Hulle noem dit woonwaens, maar dis eintlik luukse suites op wiele wat al vir Hollywood-­sterre soos Charlize Theron en Vin Diesel goed genoeg was.

Maar maak jy nou die deur oop, word jy begroet deur ’n stert­swaaiende steekhaarbrak wat andersins op straat sou moes oorleef. En dis maar een van die maniere waarop Suid-Afrikaners in dié tyd van nood saamstaan.

Weke lank het ons verstom op televisie gekyk hoe die grootste stede in China, die land met die wêreld se grootste bevolking, die een ná die ander in spookstede verander weens die coronavirus wat sy tentakels versprei.

Eindelik ook Hongkong, Rome, Parys, Berlyn, Madrid, Londen, Sydney . . . Nou het die woeligste strate en toeristebestemmings stil geword weens ongekende noodregulasies wat mense dwing om binnenshuis te bly in ’n poging om die verspreiding van die pandemie hok te slaan.

En nou is COVID-19 hier in Suid-Afrika – en ook inperking, oftewel gedwonge afsondering in jou eie huis om te verhoed dat mense saamdrom in openbare plekke waar die gevaar van infeksie hemelhoog is. Dit is ’n tyd van onsekerheid oor die toekoms, oor hoe ons as land ná hierdie wêreldwye krisis daar sal uitsien.

Maar getrou aan ons aard as Suid-Afrikaners bring die krisis ook die beste in ons na vore. Ons skuif ons verskille opsy en verleen ’n helpende hand aan die kwesbaarstes onder ons – mens of dier – want nie almal is ewe bevoorreg nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het ons geïnspireer met sy inklusiewe benadering om die virus te beveg – en sedertdien bring talle gewone mense, organisasies en ondernemings hul kant op enige manier denkbaar.

Ons sal seker nooit al die stories van liefde en samehorigheid in hierdie tyd van nood kan vertel nie – daar is net te veel. Maar solank ons aanhou vir mekaar omgee, sal ons teen die virus wen. Saam kan Suid-­Afrikaners enige uitdaging oorkom.

Hier is net ’n paar gevalle wat ons opnuut daarop trots maak om Suid-Afrikaners te wees.

Hulp aan ons hondevriende

Die vrywilligers van die DBV se tak in Grassy Park
Die vrywilligers van die DBV se tak in Grassy Park het luukse woonwaens gekry om in te bly.

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) se Cape of Good Hope-tak in Grassy Park, Kaapstad, lyk deesdae kompleet soos ’n woonwapark. Dié ongewone toedrag van sake is te danke aan die ruimhartigheid van Martin Offerson, bestuurder van Fleet Star Film Trailers.

Soos die naam aandui, word sy woon­waens gewoonlik uitverhuur aan internasio­nale rolprentvervaardigers wat hier in Suid-Afrika tonele kom skiet.

Maar toe Martin van die hondeskuiling se nood hoor, het hy nie gewyfel om te help nie.

“Ons is almal saam in hierdie donker tye,” sê hy aan Huisgenoot.

Een van die werklikhede van die landwye inperking is dat baie mense in die informele sektor nie geld kan verdien nie; dus kan hulle nie hul gesinne sowel as hul troeteldiere voed nie. Gevolglik het die skuiling meer honde as tevore.

En dis nie al nie.

Van links is Lwazi, Simon Mabenghu en Brian Arends
Van links is Lwazi, Simon Mabenghu en Brian Arendse by hul tydelike verblyf.

Belinda Abraham, ’n woordvoerder van die Cape of Good Hope-tak, vertel weens die reisverbod kan hul 24 werknemers en vol­tydse veearts nie soos gewoonlik daagliks tussen hul huise en die hondeskuiling pendel nie. Daar is besluit dat hulle vir die 21-dae-inperkingstyd voltyds op die perseel moet bly.

“In hierdie tye moet ons alles in ons vermoë doen om te voorkom dat ons diere ly. Ons werknemers was almal bereid om hier te bly, weg van hul families af, om na die diere om te sien,” sê sy.

Good Hope versorg tans 500 diere.

“Ons vermoed dit kan meer word weens die fopnuus dat diere die virus kan oordra. En in hierdie swaar tyd vir mense word diere verwaarloos of weggegee.”

