Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit was die een sprankie hoop vir mense by wie covid-19 gediagnoseer is: die gedagte dat wanneer hulle eers herstel het hulle immuun teen die siekte sou wees en met hul lewe kon aangaan sonder om hulle te bekommer oor weer siek word.

Maar nou word dié gerusstellende teorie bevraagteken nadat dit aan die lig gekom het ’n vrou van Durban het blykbaar twee keer die virussiekte gehad.

Covid-19 is in Maart by haar gediagnoseer en ná twee weke in afsondering het sy negatief vir die coronavirus getoets. Toe kom die skok: In Julie het sy weer positief getoets.

Wêreldwyd is daar soortgelyke stories, en dit laat ’n mens wonder wat dit vir ’n covid-19-entstof beteken as jy nie immuun teen die siekte is nadat jy dit reeds onder lede gehad het nie.

Gelukkig meen kenners dit is hoogs onwaarskynlik dat herbesmetting by hierdie pasiënte plaasgevind het. Hulle verduidelik die wetenskap agter hul denke.

Is dit moontlik om covid-19 meer as een keer te kry?

Prof. Salim Abdool Karim, ’n kliniese epidemioloog wat in aansteeklike siektes spesialiseer en voorsitter van die ministeriële raadkomitee oor covid-19 is, sê daar was nog nie een bewese geval van herbesmetting op enige plek ter wêreld nie.

Prof. Salim Abdool Karim by die Amerikaanse kenner
Prof. Salim Abdool Karim by die Amerikaanse kenner Dr. Anthony Fauci. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Die gedetailleerdste ondersoek is in Suid-Korea gedoen, waar dit toon dat nie ’n enkele een van die 285 gevalle (van mense wat skynbaar die siekte meer as een keer opgedoen het) herinfeksie was nie. Daar was geen herinfeksie nie,” sê Karim.

Maar hy voeg by dat nog navorsing nodig is.

“Ons sal net moet wag dat die bewyse kom; daar’s geen kortpad nie. As ons in die geheel kyk na hoe die epidemie groei, vind herinfeksie – as dit gebeur – waarskynlik teen ’n taamlik lae vlak plaas, want in baie lande het hulle die virus onder beheer gebring, en ons sou meer uitbrekings gesien het as dit nie die geval was nie.”

Hoe betroubaar is die toetse?

Die langtermynafskeiding van die virus word soms met herinfeksie verwar, sê Salim. Dit is wat hy vermoed dalk met die Durbanse pasiënt gebeur het.

“Wanneer iemand met die virus besmet word, is dit aansteeklik vir sowat sewe tot agt dae van die datum waarop simptome begin. As jy ’n monster uit hul neus of keel neem, sal dit positief terugkom, en as jy die virus probeer kweek, kan jy dit laat groei, want dit leef.

“Die week daarna sal hulle steeds positief toets, al leef die virus nie meer nie.”

Hy sê die polimerasekettingreaksie (PKR)-toets, die standaardtoets wat gebruik word, soek vir die genetiese materiaal van die virus, maar nie die lewende virus self nie. En party pasiënte bly maande lank positief terwyl die virus dood is, want hulle skei steeds die dooie virus af.

“Omdat die afskeiding nie heeltyd plaasvind nie, kan jy soms ’n monster neem en dit kom negatief terug,” sê Salim.

“ ’n Rukkie later kry hulle simptome vir iets anders en dink dit is dalk covid-19, dan toets hulle weer en dit kom positief terug. Langtermynafskeiding word dus met herbesmetting verwar.”

Dr. Vidya Lalloo, ’n spesialis-noodinternis by die Steve Biko- Akademiese Hospitaal in Pretoria, sê een van die redes hoekom ’n mens dalk negatief toets terwyl hulle steeds positief is, is dat die PKR-toets net so 66% tot 80% sensitief is.

Dit beteken volgens Vidya sowat 30% van pasiënte sal verkeerdelik negatief getoets word.

Dr. Vidya Lalloo. Foto: Facebook
Dr. Vidya Lalloo. Foto: Facebook

“Verskeie faktore beïnvloed die toets, soos die tegniek wat gebruik is toe die monster geneem is, die viruslading of graad van virusafskeiding van die pasiënt wat getoets word, die virusmedium wat gebruik word en die ouderdom van die monster,” sê sy.

‘Verskeie faktore beïnvloed die toets, soos die tegniek wat gebruik is om die monster te neem’

Hoe werk immuniteit met ander virusse?

Prof. Adrian Puren, hoof van die sentrum vir MIV en seksueel oordraagbare infeksies aan die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes, sê hoewel covid-19-herbesmetting nie heeltemal uitgesluit kan word nie, is daar nie klinkklare bewys dat dit wel plaasvind nie.

Prof. Adrian Puren. Foto: YOUTUBE
Prof. Adrian Puren. Foto: YOUTUBE

Hy sê dit is bekend dat mense wat besmet is met gewone verkouevirusse wat aan covid-19 verwant is oënskynlik sowat 90 dae ná die oorspronklike besmetting vir herinfeksie vatbaar raak.

“Deur die 90 dae te gebruik as ’n aanduider vir mense wat van SARS-CoV-2 (die virus wat covid-19 veroorsaak) herstel het, verteenwoordig ’n positiewe PKR binne 90 dae ná die aanvang van siekte waarskynlik eerder voortdurende afskeiding as herinfeksie,” sê Adrian.

“As iemand wat herstel dus in ’n 90- dae-tydperk asimptomaties bly, sal enige hertoetsing waarskynlik nie nuttige inligting oplewer nie, al het die mens naby kontak met ’n besmette mens gehad.”

Maar as iemand meer as 90 dae ná besmetting simptomaties raak en ’n ander infeksie word nie by hulle gediagnoseer nie, moet so iemand dalk vir herbesmetting met covid-19 ondersoek word.

Vidya sê tot dusver lyk dit asof die virus soos die meeste ander virusse optree wat immuniteit betref.

“Niks is onmoontlik nie; dus kan dit moontlik wees dat dit dieselfde mens twee keer besmet, maar dit is baie onwaarskynlik in so ’n kort tydraamwerk. Die liggaam se gewone reaksie is om hope teenliggame akuut te ontwikkel, wat dan oor ’n paar maande afneem en stabiliseer.

“Maar die liggaam ontwikkel ook selimmuniteit met geheue-T-selle wat ons ’n langer tydperk beskerm. Ongelukkig is dié selle moeiliker om te bestudeer en dit is onbekend presies hoe lank dit immuniteit verleen. T-selle teen ander coronavirusse is dalk lewenslank.”

Vidya sê hoewel immuniteit in die geval van covid-19 nog nie vasgestel is nie, sal die meeste mense ’n mate van immuniteit behou nadat hulle aan ’n organisme blootgestel is, maar ’n uiters verswakte immuunstelsel sal jou waarskynlikheid verhoog om weer besmet te word.

Al is Salim daarvan oortuig dit is te gou om te bepaal of herinfeksie met covid-19 wel plaasvind, sê hy herbesmetting vind met ander soorte coronavirusse plaas.

Vier stamme coronavirus is in omloop wat gewone verkoue veroorsaak. Dit bestaan al jare en duik telkens in die winter op, vertel hy.

“Jy kan dit herhaaldelik kry; daarom sal dit nie ongewoon wees as die coronavirus kan herbesmet nie.

“Maar dit sal seldsaam wees en sal moet gebeur wanneer ’n baie lae vlak van teenliggame of geen teenliggame beskikbaar is nie, of wanneer die virus verskil van wat die teenliggame sal aanval.”

As jy die siekte gehad het, beteken dit dus nie jy kan na normaal terugkeer nie. Al is jy dalk voorheen besmet, geld al die reëls oor masker dra, sosiale distansiëring en handewas steeds, sê Adrian.

Wat beteken dit vir ’n entstof?

Wanneer ’n entstof eers ontwikkel is, sal ’n mens waarskynlik elke jaar of dalk selfs gereelder ’n inenting moet kry om jou liggaam se immuungeheue te stimuleer – soortgelyk aan hoe mense elke jaar die griepinspuiting kry.

Die entstof wat die span aan die Universiteit van Oxford ontwikkel en wat in Suid-Afrika getoets word, kan vermoedelik een of twee versterkerinspuitings verg ’n paar maande nadat die aanvanklike entstof toegedien is.

Dit is ’n soortgelyke benadering as wat met ander entstowwe soos die een vir hepatitis B gevolg word.

“Ons is nog nie eintlik seker hoe lank ons teen covid-19 beskerm sal wees as ons dié benadering volg nie, maar dit kan ’n paar jaar wees,” sê Sarah Pitt, ’n lektor in mikrobiologie aan die Universiteit van Brighton.

“Dit is dalk genoeg om die verspreiding van SARS-CoV-2 wêreldwyd in bedwang te hou.” 

EKSTRA BRON: theconversation.com
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe