Die vredigheid van die wintersoggend word deur die gebrom van ’n skelgeel tuk-tuk-taxi versteur. Maar dis die stilte wat jou vandag dadelik opval.

Gewoonlik kook dit hier in die boheemse hart van Melville in Johannesburg. Elke stad het sy ikoniese kuierstrate waar propvol restaurante oorspoel na die sypaadjietafels.

’n Kruispad van die mensdom met sy eie, unieke karakter. En dít was Melville se 7de Straat nog altyd. Dié straat was selfs destyds die inspirasie vir die sepie 7de Laan, en die openingstonele is eens hier geskiet.

Maar dit is die Jaar van die Virus, en ook 7de Straat is in die kettings van die covid-19-pandemie en die inperking . . .

Terwyl restauranteienaars en -werknemers landwyd pleit dat die regering die verbod op drankverkope en die aandklokreël lig om die restaurantbedryf ná maande van stilte en swaarkry te red, word daar wyd gewaarsku dié inperkingsmaatreels kan veroorsaak dat hordes restaurante en kuierplekke permanent sal sluit, met derduisende mense wat hul werk sal verloor.

Dis eenvoudig onmoontlik om uitgawes te dek as klante se kele droog moet bly en almal al teen negeuur saans by die deur uitgeboender moet word, verduidelik kuierplekke se eienaars en kelners.

Restuarante in Johannesburg
’n Man sit by een van Melville se restaurante. Streng sosiale afstand en maat­reëls word by al die kuierplekke toegepas. Foto: Fani Mahutsi

Dinge gaan immers reeds moeilik met die beperking op die getal mense wat binne toegelaat mag word en die sosiale afstand wat almal moet handhaaf.

En ook hier in die kuierhart van Johannesburg is die wurggreep van die inperking duidelik: Dit is vandag tjoepstil.

Al kan jy nou weer saam met enkele familielede of vriende by restaurante eet, is dit ’n aardige ervaring, bevind Huisgenoot toe ons die ikoniese straat invaar om te kyk hoe die moeilike werklikheid hier uitspeel.

Ons kom net agter ons gesigmaskers uit om te kou en sluk, en sukkel om die kelners agter húl maskers te hoor. Waar mense eens tussen tafels moes deurskuur, is nou oral groot, leë ruimtes.

Pleks van pepermente word jy handseep aangebied. Ons maak grappies oor die wyn of bier wat ons nie kan bestel nie omdat die inperkingsmaatreëls drankverkope verbied, maar eintlik is dit nie meer snaaks nie.

En vir eens is niemand bly oor die baie parkeerplek nie . . .

Buite Spilt Milk, ’n gewilde ontbytplek op die hoek van 7de Straat, herinner die tekens jou dadelik: “No mask, no entry.”

Restuarante in Johannesburg
Foto: Fani Mahutsi

By die deur word die temperatuurtoestelletjie soos ’n wapen teen jou kop gedruk en hou jy outomaties jou hande uit om bespuit te word.

Op ’n tafeltjie by die ingang staan die uitgedunde spyskaart vir jou om te bestudeer, want hande wissel tussen jou en die kelner mag dit nie.

Daar is croissants, ciabatta-brode en muesli. Gewone eetgerei is taboe. Jou broodjie kom in ’n papiersak en jou koffie in ’n weggooihouer.

Alles om kontak tussen mense te beperk. Jy mag by die tafel jou masker afhaal, want hoe anders gaan jy klets en sluk? Vir ’n oomblik is die wêreld weer soos dit was.

Minstens ses kuier­plekke sal glo nie weer oopmaak nie

’n Paartjie sit knus in mekaar se arms in die flou wintersonnetjie in die binnehof. ’n Gesin eet ontbyt terwyl hul woelwaters onder die tafels speel.

Twee jong vroue vier die feit dat een haar leerlingrybewys gekry het. Vir dié mylpaal is daar ’n smokkelsigaret . . .

Skuins oorkant die straat is die kuierplek Hell’s Kitchen waar getatoeëerde kelnerinne gewoonlik op die maat van heavy metal shooters aangee.

Agter die glimmende kroegtoonbank van hout blink die drankbottels in gelid, dramaties verlig soos verbode juwele. Maar vir die afsienbare toekoms is koeldrank en koffie jou voorland.

Restuarante in Johannesburg
Drank is oral taboe en restaurantgangers moet maar gelukkig wees met ’n koeldrank of ’n koppie koffie. Foto: Fani Mahutsi
Restuarante in Johannesburg
Foto: Fani Mahutsi

En buitendien: Teen negeuur vanaand moet die deure ingevolge die aandklokreël sluit. Hier kan nie meer oudergewoonte tot ounag gekuier word nie.

Oorkant die pad is die restaurant Xai-Xai, onder regulars bekend as die Mosambiekse Ambassade, steeds gesluit.

Soos baie restaurante dwarsoor die land is dit nie vir hulle lonend genoeg om sonder drankverkope oop te bly nie. Geen peri-peri-garnale vandag nie; slegs pizzas deur hul wegneemvenster.

Tog is dit verblydend om te sien hoe 7de Straat aan die lewe vasklou. Aan die begin van die “harde lockdown”, oftewel fase 5 van die inperking in Maart en April, het baie van die buurt se “dissipels”— die straatmense – verdwyn.

Maar nou verskyn hulle weer een-een. Soos Shorty, die bekende gesig wat altyd hier met ’n A5-boekie in die hand rondloop en haar eie gedigte vir die sypaadjiedrinkers voorlees in ruil vir ’n geldjie of ’n los sigaret.

Daar staan sy nou weer en deel ’n “entjie” met die karwagte wat leë parkeerplekke oppas. Melville se bekende barbier, Richard Davis, vertel hy kry maar swaar noudat die buurt stil geword het. Hy moes onlangs sy yskas verkoop om sy huur betaal.

Sy hare is pienk gekleur – ’n eksistensiële episode, verduidelik hy. Maar hier is hy nog en hy beur voort noudat haarkappers en barbiers ná weke van geslote deure weer mag werk.

Restuarante in Johannesburg
Spilt Milk se spyskaart is beperk en klante kan kies uit wat op die tafel beskikbaar is, soos croissants en ciabatta-brode. Foto: Fani Mahutsi

Stap jy op en af met die straat, staar die geslote restaurante se vensters soos blinde oë na die verbygangers. Minstens ses gewilde kuierplekke sal glo nie weer oopmaak nie.

Vir hulle is die stryd verby. Wat gaan word van Ba Pita, die ikoniese restaurant wat in die tagtigerjare die uithangplek van hippies en joernaliste in Yeoville was, wonder jy.

Dit het ná al die jare sowat twee jaar gelede hier in 7de Straat heropen en hier kom herleef. Sal dit dié nuwe soort noodtoestand oorleef?

“Gee, gee, gee / gee jou hart vir Hillbrow . . .” het wyle Johannes Kerkorrel destyds in Yeoville se kuierjare gesing.

Maar dinge het verander, en nou is dit Melville se 7de Straat wat jou vra vir “jou sente, jou drome, jou toekoms vol gate . . .”