Belfast gesin
Errol en Dianne Hamann, ’n egpaar van Mpumalanga, is net een week uitmekaar dood nadat albei covid-19 opgedoen het. Foto: Facebook

Die gemeenskap van Belfast in Mpumalanga is in rou gedompel nadat ’n geliefde ouerpaar en dié se dogter net twee weke uitmekaar al drie aan covid-19 dood is.

Vriende en geliefdes is in “skok en ongeloof” ná die dood van Errol Hamman (69), sy vrou, Dianne (65), en hul dogter, Nicolette (41). 

“Hul dood is ’n verskriklike slag vir ons almal op die dorp,” sê Martie van Staden, die prinsipaal van Aïda Highlands – ’n eiendomsagentskap – waar Dianne as verhuringsagent en Nicky as adminstratiewe beampte gewerk het. “Dis ’n absolute tragedie. Daar is geen ander manier om dit te beskryf nie.” 

Martie sê Errol, wat vir die hardewarereus Mica gewerk het, is op 30 Junie dood aan dié siekte. Dianne se gesondheid het ná sy dood drasties versleg en sy is ’n week later – op 8 Julie – ook dood.

Belfast gesin
Nicolette Hamann is op 14 Julie dood aan covid-19 – presies twee weke ná haar pa, Errol, en een week ná haar ma, Dianne. Foto: Facebook

Dianne het 17 jaar lank vir Aïda gewerk. 13 van dié jare was saam met Martie. 

“Ons kon dit nie glo toe ons hoor Dianne en haar man is albei dood nie,” sê Martie verslae. “Hoe gebeur so iets? Ek en Dianne was jare lank vriende en sy het nooit enige onderliggende siektes gehad nie – sy het nie eens bloeddrukmedikasie gebruik nie. Almal was in rou, maar min het ons geweet die volgende slag is op pad.”

Want ook Nicolette het positief getoets vir covid-19 terwyl sy tuis getreur het oor die dood van albei haar ouers. En ook sy kon dié virussiekte nie oorwin nie.

Martie onthou: “Nog een week later kom die nuus: Ook Nicolette het dit nie gemaak nie, sy is dood – presies twee weke ná haar pa en ’n week ná haar ma. Niemand van ons weet wat om te sê of te doen nie. Ons is rou en verslae oor hulle dood.” 

Die enigste oorblywende lid van die gesin, die egpaar se seun, Kurt, woon in die buiteland. Hy staar nou reisbeperkings weens die pandemie in die gesig en weet nie eens of hy kan terugkeer huis toe nie, sê Martie.

“Almal in hierdie dorp is soos ’n familie,” sê Martie. “Ons is dalk nie bloedfamilie nie, maar dis ewe seer. Almal hier was ontsettend lief vir Dianne. Sy was gaaf en opreg en sy was vriende met almal. Nicolette ook – sy was verskriklik lojaal. Sy en haar ma was onafskeidbaar gewees.” 

Sy glo daarom, sê Martie, dat Dianne vir “Nicolette kom haal het”. “Selfs die suster in die hospitaal het vir ons gesê sy dink Dianne het haar kind kom haal. Dis verskriklik hartseer en ons almal hier gaan hulle ontsettend baie mis.” 

’n Gesamentlike verassingsdiens sal binnekort gehou word.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe