Waar sy aanvanklike teiken R15 000 was, het Suid-Afrikaners sowel as talle buitelanders wat deur sy inisiatief, sorgsaamheid en passie vir die omgewing geraak is, teen begin vandeesmaand al meer as R30 000 bygedra.

En hoewel hy niks in ruil verwag het nie, het die voëlparkspan na wie hy so uitgereik het hom op hul beurt heerlik op sy verjaardag verras.

covid
Saam met sy trotse ouers, Delsha Moodley en Clive Valentine. Foto: Verskaf

“Dis fenominaal. Ek’s baie dankbaar teenoor elkeen wat my veldtog ondersteun het. Saam het ons die voëls gehelp!” sê dié geesdriftige omgewingsaktivis – wat ook heel knap met potlood en kwas is wanneer dit by sy geliefkoosde onderwerp kom.

Die Umgeni River Bird Park is, sedert sy stigting 36 jaar gelede deur dr. Alan Abrey, ’n ware lushof vir enige natuurliefhebber – die tuiste van honderde voëls van 200 verskillende spesies, van neushoringvoëls en kraanvoëls eie aan Suid-Afrika tot arapapegaaie, die wit oosterse pelikaan en die seldsame nicobarduif.

“Hulle help met die bewaring en teel van sekere spesies wat ernstig bedreig word,” sê Delsha Moodley, Romario se ma. “Die park bied 'n wonderlike geleentheid vir kinders om manjifieke voëlspesies van naby te besigtig en hulle soms te voer.”

Romario het nog altyd graag daar gaan draai, en 'n groot liefde vir voëls ontwikkel, wat hom ook aangespoor het om van hulle te begin skilder.

Dit kos egter baie geld om die park te bedryf, “en toeriste en ander besoekers en inkomstestrome is dus noodsaaklik vir hulle”. En Romario was baie afgehaal toe hy hoor hulle moes tydelik weens die covidsituasie sluit.

“Weens die inperking kon ek nie vir my verjaardag na die park toe gaan nie. Toe vra ek my ma om my ’n veldtog op BackABuddy te help begin. Ek wil nie hê die voëls moet dalk verhonger of uitsterf nie,” vertel hy ons.

Die parkpersoneel was so beïndruk deur sy gebaar dat hulle hom ’n week gelede, net die dag voor sy verjaardag, oorgenooi het vir 'n spesiale bederfie: Hulle het ’n sertifikaat van uitnemendheid aan hom oorhandig, en die park se kurator, Tarryn Bristow, was sy gids op 'n kort toer deur die park.

“So is sy oorspronklike verjaardagwens toe ook bewaarheid,” lag Delsha.

“Romario kon byvoorbeeld ’n galahkaketoe genaamd George van naby sien, én ’n hamerkopnes – dié voëls het juis gedurende die inperking nou vir die eerste keer in 20 jaar na die park teruggekeer. En toe ons vertrek, kry hy boonop ’n hallo! en ‘fladderende applous’ van die aras en wit kaketoes!”

covid
Foto: Verskaf

Die geld wat Romario insamel, kan onder meer vir Umgeni River Bird Park se Inspire to Conserve-program, grootliks gemik op kinders, aangewend word, sê Delsha.

Hy teken en verf al so vandat hy vyf is, toe hy wiskundige kunstekening- en skilderlesse saam met haar begin neem het.

“Wat as bloot pret begin het, het nou ook in een van sy voorliefdes ontwikkel.”

Die hoephoep, goue fisant, reevesfisant, byevreter en neushoringvoël was van sy gunstelingonderwerpe.

covid
Foto: Verskaf
covid
Foto: Verskaf

Benewens sy liefde vir die natuur en omgewing, hou sy seun ook van sport – alles van sokker, krieket en tennis tot hokkie, swem en landloop, vertel sy trotse pa, Clive. Ja, hy is hoeka na daardie Brasiliaanse sokkerlegende vernoem.

“Hy hoop om eendag so ’n ywerige doelskieter soos sy naamgenoot te wees!,” grinnik hy.

Sy belangstelling in die omgewing kom al ’n entjie ver. “Toe hy ses was, het hy ’n orca in ’n skooltoneelstuk gespeel. En toe hy daarna lees dié moordwalvisse word weens oseaanbesoedeling bedreig, het hy gereken ons kan hulle help red deur strande te help skoonmaak.

covid
Foto: Verskaf

“Sy eerste strandskoonmaak was in Julie 2017, en hy maak nog elke week so om bewustheid te help skep van hoe die seelewe en seevoëls deur plastiek en ander rommel bedreig word.”

Intussen twyfel Romario self nie aan wat die toekoms vir hom inhou nie: “Ek wil ’n wetenskaplike word om ons omgewing te help beskerm.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe