Dit voel soos gister wat die land se daaglikse infeksiesyfer vir COVID-19 onder 300 was en die land se algehele infeksiesyfer nog onder 10 000. 

Nege weke gelede het pres. Cyril Ramaphosa die pandemie as 'n nasionale ramp verklaar en die land in inperking geplaas. 

Die weermag is ingeroep en streng reëls is in plek gesit om te verseker dat almal in hul huise bly. 

Maar steeds styg die syfers.

Volgens die jongste statistieke wat die departement van gesondheid op 28 Mei uitgereik het, het 27 403 mense in Suid-Afrika reeds die coronavirus opgedoen. Dit is 'n yslike 1 466 nuwe gevalle wat aangemeld is sedert die vorige dag. 

Boonop staan die land se dodetal tans op 577. 

So wat skort?

As die land dan nog ingeperk is, hoekom word die infeksiegetalle by die dag net meer?

“Ná die aankondiging van die inperking het ons 'n afname in die infeksiegetalle ervaar grootliks weens die gedwonge sosiale distansiëring. Mense in formele nedersettings kon dit makliker regkry as dié wat in informele gebiede woon. Die sluiting van die lands- en provinsiale grense het ook verder tot die daling bygedra,” sê prof. René English, hoof van die gesondheidstelsels en openbare gesondheid by die fakulteit van mediese en gesondheidswetenskap aan die Universiteit Stellenbosch. 

“Daar word wel geglo dat hoewel die regering die aanvanklike gevalle, en dié met wie hulle in kontak was, getoets het, daar ook mense was wat hulle nie geïdentifiseer het om te toets nie, siende dat daar 'n persentasie van gevalle is waar die persoon asimptomaties was, en dat die virus reeds 'n paar dae voor die persoon enige simptome toon, kan begin versprei.”

Prof. English sê met tyd is meer gevalle in die gemeenskappe geïdentifiseer wat hoofsaaklik rondom werkplekke soos inkopiesentrums, voorgekom het. 

 “Die getalle in die Wes-Kaap neem toe, want spesifieke plekke word geteiken om te toets waar daar reeds geïnfekteerde gevalle is. En ongelukkig is daar gebiede waar sosiale distansiëring en persoonlike higiëne in die gemeenskappe nie moontlik is nie. Dit maak die nakom van die inperkingsreëls uiters moeilik.” 

Beteken dit dan dat ander provinsies, buiten die Wes-Kaap wat tans die hoogste infeksiegetalle het, se infeksiekoers eintlik veel meer kan wees?

“Die Wes-Kaap volg 'n ander toetsingmetode as die ander provinsies,” meen prof. Tarryn Young, hoof van die departement van wêreldgesondheid by die fakulteit van mediese- en gesondheidswetenskap aan die Universiteit Stellenbosch. 

“Hulle gebruik 'n toetsingmetode wat op spesifieke plekke geteiken is, eerder as die algemene toetsingbenadering wat die ander provinsies volg.

"Byvoorbeeld waar werkplekke geïdentifiseer is waar 'n groep mense die virus opgedoen het, word die relevante gemeenskappe ook getoets. Daar is dus 'n hoër trefsyfer."

Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes voer die Wes-Kaap meer toetse uit per 100 000 mense teenoor enige ander provinsie in die land. 

Prof. English sê die land kan 'n verdere toename in die infeksiekoers verwag namate die inperkingsreëls gelig word en meer mense in kontak met mekaar sal kom. 

“Die hele doel van die inperking en die uitfasering daarvan was om die infeksiekoers te vertraag sodat die regering die land se hospitale en ander gesondheidsfasiliteite daarop kan voorberei. Hoewel 'n groot hoeveelheid pasiënte met COVID-19 net ligte simptome sal ervaar, sal daar ander wees was se simptome veel ernstiger sal wees en dus gehospitaliseer moet word.

"As die hospitale nie voorbereid is nie, sal hierdie toename in infeksies die gesondheidstelsel oorweldig en die dodetal sal gevolglik ook styg.

"Dus was die inperking 'n baie belangrike strategie.”

Prof Young beaam dit en sê deur die inperking is die infeksiekoers oor 'n langer periode versprei teenoor 'n groot hoeveelheid infeksies in 'n kort tydperk wat die gesondheidstelsel kan oorweldig, soos met Italië en Spanje gebeur het.

Moet ons bekommerd wees?

“Dit is natuurlik om bekommerd te wees oor 'n pandemie soos COVID-19, maar mense moet in gedagte hou dat in die meeste gevalle is die simptome baie lig en mense kan in selfisolasie gaan,” meen prof. English. 

“Wat elke persoon kan doen, is om hul gedrag te verander om te verhoed dat jy jouself en die mense rondom jou aansteek. “

Tree op asof jy reeds COVID-19 het en jou hoofdoel is om seker te maak jy dra die virus nie oor na ander nie.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op Instagram, Twitter en Facebook, en teken gerus in op ons nuusbriewe