Soos in ’n onheilspellende stilte voor ’n donderstorm met alle geweld losbars, het strate leeggeloop, ondernemings hul deure gesluit en Suid-Afrikaners hulle in hul tuistes teruggetrek.

Maar terwyl mense landwyd 21 dae lank ingeperk is in ’n poging om die verspreiding van die gevreesde coronavirus te probeer stuit, staal medici hulle vir ’n verwagte stortvloed pasiënte met simptome van COVID-19 wat op plaaslike hospitale kan toesak.

En in hul gemoed brand die vraag: As ontwikkelde lande soos Amerika, China en Italië oorweldig is deur ’n magdom pasiënte wat mediese hulp nodig het, hoe gaan Suid-Afrika met sy brose gesondheidsorgstelsel die mas opkom?

“Senuweeagtig, angstig en bang,” beskryf dr. Leonel de Caires van Kaapstad sy emosies.

“Dit is soos om op die strand te staan en te kyk hoe die gety drasties terugtrek en te weet ’n tsoenami gaan jou tref. Almal hardloop weg en jy moet vasstaan met opblaasvlerkies en ’n hart wat bokspring in jou bors.”

Hier aan die suidpunt van Afrika waar die virussiekte COVID-19 ons later as China, Europa en Amerika getref het, het ons al die foto’s en beeldmateriaal gesien van oorvol hospitale, uitgeputte dokters en verpleegsters en veldhospitale wat soos sampioene opskiet.

’n Veldhospitaal is in Central Park, New York, opg
’n Veldhospitaal is in Central Park, New York, opgerig. Suid-­Afrika maak reg om soortgelyke hospitale op te rig wanneer bestaande infrastruktuur nie meer die lading kan hanteer nie. Foto: Gallo Images/Getty Images

In ’n land waar siektes soos MIV/vigs en tuberkulose reeds derduisende se immuniteit verswak het, kan ons ons regmaak vir ’n ongekende epidemie as die verspreiding nie bekamp word nie, voorspel dr. Neville Vlok van die Netcare Unitas-hospitaal in Pretoria.

“Die openbare sektor is reeds geweldig vol en die privaat sektor het nie eindelose hulpbronne nie. Of jy nou ’n mediese fonds het of nie, as jy siek raak, gaan jy ’n probleem hê.”

Nog nooit tevore was dit vir hospitale in Suid-Afrika nodig om vir so ’n mega-infeksie te beplan nie, sê ’n dokter van ’n staatshospitaal in KwaZulu-Natal.

“Die definisie van ’n mediese ramp is wanneer jou hulpbronne oorweldig is. Gewoonlik sal so iets binne 24 tot 48 uur verby wees, maar dié ramp kan maande duur. Ons het nie die personeel om so lank op so ’n intense vlak te werk nie en die spesialiteitsdienste is nie genoeg nie.”

Of soos ’n apteker by ’n privaat hospitaal in Kaapstad dit kort en kragtig opsom: “Geen land kan dit hanteer as ál sy mense gelyk siek word nie.”

Hoeveel Suid-Afrikaners sal COVID-19 opdoen?

Was dit nie vir die algehele inperking om te keer dat die coronavirus te vinnig na te veel Suid-Afrikaners versprei nie, sou ’n geskatte 60% van die bevolking – sowat 35 miljoen mense – met die virus besmet geword het, sê dr. Melinda Suchard, ’n woordvoerder van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes.

“Met inperking en sosiale distansiëring verwag ons dat dit heelwat minder sal wees.”

Sonder die landwye inperking skets sy ’n somber prentjie: Sowat 20% (7 miljoen) van die COVID-19-gevalle sou gehospitaliseer moes word. Sowat 5% (1,8 miljoen) sou kritieke sorg benodig en 1% (354 000) sou weens dié siekte sterf.

Maar hoe lyk die prentjie noudat ons wel ingeperk is? Dit is moeilik om te voorspel hoeveel mense die coronavirus gaan kry en hoeveel van hulle gehospitaliseer sal moet word, sê ’n kenner wat anoniem wil bly en verbonde is aan die Sentrum vir Uitnemendheid vir Epidemiologiese Modellering en Analise aan die Universiteit Stellenbosch.

Uit internasionale skattings blyk dit dat 20% van die kliniese gevalle ernstig is en hospitalisasie vereis.

“Dit hang af hoe doeltreffend die ingrypings gaan wees wat ons nou doen. Griep steek elke jaar omtrent 20% van die Suid-Afrikaanse bevolking aan. SARS-CoV-2 (die nuwe coronavirus) is aansteekliker en versprei vinniger; daarom kan ons verwag dat die aantal infeksies meer, of selfs heelwat meer, sal wees.”

Uit internasionale skattings blyk dit dat 20% van die kliniese gevalle ernstig is en hospitalisasie vereis, sê hy. ’n Ligpunt is dat die Suid-Afrikaanse bevolking jonk is vergeleke met dié van ’n land soos Italië waar COVID-19 veral die lewe van bejaardes eis, meen prof. Brendan Girdler-Brown van die Universiteit van Pretoria wat in epidemiologie en aansteeklike siektes spesialiseer.

Mediese personeel in Rome, Italië, tydens ’n ­medi
Mediese personeel in Rome, Italië, tydens ’n ­mediakonferensie toe ’n vierde hospitaal geopen is in ’n poging om die pandemie te stuit. Foto: Gallo Images/Getty Images

In Suid-Afrika is net 8% (4,42 miljoen) van die bevolking ouer as 60, terwyl 23% (sowat 14 miljoen) van Italië se bevolking van 60 miljoen ouer as 65 is.

“Omdat ons bevolking jonk is, kan ons minder ernstige gevalle en minder beddens per 100 000 van die bevolking nodig hê as in Engeland en Italië,” sê Brendan.

“Maar ons het weer baie mense wat MIV het en ons weet nie hoe dit die vatbaarheid en die erns van die virus kan beïnvloed nie,” voeg hy by.

Ons sal ook moet wag en sien watter rol die seisoenswisseling speel.

“As die virus meer in die winter versprei, kan ons in die moeilikheid wees, behalwe as die huidige strategie werk.”

Het ons genoeg beddens?

Nege hospitale in die land word nou as isolasie- en noodsentrums vir COVID-19-pasiënte gebruik, maar alle ander akademiese en staatshospitale is ook ingerig om mense te behandel, sê Popo Maja, ’n woordvoerder van die departement van gesondheid.

“As daar ’n behoefte ontstaan, sal beddens in die privaat gesondheidsorg ook gebruik word vir pasiënte wat nie ’n mediese fonds het nie.”

Die minister van openbare werke, Patricia de Lille, het al laat blyk dat 1 600 bykomende hospitaalbeddens reeds as potensiële kwarantyngeriewe geïdentifiseer is, asook hotelle en vakansieoorde en staatsgeboue. Volgens haar woordvoerder, Zara Nicholson, kan net die nasionale gesondheidsdepartement besluit hoeveel van dié plekke gebruik sal word.

Huisgenoot het herhaaldelik by die departement van gesondheid navraag gedoen oor of ons genoeg beddens, ventilators en toerusting het, maar het teen druktyd nog nie antwoorde ontvang nie.

Luidens ’n artikel van prof. Alex van den Heever van die Universiteit van die Witwatersrand in die Daily Maverick is daar in openbare en die privaat gesondheidsorgsektore in die land altesaam net meer as 7 000 beddens in die kritiekesorg-eenhede.

Maar dit beteken nie almal sal vir COVID-19-pasiënte beskikbaar wees nie. In staatshospitale is ’n geskatte 80% reeds beset en in privaat hospitale sowat 50%. Dit laat ons landwyd met net minder as 3 000 beskikbare beddens in kritiekesorg-eenhede. Intussen word planne beraam om die tekort aan te vul.

By die Universitas-hospitaal in Bloemfontein het hulle die getal beddens in hul kritiekesorg-eenheid van 19 tot 86 verhoog. Kraam- en nageboortesale is ook ingerig vir COVID-19-pasiënte.

“Alle personeel, insluitend portiers en skoonmakers, se opleiding is verskerp. Die hele span is behoorlik opgelei om beskermende drag aan en uit te trek en het die kennis om COVID-19-pasiënte veilig te hanteer,” het die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, ná ’n onlangse besoek aan die hospitaal in ’n verklaring gesê.

Ons is besig om een probleem aan te skuif, net om later ’n volgende een te beleef.

Die Universitas-hospitaal volg ook strategieë om meer beddens beskikbaar te stel deur pasiënte vroeër te ontslaan. By ’n staatshospitaal in KwaZulu-Natal is kritiekesorg-eenhede normaalweg 90% vol, vertel ’n dokter wat daar werk. Hulle probeer nou die getal pasiënte verminder deur sekere operasies uit te stel.

“Dit beteken pasiënte kan dalk later komplikasies ontwikkel. Ons is besig om een probleem aan te skuif, net om later ’n volgende een te beleef.”

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid het ses privaat hospitaalgroepe gekontak oor die gebruik van hul geriewe as die staatshospitale oorvul word, het dr. Beth Engelbrecht, hoof van die departement, gesê.

“Al ses van hulle is aan boord. Dit is ’n nasionale ramp en ons is nou ’n verenigde gesondheidstelsel.”

Alle mediese personeel en dokters soos narkotiseurs wat in ander departemente werk, sal heel moontlik ook COVID-19-pasiënte help behandel. Ook afgetrede medici kan ingeroep word. Daar word ook reeds voorbereidings getref om veldhospitale in die Wes-Kaap op te slaan wanneer daar in die wintermaande ’n groot toename in virusinfeksies verwag word, sê die Wes-Kaapse premier, Alan Winde.

“Ons het spanne oor die hele provinsie wat na moontlike persele vir veldhospitale kyk.”

Het ons genoeg ventilators?

Medici is nie net bekommerd oor ’n tekort aan beddens nie; hulle is ook gekwel oor die tekort aan ventilators. Die masjien red lewens deur as’t ware die funksie van die longe oor te neem.

’n Bron na aan regeringsamesprekings op hoë vlak het aan News24 gesê daar is sowat 4 000 ventilators in die privaat gesondheidsorgstelsel en net sowat 200 in die openbare sektor.

’n Ventilator gee asemteue met suurstof vir ’n pasiënt wat nie self kan asemhaal nie of wie se longe nie behoorlik kan funksioneer nie.

Wêreldwyd heers ’n tekort aan ventilators omdat die vraag daarna te midde van die COVID-19-pandemie so groot is, sê Aquila Tshimanja, ’n verkoopsagent van Afrimedics in Suid-Afrika.

Volgens hom word ventilators wel plaaslik vervaardig, maar hoofsaaklik uit lande soos China en Duitsland ingevoer. Pryse wissel van R22 000 vir ’n draagbare ventilator tot R61 000 en R200 000 (afhangend van die model) wat in hospitale gebruik word.

’n Ventilator gee asemteue met suurstof vir ’n pasiënt wat nie self kan asemhaal nie of wie se longe nie behoorlik kan funksioneer nie, verduidelik dr. Greg Calligaro, ’n longspesialis van die Grootte Schuur-hospitaal in Kaapstad.

COVID-19 begin as ’n boonste lugweginfeksie wat met ’n hoes en seer keel gepaardgaan. Daarna beweeg dit deur jou keel na jou laer lugwegstelsel en veroorsaak inflammasie in die klein lugsakkies in die longe wat alveoli genoem word. Dit belemmer die vloei van suurstof uit die longe na die bloedstroom.

Dit is nie ’n behandeling vir die longe nie, maar gee die longe kans om self te herstel.

“Ons besluit om ’n pasiënt se asemhaling meganies met ’n ventilator te steun wanneer die long soveel inflammasie het dat die pasiënt nie deur die neusbuisies of gesigmasker genoeg suurstof vir die liggaam kan gee of behoorlik van die koolsuurgas ontslae kan raak nie,” verduidelik Greg.

“Die ventilator word aan die pasiënt gekoppel deur ’n pyp aan sy keel wat deur die stembande gaan. Dit is nie ’n behandeling vir die longe nie, maar gee die longe kans om self te herstel.

So verander hospitale

In ’n staatshospitaal in Kaapstad is ’n deur wat dit in twee verdeel: een deel vir COVID-19-pasiënte en een vir ander pasiënte, elk met verskillende ingange.

“Die oomblik wanneer jy by die deel wil ingaan waar met die COVID-19- pasiënte gewerk word, moet jy nuwe beskermende drag aantrek, en wanneer jy daar uitgaan, moet jy dit uittrek. Daar is selfs ’n sekuriteitswag om seker te maak mense kom dié reël na,” vertel ’n dokter.

Die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad is een van die
Die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad is een van die isolasiesentrums in die Wes-Kaap.

Verskillende hospitale pas die nasionale gesondheidsdepartement se riglyne oor die COVID-19-pandemie volgens hul uitleg en kapasiteit aan, verduidelik sy.

“Niemand kom meer by die hospitaal in voor hulle nie ondervra word nie en besoekers word nie meer toegelaat nie.”

Die hospitaal is vol plakkate om goeie higiëne aan te moedig, en enige sieke wat hoes, kry onmiddellik ’n gesigmasker. Die hospitaal het die dokters gevra dat niemand meer in gewone klere werk nie. maar ’n hospitaaluniform dra wat hulle moet uittrek voor hulle die hospitaal verlaat.

’n Teken by dié hospitaal wat aandui waar toetse v
’n Teken by dié hospitaal wat aandui waar toetse vir die corona­virus gedoen kan word.

“Daar is baie dokters wat elke dag hul klere van die hospitaal in hul motorhuis uittrek voor hulle die huis binnegaan,” vertel die dokter.

Dr. Pierre Nel, wat aan die Witbank-hospitaal verbonde is, sê die meeste hospitale het nou ’n stasie buite waar mense ondervra word om te kyk of hulle aan die vereistes voldoen om vir die coronavirus getoets te word. Pasiënte word onder meer gevra of hulle koors of ’n seer keel het, hoes en kortasem is.

As die dokter self siek word

Dokters en ander gesondheidswerkers loop self ’n groot risiko om COVID-19 by die pasiënte in hul sorg aan te steek. Duisende gesondheidswerkers in China, Italië en Amerika het al positief getoets vir die coronavirus. Dit het die lewe van minstens vyf dokters in China geëis.

In Suid-Afrika het twee dokters van die Mmametlhake-hospitaal op Hammanskraal, Mpumalanga, positief getoets vir die virus. Hulle is geïsoleer. Dieselfde protokol geld vir dokters wat die virus opdoen as vir lede van die publiek. Wanneer hulle positief toets, sal hulle geïsoleer en behandel word, afhangend van hoe erg hul simptome is, sê dokters met wie Huisgenoot gepraat het.

Wêreldwyd is daar ’n tekort aan persoonlike beskermende toerusting vir gesondheidswerkers, sê minister Zweli Mkhize.

“Ons departement werk saam met die internasionale gemeenskap en ondernemings om seker te maak ons het genoeg toerusting.”

Tracy Sanders

Tracy Sanders is ’n dokter van Middelburg. Foto ve
Tracy Sanders is ’n dokter van Middelburg. Foto verskaf

Intussen hou dokters soos Tracy Sanders asem op oor hul eie veiligheid en dié van hul geliefdes.

“Almal is angstig en gekwel – oor hulself en hul familie. Veral omdat ons gesien het wat in Italië en Wuhan gebeur het,” sê Tracy, wat met haar gemeenskapsjaar by ’n mediese sentrum op Middelburg, Mpumalanga, besig is.

“Die Suid-Afrikaanse gesondheidstelsel het nie genoeg toerusting nie, nie genoeg maskers nie, nie genoeg van die regte drag nie, en ons hulpbronne is beperk. Almal stres by die werk en is bang hulle neem dit (die virus) na hul gesin.”

Haar ouers woon in Gauteng, en terwyl sy voorheen byna elke naweek by hulle gekuier het, het sy nou daarteen besluit uit kommer oor hul gesondheid. Wanneer dinge te moeilik raak en sy voel sy wil net huis toe gaan en in die bed kruip, herinner sy haarself aan waarom sy ’n dokter geword het.

“Ons het so ’n belangrike rol om te speel,” sê Tracy. “Dit gaan later ook oor jou eie familie en jy moet onthou jy behandel iemand anders se familie.”

Mariska le Roux

Mariska le Roux van Port Elizabeth werk al 16 jaar as ’n nooddienswerker. Sedert die coronavirus ook in Suid Afrika kop uitgesteek het, is die veiligheidsmaatreëls wat hulle normaalweg volg verder opgeskerp.

“In my agterkop dink ek nie net aan die pasiënte wat ek behandel nie, maar ook aan my twee seuntjies na wie ek vanaand huis toe gaan. Is die veiligheidsmaatreëls genoeg om my kinders te beskerm of gaan ek die oorsaak wees dat een van hulle siek raak?” sê sy.

“Ek kan sien die ding takel my 10-jarige af. Hy het binne dae stiller geword en los my vir geen oomblik alleen nie. Ná ’n 12 uur lange skof gaan ek moeg huis toe met die dag se gebeure nog vars in my geheue. Kan ek maar my seuns ’n drukkie en ’n soentjie gee?” wonder sy dan.

Xander Loubser

Die paramedikus Xander Loubser en sy seuntjie, Ma
Die paramedikus Xander Loubser en sy seuntjie, Marcél. Fot verskaf

Ook Xander Loubser, ’n ambulansbestuurder van Pretoria, leef met die COVID-19-gevaar saam.

“Elke keer wanneer ek ’n hoesie het, wonder ek,” erken hy. “Al weet ek dat ek dit waarskynlik sal oorleef as ek dit sal kry.

“Ek dink ek sou myself al soveel kere laat toets het as ek kon. Die spanning veroorsaak ook hoofpyn en ander simptome wat soortgelyk is aan COVID-19.”

Vir Xander en sy verloofde, Meri Langenhoven, ’n saalklerk by ’n hospitaal, is dit moeilik om in dié tyd van inperking van hul sesjarige seun geskei te wees wat nou noodgedwonge by sy oupa en ouma bly.

Ten spyte van al die opofferings vir hom en sy gesin kan selfs die COVID-19-pandemie hom nie afskrik om agter die stuur van sy ambulans in te skuif nie. “As ek alles oor kon kies, sou ek dit weer doen,” sê Xander. “Want ek vra myself: As ons dit nie gaan doen nie, wie sal dit doen?”

Ekstra bronne: News24.com, Nytimes.com, LinkedIn.com, Dailymaverick.co.za, Thesun.co.uk, Aljazeera.com, Bussinessinsider.com; FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GALLO IMAGES/MISHA JORDAAN, GALLO IMAGES/NARDUS ENGELBRECHT, VERSKAF, INSTAGRAM/@TYPE1TRACY
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.