Dit is nie waar dat troeteldiere die virus aan mense kan oordra nie, beklemtoon kenners.

Martin het by ’n kennis in die rolprent­bedryf wat al saam met die DBV gewerk het van Good Hope se verblyfprobleem vir werknemers gehoor.

“Ons het besluit om vier woonwaens, wat elk drie mense huisves, gratis beskikbaar te maak,” vertel hy.

Lwazi Ntungele maak sy bed in sy woonwa op.
Lwazi Ntungele maak sy bed in sy woonwa op.

“Ons harte loop oor van dankbaarheid,” sê Belinda.

“Dit is verblydend om te sien dat medemenslikheid steeds in hierdie moeilike tye voortleef. As dit nie vir hulle was nie, sou ons werknemers op die grond moes slaap. Die kleiner hondjies wat meer aandag nodig het, sal natuurlik ook saam met hulle in die woonwaens bly.”

Die DBV kan nou met gemoedsrus na die diere kyk.
Die DBV kan nou met gemoedsrus na die diere kyk.

Ook die algemene publiek het hul harte en beursies oopgemaak.

“Baie mense het opblaasmatrasse geskenk, en Parmalat het sap en melk vir ons mense geskenk. Hierdie pandemie bring die beste in mense na vore.”

Sonneblomkonings hou ons hande skoon

Ons weet nou al almal dis uiters belangrik om gereeld hande te was om die virus uit te oorlê. Maar in ’n land met hoë armoede is selfs seep vir baie mense ’n luukse.

 ’n Willowton Group-werknemer oorhandig seep by di
’n Willowton Group-werknemer oorhandig seep by die Laerskool Sibonginhlanhla in KwaZulu-Natal.

Dus het die Willowton Group, wat sonneblomprodukte vervaardig, en die supermarkreus Pick n Pay onlangs saamgespan om 750 000 koekies seep ter waarde van R5 miljoen aan skole, ouetehuise en hospiese te skenk.

Sowat 400 000 koekies is in Gauteng versprei, 180 000 in KwaZulu-­Natal en 180 000 in die Wes- en Oos-Kaap.

 Leerders van die Laer­skool Rustic Manor het ook
Leerders van die Laer­skool Rustic Manor het ook seep ontvang.

“Die Willowton Group se visie gaan oor gemeenskappe,” sê David Sweidan, die bemarkingsbestuurder.

’n Leerder van die Laerskool Nageng.
’n Leerder van die Laerskool Nageng.

“Dit is ons passie en plig om behoeftige mense in hierdie tyd by te staan en die virus te help keer.”

Hý hou die polisie se wiele aan die rol

Victor Daniel van Vanderbijlpark se onderneming ve
Victor Daniel van Vanderbijlpark se onderneming verskaf tydens die inperking gratis dienste aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens.

Victor Daniel van Vanderbijlpark het besluit om die polisiediens by te staan.

Sy onderneming, Vaal Mall Tyres, bly oop tydens die algehele inperking om gratis dienste aan die polisie van die Vaaldriehoek te verskaf.

“Ek doen nog altyd gratis die pap wiele van die polisiemotors in ons omgewing, maar ek het besef dat ons plaaslike polisie se motorbande algeheel in ’n haglike toestand is. Hulle moet heeltyd op die pad wees om ons veilig te hou, en toe besluit ek ons moet iets daaraan doen. Ek moet die mense help wat in hierdie tyd hul geliefdes by die huis los om diens te doen.”

Victor Daniel van Vanderbijlpark se onderneming ve
Victor Daniel van Vanderbijlpark se onderneming verskaf tydens die inperking gratis dienste aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens.

Victor het tot dusver 28 motorbande aan die polisiediens geskenk en opgesit.

“Ons almal trek swaar, maar dit is nie net ek wat onder die virus ly nie; miljoene ander mense ly ook daaronder. Ek wil moedeloos raak, maar ons moet vasbyt. Dit gaan nie maklik wees nie, maar as ons saamstaan, kan ons heel en sterker anderkant uitkom.”

Van feestente tot ’n noodhospitaal

Volgens Matt het Extreme Events genoeg tente en an
Volgens Matt het Extreme Events genoeg tente en ander geriewe om binne ’n week ’n hospitaal vir 350 siekes op te rig.

Die broers Matt en Guy Bower van Umhlanga in KwaZulu-Natal verhuur al 10 jaar lank markiestente vir allerhande feeste en geleenthede. Maar COVID-19 het oornag die wind uit Extreme Events se seile gehaal.

“Dit is hartverskeurend. Ons het 75 permanente werknemers en weet nie hoe ons hulle gaan aanhou betaal nie,” sê Matt. “Maar ons het besluit om positief te bly en aan te pas.”

En hulle het besluit om aan die same­lewing terug te gee. Die broers is in gesprek met die nasionale departement van gesondheid oor die verskaffing van ’n tydelike hospitaal.

Volgens Matt het Extreme Events genoeg tente en ander geriewe om binne ’n week ’n hospitaal vir 350 siekes op te rig.

“Ons sien wat in Italië aan die gang is. Hospitale loop oor, en ons wil nie hê dieselfde moet in Suid-Afrika gebeur nie,” verduidelik Matt. “Die hospitaal sal oor 72 badkamers met storte en toilette beskik en elke pasiënt sal ’n privaat kamer hê waar hy of sy afgesonder sal word.”

Hulle wag net vir die departement om te hoor waar en wanneer hulle moet begin tentpenne inslaan as dit benodig sou word.

“Dit is uiters belangrik dat elkeen hul deel doen. Ons almal ly onder hierdie pandemie. Dit help nie ons sit in ’n hoek en doen niks nie.”

Vrywillige pleegouers vir renosterwesies

Weens die verbod op buitelandse vlugte en besoeker
Weens die verbod op buitelandse vlugte en besoekers het die Rhino Orphanage se normale stroom van internasionale vrywilligers wat gewoonlik die getraumatiseerde diere help versorg oornag opgedroog.

Die steekhaarbrakke van Kaapstad se strate is nie al diere wat weens die coronavirus se wêreldwye impakwurggreep hulp benodig nie.

Ver weg in Limpopo, op ’n plek wat om veiligheidsredes nie genoem kan word nie, is ’n veilige hawe vir renosterkalfies wat deur stropers wees gelaat is.

Weens die verbod op buitelandse vlugte en besoekers het die Rhino Orphanage se normale stroom van internasionale vrywilligers wat gewoonlik die getraumatiseerde diere help versorg oornag opgedroog.

Die organisasie het op hul Facebookblad ’n pleidooi om plaaslike vrywilligers gerig. Die reaksie het hul verwagtings oortref, sê Arrie van Deventer, eienaar van die renosterhawe.

“Ons het in minder as ’n week oor die 248 aansoeke gekry. Tans staan ons op meer as 400. Dit is ongelooflik om te sien hoeveel mense bereid is om vir drie weke alles te los en die kalfies te kom help.”

Die vrywilligers speel ’n sleutelrol in die rehabilitasie van die kalfies. Baie van die jong diere moes beleef hoe stropers hul ouers doodskiet en hul horings uitkap. Die vrywilligers is as’t ware surrogaatouers wat die wesies konstante aandag en liefde gee en hulle voer.

“Die eerste paar vrywilligers is reeds gekies, en ons hou al die ander aansoekers se name in ons databasis vir die toekoms,” vertel Arrie.

Behuising vir gesondheidsorgwerkers

Min mense weet seker dat Kaapstad se spoggerige Mount Nelson-hotel tydens die groot grieppandemie van 1919 as tydelike huisvesting vir dokters gedien het.

Vandag, meer as ’n eeu later, is dokters weer aan die spits van die stryd teen COVID-19. En die stukkie geskiedenis van die Mount Nelson het Kate Whittaker, eienaar van die Once-hotel in Kaapstad, geïnspireer om iets te doen vir die gesondheid­sorgwerkers wat so hard werk om ons veilig te hou.

“Ek het met ’n doktersvriend van my in Italië gepraat, en hy het gesê baie van hulle was te bang om huis toe te gaan en moontlik hul gesinne met die coronavirus aan te steek. Dus het baie van hulle in hul motors of in die gange van die hospitale geslaap,” vertel sy.

“Ek wou verhoed dat so iets gebeur, en terwyl ons gastehuise en hotelle leegstaan, is dit mos die ideale plek vir ons dokters om te woon.”

