Hondjies is nie hondjies wat áltyd blaf nie.

Die skiet-oorlewende Fifi is byna op die operasietafel van die South Africa Mass Animal Sterilisation Trust (SA.MAST) in 'n township in Kaapstad dood.

Sy en haar hondemaat, Fido, is deur rubberkoeëls getref in die spervuur aan die begin van die inperking toe die polisie glo ’n skare wou beheer.

Vir die dierewelsynsorganisasie wat hulle gered het, is die COVID-19-tyd ook 'n moeilike tyd. Die kans is goed dat hulle hul deure sal moet sluit as hulle nie nuwe skenkers kry nie.

“Ons het skielik finansiering van ons grootste skenker verloor weens die COVID-19 in Europa,” vertel Tamsin Nel, stigter en direkteur van SA.MAST, aan Huisgenoot.

Tamsin het reeds self geld geskenk wat sy uit die verkoop van haar kar kon maak om die organisasie aan die lewe te hou. Hulle het al 20 000 honde en katte gesteriliseer om ongewenste diere te voorkom.

Fallen Angels se Facebook-blad met 'n gedig aan pl
Fallen Angels se Facebook-blad met 'n gedig aan pleeghonde.

Fifi en Fido is terug by hul “guardians” vertel Tamsin. “Hulle vaar goed. Hulle is ’n bietjie bang, maar fisiek word hulle gou gesond,” voeg sy by.

Huisgenoot het met van die mense gesels aan wie Fallen Angels, ’n dierewelsynsorganisasie op Melkbosstrand wat tydens die inperking probeer om rondloperdiere in pleegsorg te plaas, diere gegee het in hierdie tyd:

Daniel O'Donoghue

Die O'Donoghue's se lockdown-pleegkind, Piper, gaa
Die O'Donoghue's se lockdown-pleegkind, Piper, gaan heel moontlik 'n vir-altyd-kind word. Foto: Verskaf

"Ons hond (ook 'n redding) sukkel nou met die inperking, want sy is gewoond daaraan om tussen vyf en ses keer per week hondjie-dagsorg toe te gaan terwyl ons werk. Om nie met ander honde te kan speel nie, was erg vir haar.

"Ons het besluit om 'n ander hond tydens die inperking in pleegsorg te neem as 'n vriend vir Phoebe, en om vir 'n ander reddingshond te kan wys wat liefde en 'n huis is.

"Die hondjie, Piper, wat ons ingeneem het, het 'n baie moeilike lewe gehad en was dit nie vir 'n paar ongelooflike veeartse nie, sou sy nie nog gelewe het nie (niemand het verwag dat sy dit sou maak nie).

"Sy het nie regtig veel verander in ons huis as gevolg van die inperking nie. Maar ons kon so baie vir haar verander. Sy slaap in ons bed, ons gee haar lekkernye en wys haar onvoorwaardelike liefde, heeldag.

"As my man binne die volgende paar weke ook so lief raak vir haar, sal ek verkies om haar te hou."

Tracey Draper-Mostert

Tracey saam met haar pleeghonde, Pookie en Angeliq
Tracey saam met haar pleeghonde, Pookie en Angelique, tydens lockdown. Foto: Verskaf

"Ons Shadow, 'n worshond, is verlede jaar dood. Ons retriever, Bella, was steeds by ons, maar sy het oud en sieklik geword. Ons wou nie toe 'n ander hond kry nie om haar rus op haar oudag te gee.

"Ongelukkig is sy ses maande later in haar slaap oorlede. Die volgende drie maande wou ek nie eens daaraan dink om haar te vervang nie.

"My man het sy getroue metgesel-skaduwee en hul lang wandelings gemis. Ons albei se aftrede is nie te ver weg nie; dus sal dit beter wees om ouer honde te hê in geval ons oor vier jaar na 'n kleiner eiendom moet trek.

"By Fallen Angels het ek verduidelik ons soek ouer honde. Hulle het gevra of ek twee kan inneem en ek het natuurlik ja gesê.

"Ons het 'n bietjie rondgedwaal en eindelik vir Pookie en Angelique gevind. Hulle moes saam in pleegsorg geplaas word omdat hulle nie van mekaar geskei kan word nie, want Angie, soos ons haar noem, was die enigste hond met wie Pookie oor die weg gekom het. Hulle was al vier jaar saam.

Pleegkind Pookie is nou die Draper Mostert-familie
Pleegkind Pookie is nou die Draper Mostert-familie van Kaapstad se nuwe skaduwee. Foto: Verskaf

"My man was aanvanklik onseker, want albei was 'n bietjie senuweeagtig en onseker, maar met verloop van tyd het hulle meer en meer ontspanne geraak en tuis. Ná 'n lekker bad, ontvlooiing en versorging en baie aandag het dit net reg begin voel.

"Natuurlik kan ons nie tydens die inperking buite gaan stap nie, maar hulle draf saam met my in die tuin en speel met die bal. Hulle karnuffel mekaar en kom goed oor die weg, en raak selfs gewoond aan ons prinseskat TJ (nie so 'n geheime heerser van alles wat sy ondersoek nie).

TJ die kat is steeds die prinses al is daar twee n
TJ die kat is steeds die prinses al is daar twee nuwe pleeghonde op die werf. Foto: Verskaf

"Hulle het ons geleer om lief te hê en te vertrou. Ná die derde dag het my man gesê: 'Hoe kan ons hulle terugstuur, ons het 'n wonderlike keuse gemaak?' En so is ons nog 'n sogenaamde foster fail. Ons wag net vir die aannemingsdokumente."

Shannon Moss

"Ek het 'n Instagram-rekening, @thetwoebs, vir my ander honde en katte begin, waar ek die kreetroep vanuit 'n aantal skuilings raak gelees het om te help met die pleegsorg tydens die inperking.

"Ek het besluit dat ek die middele het en daar is regtig geen rede vir my om nie te help waar ek kan nie, veral in hierdie moeilike tyd. So ry ek en my suster met al vier my pooches en kosskenkings vir die skuiling met die volle bedoeling om met 'n pleeghond terug te keer.

"Daar ontmoet ek toe vir Bonzie en weet dadelik hy sal die beste by ons leefstyl en die huidige situasie pas. Die reddingshonde by ons wat nog oor is, is nie baie vriendelik met ons katte nie. Hulle sou hopelik baie beter met Bonzi bond. En dit was ook toe so.

"Ek het toe geweet dat daar geen sprake is dat ons hom nie huis toe gaan neem nie.

"Hy is so 'n seën vir ons tydens hierdie inperking. Bonzi het my 'n doel en verantwoordelikheid gegee. Ek voel goed dat ons hom alles gee wat sy hart begeer. Hy en al die ander bont kinders in ons huis maak ons dae interessant en verskaf ons eindelose vreugde."

Cara Wileman

"Ek het my kêrel vertel van die honde in nood. Hy het gesê dat hy daaroor sal dink en twee uur later gevra of ek al aansoek gedoen het. Ons het diere van ons eie; drie honde en twee katte.

"Ons honde is vriendelik, want ons het al honde wat in die buurt rondgeloop het opgetel en huis toe geneem terwyl ons op die Facebook- en WhatsApp-groep hul eienaars gevind het.

"Ek wou in hierdie tyd iets doen om te help. Daarom het ons Buddy in pleegsorg geneem. En ek hoop dat my plasings van sy aktiwiteite op Facebook hom 'n beter kans sal gee om aangeneem te word.

"Maar dit sal ons hart breek om hom terug te neem ná 21 dae in 'n liefdevolle huis.

"Buddy het beslis deel geword van ons."