis, het hul ekonomie ’n knou toegedien.

Kan jy dit glo?

APPLE-SELFIES

Die tegnologiemaatskappy Apple het die patent (alleenreg om iets te vervaardig) gekry vir sagteware waarmee ’n mens ’n groepselfie kan neem terwyl die groep hul afstand van mekaar hou.

Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images
Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images

As jy die sagteware op jou foon het, sal jy ander kan nooi om saam met jou op ’n selfie te wees.

Julle kan ver van mekaar af bly, maar die foon sit al jul selfies dan saam op een foto met dieselfde agtergrond.

Dit klink dalk ideaal vir die coronaviruspandemie waartydens ons minstens 2 m van ander mense af moet bly, maar Apple het die patent-aansoek al in 2018 ingedien.

Tegnologie 

’n Regte egte skattejag eindig

’n Skat wat 10 jaar lank in die Rocky-gebergtes in die weste van die VSA versteek gelê het, is eindelik gevind. Die skat is sowat R17 miljoen werd en het bestaan uit ’n bronskissie met onder meer waardevolle goue muntstukke, antieke beeldjies en stukkies goud daarin.

Die skat weeg volgens Forrest 19 kg – die kissie s
Die skat weeg volgens Forrest 19 kg – die kissie self 9 kg en die inhoud 10 kg. Foto: Forrest Fenn

Waar kom die skat vandaan?

Forrest Fenn, ’n versamelaar van kuns en waardevolle antieke voorwerpe uit San Francisco, het die skat bymekaargemaak en dit toe iewers in die bergreeks gaan versteek.

’n Skat wat 10 jaar gelede as deel van ’n skatteja
’n Skat wat 10 jaar gelede as deel van ’n skattejag in Amerika versteek is, is eindelik gevind. Foto: Forrest Fenn

Hy het al voorheen gesê hy het die kis ’n paar keer oor en oor gepak en dat hy twee keer tot by die wegsteekplek gereis het om alles daarheen te vervoer. Van die antieke voorwerpe wat saam met die muntstukke en goud in die kis was, is antieke juweliersware met smaragte en robyne daarin en antieke Chinese gesigte wat uit groenkwarts gekerf is.

Hoe het die skattejag gewerk?

Forrest het in 2010 ’n gedig van 24 reëls in sy outobiografie (’n boek wat jy oor jou eie lewe skryf) gepubliseer. Dié gedig was vol leidrade oor die wegsteekplek. “As jy dit presies volg, sal dit jou na die einde van my reënboog en die skat lei,” het hy geskryf.

Forrest het gesê hy't dit gedoen om mense aan te moedig om uit te kom en die buitelewe te verken.

Aanvanklik het min mense in die skattejag belanggestel, maar toe die tydskrif van die Amerikaanse lugdiens United Airlines in 2013 ’n artikel daaroor publiseer, het alles verander – Forrest sê hy het die volgende dag 1 200 e-posse gekry.

Foto: Benchmark Maps
Foto: Benchmark Maps

Sedertdien het honderdduisende mense vergeefs na die skat gesoek.

Van hulle het selfs hul werk bedank om dit voltyds te soek, en daar is glo al minstens vier mense dood terwyl hulle daarvoor gesoek het.

Toe dit so lank duur om die skat te kry, het party mense begin sê dit is alles ’n bedrogspul en Forrest is selfs hof toe gesleep. Maar nou het hy bevestig dat iemand die skat opgespoor het.

Die man wou nie hê sy naam moet bekendgemaak word nie. 

Tel dit op

  • 6 ’n Britse man het soveel dae in ’n put in Bali, Indonesië, deurgebring voor hy gered is.

Jacob Roberts het vir ’n hond weggehardloop en toe in die put – wat 4 m diep is – geval. Die put was droog, maar Jacob het sy been met die val gebreek en kon nie self uitkom nie.

Foto: GALLO IMAGE/GETTY IMAGES, GALLO IMAGES/AFP,
Foto: GALLO IMAGE/GETTY IMAGES, GALLO IMAGES/AFP, AP PHOTO

Daar was gelukkig ’n bietjie water onderin wat hom aan die lewe gehou het.