Kim het toe die aanlyn projek begin wat sy Ubuntu Beds noem.

Op Ubuntu Beds se webtuiste kan gaste­huise en hotelle landwyd aansoek doen om hul kamers nou beskikbaar te stel, en gesondheidsorgwerkers kan om verblyf aansoek doen.

Dit kos die mediese personeel nie ’n sent nie.

Volgens Kim het meer as 115 hotelle en gastehuise al aansoek gedoen om deel van die projek te wees, en minstens 200 dokters en gesondheidsorgwerkers het kort voor ons druktyd verblyf gevra.

“Ons is nog besig om die databasis te finaliseer, maar almal behoort teen volgende week verblyf te hê.”

Kultuurstryders wil vir geldleemte vergoed

Een van die slagoffers van die virus was vanjaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op Oudtshoorn. Dit is ’n terugslag vir kunstenaars en kunsliefhebbers – maar veral ook vir die talle mense van dié Karoo-gemeenskap wat broodnodige geld uit die fees verdien.

“Ek bekommer my nie oor die virus nie,” sê Petra le Roux, voorsitter van die ATKV-­tak op die dorp. “Ek bekommer my oor die mense van Oudtshoorn en hoe hulle sonder ’n inkomste gaan oorleef.”

Die tak samel nou kos, seep en ander noodsaaklikhede in om aan behoeftiges uit te deel.

“Hier is ’n groot nood. Baie mense oorleef op maatskaplike toelaes en stukwerk . . . Baie van hulle sou tydens die KKNK as skoonmakers of veiligheidswagte gewerk het. Die mense maak jaarliks staat op die fees om hul inkomste aan te vul, maar nou is dit ook nie meer daar nie,” vertel Petra.

“Ons wil veral fokus op die huishoudings met kinders en beoog om teen volgende week ons eerste aflewerings te doen.”

Blommeprag om die donker te verdryf

’n Ouetehuis in die Paarl is in ’n kleurryke spro
’n Ouetehuis in die Paarl is in ’n kleurryke sprokie omskep.

Geestelike welstand is net so deel van die stryd teen die virus as skoon hande. En wat kan nou beter wees as blomme om afsondering verdraagsamer te maak?

So reken twee bloemiste van Tulbagh wat met tonne vars blomme opgesaal was vanweë troues wat noodgedwonge weens die inperkingsmaatreëls uitgestel moes word.

Hulle het besluit om die geskiedkundige dorp se kerk, ouetehuis en apteek te verfraai met blomme wat reeds bestel was toe openbare byeenkomste van meer as 50 mense verbied is.

“Blomme is vlietend, maar dit verskaf soveel genot. So baie blomme sou tot niet gaan en ons wou graag hê dit moet darem mense se lewens opkikker,” sê Anli Wahl.

Sy, die dorp se ander bloemiste, Marcel Augustyn-Clark, en Adene Nieuwoudt, ­eienaar van ’n blomplaas buite Wolseley, het die blomme gratis verskaf.

Twee bloemiste van Tulbagh, met die hulp van vrywi
Twee bloemiste van Tulbagh, met die hulp van vrywilligers, het ’n vier-ton-trok se blomme aangery.

“Die idee was dat mense voor die inperking van die blomme saam huis toe neem om hul lewe in hierdie tyd op te helder,” vertel Anli. “Dit is vir ons almal ’n moeilike tyd. Ons weet self nie hoe dinge ná die tyd gaan lyk nie, maar ons moet daar wees vir mekaar.”

En hulle het vier ton vars blomme op ’n vragmotor gelaai en die ouetehuis in die Paarl gaan optower.

“Dit het vreeslik gereën. Een van die tannies het buite in die reën gestaan, en die personeel wou haar binnentoe neem, maar sy het geweier,” vertel Anli aangedaan.

“Sy het aan ons gesê die liewe Here kan haar nou maar kom haal . . . Sy het nou die mooiste blomme in haar lewe gesien.” 

FOTO'S: @JOSHWIDEAWAKE/THE CAPE JEWISH CHRONICLE, FACEBOOK/@EXTREMEEVENTSZA, FACEBOOK/@CAPEOFGOODHOPESPCA, VERSKAF
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.