Hý is immers die een wat die wêreld moet lei terwyl ons met die grootste gesondheidskrisis in die onlangse geskiedenis worstel – die COVID-19-pandemie.

En die inspirerende direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, het sy hande behoorlik vol.

Al verkies dié Ethiopiër dat almal wat hy teëkom hom op sy voornaam noem, het hy een van die belangrikste werke van die oomblik.

As die hoof van dié organisasie is dit sy rol om die internasionale reaksie teen die pandemie te lei en die Verenigde Nasies se gesondheidsdienste raad te gee oor hoe hulle kan help om die verspreiding van die aansteeklike, dodelike nuwe coronavirus hok te slaan.

Sedert die virus in minder as vier maande vanuit China na alle uithoeke van die aarde versprei het, moet Tedros die byna onmoontlike vermag.

Hy moet sorg dat mediese toerusting en personeel ontplooi word na elke plek waar die virus sy nare kop uitsteek, daagliks in verbinding tree met al die lande waar die virus woed – teen saktyd was dit teenwoordig in 168 lande – en die paniekerige publiek op hoogte hou oor die jongste verwikkelings.

Dis ’n yslike taak – en een wat nog lank nie verby is nie.

Daar ís hoop; daar is baie goed wat alle lande kan doen.

Teen saktyd was drie miljard mense – meer as ’n derde van die wêreld se bevolking – oor grense heen in ’n gedeeltelike of algehele staat van inperking om die verspreiding van die virus te probeer keer.

Want terwyl ons op die ontwikkeling van ’n inenting wag, is die enigste manier om die virus te stuit om mense in self-isolasie of kwarantyn te plaas, beklemtoon Tedros (54) oor en oor.

“Hierdie coronavirus hou ’n ongekende bedreiging in,” benadruk hy. Maar hy voeg by: “Daar ís hoop; daar is baie goed wat alle lande kan doen.”

Dis ’n geleentheid om byeen te kom teen ’n gemeenskaplike vyand: ’n vyand van die mensdom.

Boonop, beklemtoon hy, is ons nie alleen in ons stryd teen die virus wat sy oorsprong in vlêrmuise in China het nie. Want vir eens vat die ganse wêreld hande teen ’n gedeelde bedreiging.

“Dis ’n geleentheid om byeen te kom teen ’n gemeenskaplike vyand: ’n vyand van die mensdom.”

Agtergrond

Dr. Ghebreyesus steek die fakkel aan by
Dr. Ghebreyesus steek die fakkel aan by die parlement. Foto: Gallo Images/Alamy

Tedros is in 2017 deur die lidlande van die WGO tot direkteurgeneraal verkies en dien tans ’n termyn van vyf jaar uit. Hy is die eerste boorling van Afrika om dié toppos te beklee en die eerste direkteurgeneraal in die organisasie se bestaan van 72 jaar wat nie ’n dokter is nie.

Hy was voor sy toetrede tot die wêreldverhoog in Ethiopië bekend as ’n malarialoog – iemand wat spesialiseer in die studie, behandeling en voorkoming van malaria.

In 2005 is hy as Ethiopië se minister van gesondheid aangewys, en in 2012 as die land se minister van buitelandse sake.

Hy is as gesondheidminister wyd geloof vir die destydse ommeswaai in Ethopië se gesondheidstelsel.

Eerder as om duur hospitale te laat bou in dié arm land, het hy 38 000 gemeenskapswerkers laat oplei en in die gesondheidsektor ontplooi. Hy het vroue se gesondheid ’n prioriteit gemaak, en gevolglik het die sterftesyfer van ma’s en kinders dramaties verminder.

Dis wanneer ons sterk gesondheidstelsels in elke liewe land het wat die wêreld veilig word.

Die sterftesyfer van jong kinders het weens sy ingrypings met 28% afgeneem, is al berig.

Hy het ook gefokus op die stryd teen malaria, tuberkulose en MIV – en die afname in die sterftesyfers het gewys sy planne werk.

Hy wil sy benadering nou gebruik om ander lande ook te help.

“Dis wanneer ons sterk gesondheidstelsels in elke liewe land het wat die wêreld veilig word.”

Missie

Sy missie om die wêreld gesond te maak het al in sy kinderdae begin. Hy is in die stad Asmara in Eritrea gebore as die kind van ’n ingenieur-pa en tuisteskepper-ma, en was nog jonk toe sy jonger boetie op vier oorlede is weens wat hy nou vermoed masels was.

“Ek het dit nie aanvaar nie, en ek aanvaar dit steeds nie,” sê hy.

Nadat die gesin noord verhuis het na die streek Tigray in Ethiopië, ’n land waar hongersnood en wanvoeding groot lyding veroorsaak het, het dit hom mettertyd opgeval dat malaria ook gelei het tot verdere “nodelose lyding en dood”.