’n Inwoner van die dorpie het eindelik gehoor hoe hy om hulp roep en ’n reddingspan laat kom.

  • 39 ’n Biblioteekboek is eindelik soveel jaar nadat dit uitgeneem is weer na die biblioteek in Groesbeek, Nederland, teruggeneem.
Foto: Getty Images/Gallo Images
Foto: Getty Images/Gallo Images

Die bibliotekaresse wat aan diens was, sê sover sy weet, is dit die laatste wat ’n boek nog ooit teruggebring is – die boek is al in 1981 uitgeneem.

Die man wat die boek teruggebring het se boete was maar ’n bietjie minder as R100, maar dis net omdat boetes ná ’n ruk beperk word.

As daar nie ’n maksimum bedrag vir die boete was nie, sou dit meer as R29 000 gewees het. 

  • 24 Dis hoe oud die grysbeer wat “399” genoem word nou is.
Dié beer is een van die oudste grysbere wat buite
Dié beer is een van die oudste grysbere wat buite ’n dieretuin leef – en het nou weer vier welpies gehad. Foto: Getty Images/Gallo Images

Sy woon in die omgewing van die Grand Teton- nasionale park in Wyoming in die VSA en is onlangs weer gesien ná haar hibernasie (sien Woord van die Week), wat beteken sy het die winter oorleef.

Dié beer is een van die oudste grysbere wat buite ’n dieretuin leef – en het nou weer vier welpies gehad. Mense skat sy het al ’n nageslag van 22 bere (kinders en kleinkinders) en baie sien haar as ’n simbool van hoe goed bere in dié omgewing herstel het nadat daar in ’n stadium minder as 150 oor was. Daar is vandag minstens 700.

  • 453 Dis hoe oud die oorblyfsels van ’n ou teater is wat argeoloë naby Londen in Engeland ontdek het.
FOTO: ARCHAEOLOGY SOUTH-EAST/UCL
FOTO: ARCHAEOLOGY SOUTH-EAST/UCL

Hulle skat dié teater, die Red Lion, is in 1567 gebou en is een van die vroegste teaters wat spesifiek vir dié doel gebou is.

Hulle dink ook die Red Lion was die model waarop ander bekende Britse teaters, soos die Globe-teater waar baie van Shakespeare se toneelstukke opgevoer is, geskoei is. Die Red Lion se verhoog was 12 m lank, 9 m breed en 1,5 m hoog.

Hierdie week in die geskiedenis

28 Junie 1914 Sluipmoord op aartshertog Franz Ferdinand

Franz Ferdinand was die troonopvolger van Oostenryk-Hongarye.

Hy en sy vrou, Sophie, was op ’n besoek aan Sarajewo, wat vandag die hoofstad van die land Bosnië en Herzegowina is, toe hulle deur ’n Serwiese student, Gavrilo Princip, doodgeskiet is.

Franz Ferdinand en sy vrou, Sophie, is in 1914 ver
Franz Ferdinand en sy vrou, Sophie, is in 1914 vermoor. Foto: Getty Images/Gallo Images

Bosnië was in daardie stadium ’n provinsie van Oostenryk, maar die mense wat daar gewoon het, wou graag deel wees van die land Serwië.

Oostenryk het Serwië vir die moord verantwoordelik gehou en ’n maand later oorlog teen Serwië verklaar. Rusland was aan Serwië se kant en het troepe gestuur om hulle te help.

Duitsland was weer ’n bondgenoot van Oostenryk en het toe enkele dae daarna oorlog teen Rusland verklaar. Toe Frank-ryk (wat aan Rusland se kant was) ook troepe stuur, het Duitsland teen hulle ook oorlog verklaar. Dit was die begin van die Eerste Wêreldoorlog.

Hoewel die sluipmoord nie die ware oorsaak van die oorlog was nie – die lande het almal ander redes gehad om te wil oorlog maak – was dit die vonk wat alles aan die gang gesit het.

Bronne: bbc.com, theguardian.com, santafenewmexican.com, nytimes.com, iucnredlist.org, edition.cnn.com, nl.metrotime.be, collinsdictionary.com, mieliestronk.com, history.org