Elke hond kry sy dag, en eindelik dalk ook elke leeu, wolf en pikkewyn . . . Terwyl miljoene mense wêreldwyd nou tuis ingeperk is, kan die diereryk weer asemskep en uitspan – al is dit dan ook net ’n kortstondige blaaskans.

G’n leeu hoef hom immers aan die inperking te steur nie, en as mens se kind op hok moet bly, kan die koning van die diereryk mos maar sy uiltjies in die oopte knip?

Dié dat die Krugerwildtuinbewaarder Richard Sowry onlangs ’n foto kon neem van ’n trop leeus wat helder oordag buite die Orphenruskamp in die wildtuin ’n bietjie op die teerpad skuinslê. Nadat die Kruger sy hekke vir die inperking moes sluit en toeriste nou buite moet bly, is koning leeu weer baas van die plaas.

En dis nie net die leeus wat nie meer skugter in die skadu’s skuil nie. Dwarsoor die wêreld waag diere dit nou op plekke wat voorheen van mense gewemel het.

Pikkewyne waggel deur verlate strate in Simonstad naby Kaapstad, wolwe loop deur San Francisco in Amerika asof die stad aan hulle behoort, en bergbokke baljaar op ’n dorp in Wallis. Maar wees gewaarsku: Nie al die foto’s wat wys hoe die diereryk “herstel”, weerspieël die waarheid nie.

Daar onder loop drie pikkewyne . . . ’n Groepie pi
Daar onder loop drie pikkewyne . . . ’n Groepie pikkewyne loop heerlik in die verlate strate van Simonstad naby Kaapstad rond. Met minder voertuie op die pad kan hulle die hele dorp vol rondloop, met wildbewaarders van die Suid-Afrikaanse Nasionale Stigting vir die Beskerming van Kusvoëls wat ’n waaksame ogie hou.

Daardie foto’s van dolfyne wat kwansuis in Venesië se verlate kanale baljaar? Dit was fopnuus. Ja, skryf National Geographic se Natasha Daly op die organisasie se webtuiste, ons wou dit glo, maar ’n mens moenie alles glo wat jy sien nie.

Die water om Venesië is dalk nou so helder dat jy visse daarin kan sien swem, maar die dolfyne is eintlik by die eiland Sardinië in Italië afgeneem.

Die watergehalte in Venesië het merkbaar verbeter
Die watergehalte in Venesië het merkbaar verbeter as gevolg van die afwesigheid van verkeer in die kanale. Inwoners van Venesië kan nou selfs weer die visse in die water sien.

“En die rede waarom die water in Venesië so helder is, is hoofsaaklik dat die slik wat gewoonlik deur honderde bote opgeklits word na die bodem gesink het,” voeg sy by.

Die stories van swane wat na Venesië “terugkeer”, is ook onwaar – daar’s eintlik gereeld swane in die kanale van Venesië se Burano-eiland te sien. En daardie foto’s van “besope” olifante in verlate teeplantasies in China? Dit was ook ’n verdraaiing van die waarheid.

“Die verskynsel beklemtoon hoe vinnig gerugte wat die oë laat rek en te goed klink om waar te wees in ’n krisistyd kan versprei. Mense deel graag plasings wat hulle emosioneel maak. Wanneer ons gespanne voel, kan opbeurende dieremateriaal onweerstaanbaar wees,” verduidelik Natasha.

’n Kaapse luiperd loop op die L’Ormarins-­wynlandg
’n Kaapse luiperd loop op die L’Ormarins-­wynlandgoed op Fransch­hoek rond.

Maar dat diere wêreldwyd ’n blaaskans kry, is gewis. En kenners beklemtoon dit is nie net die diereryk wat voordeel trek uit ons verlate wêreld nie.

Verstommende voor- en ná-foto’s van oor die hele wêreld wys hoe helder en skoon die lug bo stede is waar daar vroeër digte rookmis gehang het. Lugbesoedeling het drasties afgeneem in tientalle lande – tot 40% op sommige plekke – en binne enkele weke het die luggehalte aansienlik verbeter.

Tyd vir ’n bietjie inkopieterapie! ’n Pou loop bu
Tyd vir ’n bietjie inkopieterapie! ’n Pou loop buite ’n winkelsentrum in Doebai rond.

Miskien dui dit op hoe die aarde opnuut sal begin asemhaal wanneer ons dit eindelik regkry om meer groen energie te begin gebruik en kweekhuisgasse te verminder, meen kenners.

Ons kan belangrike lesse leer uit die impak van die internasionale inperking op die natuur, sê Paul Monks, ’n professor in lugbesoedeling aan die Universiteit van Leicester in Brittanje, in die Britse koerant The Guardian.

: ’n Wolf naby die Golden Gate-brug in San Francis
: ’n Wolf naby die Golden Gate-brug in San Francisco.

“Sonder dat ons dit so bedoel of besluit het, doen ons nou die grootste eksperiment ooit,” sê hy. “Sien ons dalk hoe dit in die toekoms sal lyk as ons na ’n laekoolstofekonomie kan oorskakel?

