En toe kom die groot teleurstelling: Ná die ure en ure se oefening op sy skaatsplank, is vanjaar se Spele weens die uitbreek van COVID-19 uitgestel.

“Die Olimpiese Spele was altyd my einddoel," vertel Jean-Marc Johannes.

Die skaatsplankryer van Athlone in Kaapstad was slaggereed om vanjaar sy staal by die Spele – wat van 24 Julie tot 9 Augustus sou plaasvind – te wys, maar sal nou daarmee tevrede moet wees om in 2021 mee te ding nadat die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) Maandagmiddag aangekondig het die Spele skuif na 24 Augustus tot 5 September aanstaande jaar.

"Ek het hard daarvoor gewerk en die afgelope paar maande het my oefening, fisiek en op die plank, toegeneem.

“Ek het myself gedruk tot op die hoogste vlak en het net my einddoel van die Olimpiese Spele in gedagte gehou.”

Hy kon nie glo toe hy kwalifiseer nie, sê Jean-Marc.


In 2016 het Jean-Marc op sy skaatsplank na wêreldroem gery toe hy die eerste Suid-Afrikaner word wat ’n gouemedalje in ’n internasionale kompetisie, die FISE-wêreldkampioenskaptoernooi in China, wen.

Boonop het Jean-Marc al drie Guinness-wêreldrekords verbeter. Die eerste een het hy in 2017 verbeter toe hy 14 nollies – dis wanneer jy die staatsplank vorentoe na links swaai – in 52 sekondes afgelê en die jaar daarna het hy sy eie rekord verbeter toe hy 18 nollies in 45 sekondes aflê.

Verlede jaar in Julie het hy die derde keer die rekordboek gehaal toe hy 12 fakies onder ’n minuut gedoen het. ’n Fakie is wanneer jy die plank agtertoe swaai na regs, verduidelik Jean-Marc. Dié rekord is vantevore 13 jaar lank deur Rob Dyrdek, die aanbieder van die MTV-program Ridiculousness, gehou.

"Dis baie moeilik om te doen," verduidelik Jean-Marck. "Ek verstaan hoekom dit 13 jaar geneem het om sy rekord van 11 fakies in onder ’n minuut te verbeter."


Sy voorbereiding om in 2017 se Olimpiese Spele teen ander skaatsplankryers kragte te meet, het al in 2017 begin en dié jaar het hy sy droom laat waar word en gekwalifiseer. Maar nou sal hy nog ’n jaar moet wag om sy doelwit te bereik.

“Ek het my eintlik voorberei vir die aankondiging dat dit uitgestel gaan word. Toe ek sien dat al die ander groot sportbyeenkomste gekanselleer word, het ek geweet dit gaan met die Olimpiese Spele ook gebeur.”

Hy sou onlangs ook in Los, Angeles in die VSA – wat erg deur die COVID-19-pandemie geraak is – aan ’n toernooi deelneem, maar dis ook gekanselleer.

“Toe dié toernooi voor die Olimpiese Spele gekanselleer is, het ek geweet die Spele is volgende.”

Hoewel hy nou nog ’n jaar gaan wag, verstaan Jean-Marc die rede agter die uitstel. “Dié is ’n situasie waardeur die wêreld in die gesig gestaar word en ter wille van die veiligheid en gesondheid van die atlete en toeskouers, is ek bly dis uitgestel.” 

Dit beteken dat hy nou meer tyd het om voor te berei, sê Jean-Marc. “Ek het nou meer tyd om te oefen. 

“Die Olimpiese Spele in 2021 sal net nog groter en beter wees en ek maak my nou daarvoor gereed.”