Net ’n paar maande gelede was die woord “coronavirus” iets waaroor Suid-Afrikaners skaars gewonder het; nou is dit byna al waaroor ons praat en waaraan ons dink . . .

Al neem dit ons gesprekke en gedagtes oor, bly daar baie onbeantwoorde vrae oor die virus en siekte wat die ganse wêreld op hol het. Huisgenoot het van dié vrae aan van die voorste plaaslike leiers in die stryd teen die pandemie gestel, en hulle het ingestem om hul ingeligte ­mening te deel.

Twee van dié kenners is prof. Salim Abdool Karim en prof. Nombulelo Magula, lede van pres. Cyril Ramaphosa se ministeriële advieskomitee oor die COVID-19-virussiekte en -pandemie. Die derde is dr. Richard Lessells, ’n lid van die Universiteit van KwaZulu-Natal se span wat die plaaslike en internasionale reaksie op die pandemie steun.

Hier beantwoord hulle 10 van ons belangrikste vrae.

1. Is dit so dat COVID-19 mans erger as vroue tref?

Al neem dit ons gesprekke en gedagtes oor, bly daa
Al neem dit ons gesprekke en gedagtes oor, bly daar baie onbeantwoorde vrae oor die virus en siekte wat die ganse wêreld op hol het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Salim: Dit lyk asof COVID-19 mans ietwat erger as vroue aantas. Die eerste bewyse hiervan kom van China se sentrum vir siektebeheer en voorkoming, wat inligting oor 44 672 bevestigde COVID-19 gevalle insluit. Die data dui aan die sterftesyfer onder mans is effens hoër as onder vroue (2,8 teenoor 1,7).

Nombulelo: Ja, verslae uit China en ander dele van die wêreld toon mans loop erger onder die siekte deur as vroue. Dit hou dalk daarmee verband dat ander risikofaktore vir ernstige COVID-19-gevalle, soos hart- en longsiektes, meer algemeen onder mans voorkom.

Richard: In sekere lande lyk dit asof mans ’n hoër risiko loop om te sterf as hulle COVID-19 kry, maar dis nog te vroeg om te weet of dit hier in Suid-Afrika ook so is.

Daar is verskillende teorieë wat die waarnemings in ander lande kan verklaar. In sommige plekke is dit dalk omdat mans meer rook en dié gewoonte die risiko vir ernstige siekte verhoog. Of dit kan wees dat mans meer geneig is tot chroniese siektes soos hoë bloeddruk en diabetes, toestande wat ook die risiko vir sterftes verhoog.

2. Sommige wetenskaplikes voorspel warmer lande soos Suid-Afrika kan dalk minder ernstige uitbrekings verwag. Is dit waar?

Goeie higiënepraktyke is deel van die regering se
Goeie higiënepraktyke is deel van die regering se maatreëls om die verspreiding van infeksie te verminder en die sterftesyfer so laag moontlik te hou. Foto: Gallo Images/Getty Images

Salim: Daar is geen bewyse dat warmer lande minder ernstige uitbrekings sal hê nie.

Nombulelo: Volgens huidige bewyse versprei die infeksie selfs in warmer lande soos Suid-Afrika. Ons het gesien hoe die wydverspreide oordrag van infeksie hier by ons in die somerseisoen begin het.

Heelwat van ons vordering teen die pandemie is danksy die voorkomingsmaatreëls wat die regering ingestel het en wat Suid-Afrikaners nagekom het – en wat ons moet voortgaan om na te kom. Die grootskaalse toetsing wat nou op dreef is, sal die ware status of impak van die uitbreking in Suid-Afrika aandui.

Die verspreiding van die coronavirus word nie regstreeks deur seisoen of klimaat beïnvloed nie, maar in die winterseisoen verwag ons ook die gewone seisoenale griep. Die las van griep sowel as COVID-19 sal meer druk op die gesondheidstelsel plaas.

Meer mense sal weens ander toestande soos hartversaking, erge asma en chroniese obstruktiewe longsiekte wat deur griep veroorsaak word in hospitale opgeneem word; gevolglik verhoog dit die risiko vir verdere COVID-19-infeksies in gesondheidsfasiliteite.

Dié infeksies versprei dan weer terug na gemeenskappe. En gesondheidswerkers kan dalk weens komplikasies van seisoenale griep nie beskikbaar wees om die COVID-19-pandemie te beveg nie.

Richard: Dit was vroeër ’n teorie wat gedeeltelik gegrond was op die waarneming dat die virus in warmer temperature vir korter periodes in die omgewing oorleef. Maar nou het ons goeie bewyse dat dit nie so is nie, of as dit wel die geval is, sal dit nie ’n groot uitwerking op die epidemie hê nie.

Dit lyk asof die temperatuur en klimaat nie veel van ’n uitwerking op die verspreiding van die virus het nie. Tog moet ons in gedagte hou dat die griepseisoen binnekort kan begin. Dit skep groot uitdagings, want as ons vanjaar ’n ernstige griepepidemie beleef, sal dit saam met COVID-19 die gesondheidstelsel onder kwaai druk plaas en ons vermoë aantas om die epidemie doeltreffend te hanteer.

Maar dit dui dalk ook op die biologiese verskille tussen mans en vroue – ons weet daar is verskille in hoe ons onderskeie immuunstelsels infeksie beveg, en dít speel moontlik ’n rol by COVID-19.

3. In lande waar die Bacillus Calmette-Guérin-entstof (BCG-entstof) teen tuberkulose ’n wetlike vereiste is, is daar oënskynlik ’n laer sterfte­syfer weens die coronavirus. Hoekom is dit so, en wat beteken dit vir Suid-Afrika, waar baie mense die inenting as babas gekry het?

Die BCG-entstof word nou klinies getoets, veral om
Die BCG-entstof word nou klinies getoets, veral om te bepaal of dit gesondheidsorgwerkers teen ­COVID-19-infeksie kan ­beskerm. Foto: Gallo Images/Getty Images

Salim: Dié soort korrelasie, in die afwesigheid van kliniese toetse, is vatbaar vir sydige interpretasie. Verskeie kliniese toetse word nou in Australië en Europa gedoen om vas te stel of die BCG-entstof die voorkoms en erns van COVID-19-simptome in hoërisiko-bevolkings soos gesondheidswerkers en bejaardes doeltreffend kan verminder.

Nombulelo: Die BCG-entstof word aan pasgeborenes gegee om ernstige vorme van tuberkulose by kinders te voorkom. Daar is tans geen beskikbare bewyse dat die BCG-entstof beskerming teen die COVID-19-virus bied nie; kliniese toetse om vas te stel of dit wel so is, is nog aan die gang.

Maar baie ander faktore kan ook bydra tot die verskille wat in verskillende lande waargeneem is, soos agtergrondrisikofaktore in die bevolking, die fase van die pandemie en nasionale toetssyfers.

Richard: ’n Paar studies wat vroeg in die epidemie gedoen is, het getoon daar is ’n verband. Maar in baie lande waar die entstof wel gebruik word, het die aantal gevalle en sterftes sedertdien toegeneem. Ons weet nietemin die entstof kan ’n paar niespesifieke immuunversterkende gevolge hê, en dit is dus nie onredelik om te vra of dit met COVID-19 kan help nie.

4. Navorsers het bevind die bevolkings in lande met ’n baie hoë sterftesyfer – Italië, Spanje en Frankryk – het ook die laagste gemiddeldevitamien D-vlakke van lande waar die pandemie heers. Is daar ’n verband, of is dit bloot bespiegeling?

Salim: Dis net bespiegeling. Daar is geen bewys dat ’n vitamien D-tekort enigsins ’n invloed op COVID-19 het nie.
Nombulelo: Vitamien D speel ’n rol by die immuunfunksie, en ’n tekort daaraan is al verbind met respiratoriese infeksies by kinders.

Die son se ultravioletstrale speel ’n sleutelrol in die vorming van vitamien D, en laer vlakke van dié vitamien hou dalk verband met die klimaat in die Noordelike Halfrond, waar daar minder sonblootstelling is. Omdat vitamien D ’n rol by immuniteit speel, word die uitwerking daarvan op COVID-19 ondersoek. Maar in hierdie stadium is daar nog geen duidelikheid hieroor nie.

Richard: Soos met die vraag oor die BCG-inenting is daar baie beperkings op dié soort studies, wat ons ekologiese studies noem. Ek weet van geen goeie bewys wat op ’n verband tussen ’n vitamien D-tekort en COVID-19-infeksie dui nie. Dis dalk weer eens ’n heel redelike hipotese, maar dit moet nog deur deeg­like kliniese en epidemiologiese navorsing ondersoek word.

5. Wanneer gaan die COVID-19- pandemie sy piek in Suid-­Afrika bereik? En hoekom juis dan?

Salim: Wiskundige modelle skat die Suid-­Afrikaanse epidemie gaan waarskynlik sy piek gedurende Augustus of September bereik.

Epidemies volg gewoonlik ’n klokvormige kurwe op ’n grafiek, wat beteken daar is aan die begin ’n vinnige toename in gevalle (eks­ponensiële groei), gevolg deur ’n afplatting en daarna ’n afname.

Danksy die inperking kon ons die kurwe “afplat” of die piek verlaag, en dit het die eks­ponensiële groei wat ons in ander lande gesien het, vertraag.

Die afplatting van die kurwe beteken ons sal steeds COVID-19-gevalle sien, maar hulle sal oor ’n paar maande versprei wees.

Nombulelo: Die inperking het dit onder meer reggekry om die verspreiding van die virus te beperk en dit moontlik te maak om kon­takte op te spoor.

Die opheffing van die inperking en die mate waarin mense ná inperking by voorkomende maatreëls hou, sal grootliks bepaal wanneer ons die piek bereik.

Die winterseisoen sal ook hiertoe bydra.

’n Kombinasie van hierdie faktore plaas dalk die piek van COVID-19 iewers tussen Julie en Augustus.

Richard: Ons weet regtig nie; daarom sal dit onwys wees om ’n voorspelling te maak. En wanneer ons oor die piek praat, moet ons onthou dit verwys net na die eerste vlaag infeksies.

6. Gaan hierdie coronavirus nou altyd met ons wees en ons lewe bly bedreig soos dit dit nou bedreig? Sal dit die een of ander tyd weggaan, of ons vorentoe in vlae tref?

Die ontwikkeling van entstowwe en behandelings tee
Die ontwikkeling van entstowwe en behandelings teen COVID-19 is ontsettend belangrik. Foto: Gallo Images/Getty Images

Salim: Ons weet nie. Dit gaan waar­skynlik in vlae terugkeer, soos seisoenale griep. Almal wat aan die SARS-CoV-2-virus blootgestel is, het ’n ewe groot kans gehad om die infeksie op te doen – maar die erns van die kliniese simptome by diegene wat siek geword het, is grootliks deur ouderdom bepaal.

In eenvoudige taal beteken dit enig­iemand ouer as 60 jaar wat SARS-CoV-2 kry, het ’n groter kans om ernstig siek te word en dood te gaan.

Volgens China se sentrum vir siektebeheer, wat meer as 44 672 COVID-19-gevalle ontleed het, is ouderdom die grootste voorspeller van ernstige siekte of sterfte. Die sterftesyfer by gevalle van mense onder 60 jaar oud is minder as 1%, by diegene van 60-69 jaar is dit 3,6%, by mense van 70-79 jaar is dit 8,0% en by dié wat 80 jaar en ouer is, is dit 14,8%

Nombulelo: Te oordeel na soorgelyke pan­demies in die geskiedenis sal die COVID-19- pandemie waarskynlik weggaan – maar ons weet nie hoe lank dit gaan duur nie.

Richard: Dit lyk nou hoogs waarskynlik dat die virus nog ’n baie lang tyd met ons gaan wees en dat nog vlae van infeksie ná hierdie aanvanklike uitbreking gaan volg.

Dis waarom die ontwikkeling van entstowwe en behandelings op langtermyn so ontsettend belangrik is.

7. Kan jy weer met die virus geïnfekteer word as jy COVID-19 reeds onder lede gehad het?

‘Dis hoogs waarskynlik dat die virus nog ’n baie l
‘Dis hoogs waarskynlik dat die virus nog ’n baie lang tyd met ons gaan wees’ Foto: Gallo Images/Getty Images

Salim: Ons weet op die oomblik nie of iemand wat reeds COVID-19 gehad het daarna teen herinfeksie beskerm is nie. Ons kan maar net afleidings maak op grond van inligting oor ander coronavirusse soos SARS.

Pasiënte wat van SARS herstel het, was daarna sowat drie jaar lank daarteen beskerm.

Nombulelo: Daar is so baie oor hierdie virus wat ons nié weet nie, en omdat dit maar nog net ’n paar maande met ons is, het ons geen data oor langtermyn-­immuniteit nie.

Richard: Dis ’n belangrike vraag wat ons op die oomblik net nie kan beantwoord nie. Ons weet mense ontwikkel teenliggaampies ná ’n infeksie, maar ons weet nie of hierdie teenliggaampies ons teen herinfeksie beskerm en indien wel vir hoe lank nie.

8. Gaan Suid-Afrika ook ’n punt bereik waar mense in hul duisende sterf en ons hul liggame in massagrafte moet begrawe soos ons in ander lande sien gebeur het?

‘Ons moet voorbereid wees vir die ergste en hoop o
‘Ons moet voorbereid wees vir die ergste en hoop op die beste’ Foto: Gallo Images/Getty Images

Salim: Die inperking het die land tyd gegee om die gesondheidstelsel voor te berei sodat dit gereed is vir die ergste wat kan gebeur. Dit het die kurwe “afgeplat” sodat almal nie op dieselfde tyd siek word en die hospitale oorweldig nie.
Die verspreiding van infeksies oor ’n ­langer tydperk keer dat die gesondheidsdienste totaal oorweldig word, en dit sal waarskynlik lewens red.

Nombulelo: Die regering se maatreëls om die verspreiding van infeksie te verminder was daarop gemik om die sterftesyfer so laag moontlik te hou.

Dis onder meer gedoen deur massabyeenkomste te verbied, goeie higiënepraktyke te bevorder, die inperking af te kondig, die dra van maskers aan te moedig, meer toetse te laat doen en goeie versorging te verskaf aan mense wat wel siek word, die opspoor van kontakte en die versterking van die gesondheidsinfrastruktuur in die land.

Die samewerking tussen verskillende regeringsektore het hierdie maatreëls versterk. Indien ons as individue al hierdie maatreëls nakom, sal ons nie mense in massagrafte begrawe nie.

Dit berus by ons.

Richard: Daar gaan ongelukkig nog baie mense aan COVID-19 sterf. Ons hoop dit sal nie nodig wees om mense in massagrafte te begrawe nie, maar ons moet voorbereid wees vir die ergste en hoop op die beste.

9. Watter persentasie van die mense wat COVID-19 opdoen, ontwikkel geen simptome nie?

Salim: Tussen 18 en 60% van die asimptomatiese COVID-19-positiewe gevalle weet nie hulle het die virus nie. Dit lyk of daar ’n hoër proporsie asimptomatiese gevalle onder jong mense is.

Nombulelo: Daar is uiteenlopende verslae hieroor en dit wissel van 25% tot selfs 50%.

Richard: Dis nog ’n belangrike vraag waarop ons nog nie ’n goeie antwoord het nie.

Om dit te kan doen, het ons hoëgehalte­navorsing nodig waar die algemene bevolking vir teenliggaampies teen die virus getoets word.

As ons eers weet hoeveel mense wel teenliggaampies het, maar nie kan onthou dat hulle siek was nie, kan ons skat watter persentasie van die bevolking werklik ’n asimptomatiese infeksie gehad het.
Van hierdie navorsingsverslae begin nou bekend raak; daarom hoop ons om binne die volgende paar weke ’n beter antwoord op dié vraag te hê.

10. Is daar enige immuunaanvullings wat my kan help om die coronavirus af te weer?

Salim: Daar is geen bewyse hiervoor nie.

Nombulelo: Immuunaanvullings sal nie die ­virus voorkom of bestry nie.

Richard: Nee. Daar is geen bewys dat immuunaanvullings sal help om jou teen infeksie te beskerm of dit te beveg nie.

Meer oor die kenners

Prof. Salim Abdool Karim.
Prof. Salim Abdool Karim.

Prof. Salim Abdool Karim is ’n epidemioloog en direkteur van die sentrum vir die vigsnavorsingsprogram in Suid-Afrika. Hy is die hoof van die ministeriële advies­komitee oor COVID-19.

Prof. Nombulelo Magula
Prof. Nombulelo Magula

Prof. Nombulelo Magula is die hoof van die departement van geneeskunde aan die Universiteit van KwaZulu-Natal. Sy spesialiseer in die bestuur van tuberkulose en MIV/vigs en die wisselwerking tussen dié siektes en nieoordraagbare toestande. As lid van die advieskomitee oor COVID-19 is sy verantwoordelik vir die koördinering van die stryd teen die coronavirus in KwaZulu-Natal.

Dr. Richard Lessells.
Dr. Richard Lessells.

Dr. Richard Lessells, ’n spesialis in aansteeklike siektes, is die groepleier by die KwaZulu-Natal Research Innovation and Sequencing Platform (KRISP). Hy is lid van die Universiteit van KwaZulu-Natal se span gesondheidskenners wat baanbrekerswerk doen ter ondersteuning van die internasionale stryd teen die coronavirus­pandemie.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.