“Ek wil nie die lewensverlies weens die pandemie afmaak as niks nie, maar daar lê dalk ’n bietjie hoop in iets verskrikliks: om te sien wat bereik kan word.”

Wilde bokke in die strate van Llandudno in Wallis.
Wilde bokke in die strate van Llandudno in Wallis.

Die afname in lugbesoedeling kan selfs uit die ruimte gesien word. Nasa se satelliete het ’n merkbare vermindering in besoedeling oor China se grootste stede vasgelê toe die coronavirus vroeër vanjaar in dié land versprei het.

Miljoene mense is in kwarantyn geplaas, voertuigverkeer het so te sê verdwyn en duisende fabrieke is gesluit.

“Dit is die eerste keer dat ek so ’n drastiese afname oor so ’n wye gebied vir ’n spesifieke gebeurtenis sien,” het Fei Liu, ’n luggehaltenavorser aan Nasa se Goddard Space Flight Center, aan CNN gesê.

Paul sê die afname in besoedelingsvlakke is ook duidelik in die lug bo Europa en Brittanje.

Etenstyd? Takbokke by die ingang van ’n restauran
Etenstyd? Takbokke by die ingang van ’n restaurant in Nara, Japan.

Padverkeer veroorsaak hier tot 80% van stikstofoksiedvrystellings, maar die inperking in verskeie Europese lande het verkeer drasties laat afneem.

“Vir elke kilometer wat nié deur ’n deursneedieselmotor gery word nie, word verhoed dat 52 mg van dié besoedelstof in die lug beland,” doen Paul die eenvoudige som. “Ek dink ons sal hierna besef dat daar baie potensiaal is om die manier wat ons werk en lewe te verander,” voeg hy by.

“Dit daag ons uit om in die toekoms te vra: Is dit regtig nodig om met ons motor soontoe te ry of brandstof daarvoor te verbrand?”

 ’n Poema wat op soek is na kos, waag dit in die s
’n Poema wat op soek is na kos, waag dit in die strate van Santiago, Chili, te midde van die afwesigheid van mense.

Tog bring die inperking nie net goeie nuus vir die natuurwêreld nie. Lugbesoedeling is dalk minder en wilde diere weer tuis op plekke wat mense tot onlangs oorheers het, maar daar is ook gevaarligte.

Baie van die wêreld se dier- en plantspesies kom voor in lae-inkomstelande waar regerings minder geneig is om inwoners te ondersteun. Wanneer kos ál skaarser word, kan jag en stroop vir baie mense ’n manier word om kos in die hande te kry of ’n inkomste te genereer.

Nasa-beelde van China wys die drastiese daling in
Nasa-beelde van China wys die drastiese daling in stikstofoksied, ’n gevaarlike gas wat deur karre en nywerhede vrygestel word.

“In baie reservate sal mense ingaan en skiet of self strikke gebruik om wildsbokke te vang – om die vleis by ’n plaaslike mark te verkoop of die familie kos te gee,” sê Matt Brown van die liefdadigheidsorganisasie The Nature Conservancy. Natuurbewaarders is boonop bekommerd die voortslepende pandemie sal veroorsaak dat toeriste nog lank uit wildparke wegbly – en dat stroping dan sal toeneem.

“Toerisme in Afrika het tot stilstand gekom,” sê Matt. “Dit beïnvloed inkomste, en dus die werk van die veldwagters.

Bo: Venesië se Groot Kanaal soos dit tans lyk. Hee
Bo: Venesië se Groot Kanaal soos dit tans lyk. Heel bo: Dieselfde gebied voor die inperking.
n die 21ste eeu was Indonesië een van die lande me
In die 21ste eeu was Indonesië een van die lande met die hoogste afname in die gehalte van hul lug. Die vlak van lugbesoedeling het tussen 1998 en 2016 met 171% gestyg. Heel bo is ’n foto van die hoofstad, Djakarta, in Julie 2018, bedek met rookmis. Bo is dieselfde plek op 16 April vanjaar.
Bo: Die oorlogsgedenkteken in Nieu-Delhi op 8 Apri
Heel bo: Die oorlogsgedenkteken in Nieu-Delhi op 8 April vanjaar. Bo: Dieselfde gebied op 17 Oktober verlede jaar.

“Ons voorspel – en ons sien dit reeds in Suid-Afrika – dat stroping vir kosbare produkte soos renosterhoring en ivoor sal toeneem wanneer mense geen ander alternatiewe inkomste het nie. Ons moet waaksamer as ooit met ons veldwagterpatrollies wees om die kritiekbedreigde spesies in hierdie tyd te help beskerm.”

Want lank ná COVID-19 wil ons die aarde steeds met ons dierebure deel. 

BRONNE: Telegraph.co.uk, nationalgeographic.com, guardian.com, abcnews.go.com; FOTO's: JEAN ROSSOUW/SKUKUZA GOLF CLUB/SANPARKS, SANCCOB/ MIKAELA SLIER, GALLO IMAGES/REUTERS, GALLO IMAGES/AFP, GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, NASA, FACEBOOK/ MARCO CAPOVILLA
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.