Sy loopbaan

Hy het in 1986 ’n B.Sc-graad in biologie aan die Universiteit van Asmara verwerf en toe by die Ethiopiese departement van gesondheid begin werk.

Hy het later ’n meestersgraad in immunologie aan die Universiteit van Londen en ’n doktorsgraad in gemeenskapsgesondheid aan die Universiteit van Nottingham in Engeland behaal.

Met sy oorname as WGO-hoof twee jaar gelede, het ’n verwoestende ebola-uitbreking reeds meer as 11 000 lewens in Wes-Afrika geëis, en hy het hom daarop gespits.

Ek hou daarvan om na landelike gebiede te reis. Ek hou daarvan om regte mense te sien. Ek hou daarvan om die probleem te sien.

Toe die siekte ’n houvas op die Demokratiese Republiek van die Congo kry, was Tedros in die voorste linie. Hy het verskeie kere na die gebied gereis om met regeringleiers te praat en eerstehands te sien hoe die situasie ontvou.

“Ek hou daarvan om na landelike gebiede te reis. Ek hou daarvan om regte mense te sien. Ek hou daarvan om die probleem te sien,” verduidelik hy sy besluit om in die loopgrawe te bly.

Hy word beskryf as ’n uitstekende navorser en toegewyde wetenskaplike, maar ook as sjarmant en plat-op-die-aarde.

Tog was sy tyd as hoof van die WGO tot dusver nie sonder omstredenheid nie.

Omstredenheid

As deel van sy plan om die WGO te hervorm, het hy meer vroue aangestel, die topbestuur meer divers gemaak en nuwe departemente geskep.

“Hy het die WGO se kerntaak noemenswaardig verbeter, maar hy kon dit nog nie regkry om die WGO-personeel en vennote konsekwent saam met hom te neem nie, wat soms tot onrustigheid gelei het,” sê Lawrence Gostin, ’n professor in wêreldgesondheidsreg aan die Georgetown Universiteit in Amerika.

Tedros weet hy het al ’n paar kollegas en gesondheidleiers die harnas ingejaag.

“Mense raak ’n bietjie senuagtig wanneer hulle sien dat jy hierdie groot veranderings aan die agenda maak,” het hy aan die tydskrif Science erken.

Gesondheidsdekking wêreldwyd

Dr. Tedros by mediese personeel. Foto: Facebook/Dr
Dr. Tedros Ghebreyesus by mediese personeel. Foto: Facebook/Drtedros.Official

Die baanbreker se doenlysie met sy oorname by die WGO was inderdaad ambisieus: hy wou klem lê op die gesondheidsimpak van klimaatsverandering, en help verseker dat gesondheidsdekking aan een miljard mense oor die wêreld heen gebied word.

Maar nou is daar net één prioriteit op dié lys: om ’n houvas op COVID-19 te kry.

Tedros het in die weke ná die virus in Desember in die stad Wuhan in China uitgebreek het na Beijing gevlieg om ondersoek in te stel, en die owerhede daar geloof omdat hulle miljoene mense ingeperk het om die verspreiding van die virus te keer.

Hy het daarom onder kritiek deurgeloop toe dit blyk die Chinese owerhede het die gesondheidswerkers gearresteer wat hulle eerste oor die virus wou waarsku. Sommige kenners het gemeen hy moes die owerhede openlik daaroor aangevat het.

Maar hy het nie ’n ander keuse gehad nie, meen Lawrence.

“Die Chinese regering is berug vir hoe fyngevoelig hulle is. As Tedros wil hê die WGO moet ingelig bly oor wat in China aangaan, en ’n invloed op die land se hantering van die epidemie wil hê, kan hy nie bekostig om aan hulle verkeerde kant te kom nie.

“Die WGO het nog nooit met so iets te doene gekry nie: ’n vinnig verspreidende epidemie in ’n land wat magtig, en op baie maniere geslote is.”

Tedros is “baie polities – soms te polities”, sê Lawrence.

“Maar wat ek van hom van hou, is dat hy sy hart op sy mou dra. Hy is self daarbuite, en hy word die gesig van die WGO; die gesig van die epidemie.”

Familielewe

Dr. Tedros Ghebreyesus en sy gesin. Foto: Facebook
Dr. Tedros Ghebreyesus en sy gesin. Foto: Facebook/Drtedros.Official

Die getroude pa van vyf en sy gesin woon deesdae in die stad Geneve in Switzerland, maar hou sy persoonlike lewe privaat.

Hy wil hê mense moet eerder op sy werk fokus – en op die groot uitdagings wat hy aanpak.

“Baie mense sê hulle word deur iets positiefs gemotiveer,” erken hy – maar nie hý nie. “Die ding wat my soggens wakker maak, is die probléém wat aangespreek moet word.”

Bronne: peoplepill.com; time.com; bbc.com; aljazeera.com; reuters.com; thecitizen.co.za; sciencemag.org; who.int

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.