Inwoners bid vir verlossing van die coronavirus wa
Inwoners bid vir verlossing van die coronavirus wat Vredendal-­Noord in die Nama­kwaland teister. Foto: Gallo Images/ER Lombard

Saam met die sterre wat aan die hemeltrans flonker, flikker kersvlammetjies voor huise al langs Wandelstraat. Dit strek verder soos ’n ligspoor in die donker tot by die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) hier op Vredendal, die ­Namakwalandse dorp waar ’n ganse ­gemeente deur covid-19 verrinneweer is.

Nege van die gemeentelede is binne twee weke dood – weggeruk deur die ­virus wat so min voel vir goeie mense.

By Wandelstraat 29 het Laetitia Mar­tins (48), ’n gemeenskapsleier en raakvatter by die kerk, aan die einde van Mei begin om saans met ’n brandende kers in die hand hardop op die sypaadjie voor haar huis te staan en bid – vir bystand en wysheid van die Here tydens hierdie vlaag van die pandemie wat dood en verskrikking deur hul woonbuurt saai.

Die nuus het gou via WhatsApp-groepe versprei en ander inwoners het ook begin om agtuur saans by kerslig in die strate te bid. Dan klink ’n koor van smeekgebede in die naglug op en hang dit oor die Wes-Kaapse dorpie wat tussen die wingerde nestel.

“Soek hulp en beskerming by die Here, soek gedurig sy teenwoordigheid,” lees Laetitia uit 1 Kronieke 16:11 voor.

“Dankie, Here, dankie,” prewel haar skoonma, Margaretha Pieters (84), voor haar huis. “Ek is nog hier deur U bestiering. As dit U wil is, hou my gesond en die ander mense hier om my.”

Vroeër vanaand, tussen vyf en sewe, was daar ’n “drive-by”-gedenkdiens vir oom Johannes “Jan” Marero (73) voor sy huis in Spesbonastraat net hier anderkant.

Motors het een vir een stilgehou by ’n gedenkaltaar op die sypaadjie met foto’s van hom waarby lang, wit kerse brand. Daar het klein groepies rouklaers hul respek vir hom kom betoon en blomme op ’n groen mat neergelê.

Boetie Lategan lees uit die Bybel by sy vriend Jan
Boetie Lategan lees uit die Bybel by sy vriend Jan Marero (73) se “drive-by”-gedenkdiens. Foto: Gallo Images/ER Lombard

Vir ’n wyle het hulle geluister hoe sy goeie vriend oom Casper “Boetie” Lategan (64) uit die Bybel voorlees en bid. Daarna het hulle weer vertrek om plek te maak vir ’n volgende groepie, pynlik bewus daarvan dat die gevreesde coronavirus steeds onsigbaar in die lug hang . . .

Die hartseerste vir hom is dat sy dierbare vriend van die afgelope 40 jaar die vorige dag net soos hy teen covid-19 ingeënt sou word, vertel Boetie vroeër in Jan se sitkamer. Maar toe het die dood hom al die vorige week kom haal.

“My liewe vriend Jan het my geleer van die lewe en die Here,” vertel Boetie oor die man met “die besonderse geheue”. Jan het elke nommer in die gesangboek geken, net soos elke nommer van die voertuigonderdele wat hy verkoop het.

Sy oudste dogter, Adri Cloete (47), onthou haar pa se legendariese vaalpotjie, “sonder groente of fieterjasies”. Dit is dié dat daar op sy gedenkaltaar buite ook twee swart ysterpotjies staan.

Vyf dae voor Jan se dood op 26 Mei het sy seun, Pedro Booyse (50), ’n afgetrede skoolhoof van Maskam Primêr op Van­rhynsdorp, aan sy hart gesterf.

“Op my broer se begrafnisdag sou ons my ouers se 50ste huweliksherdenking gevier het,” vertel Jan se jongste dogter, Brigitte Cloete (40). “Ek en my pa was onafskeidbaar,” voeg sy by. “Ek het gesmeek hy moet tuisbly, maar hy wou nie vrees nie. Hy was gereed om sy Verlosser te ontmoet.”
 
In die nuutste deel van die begraafplaas langs die staatshospitaal op Vredendal is die rye vars grafte – talle dié van slagoffers van die coronavirus – stille getuies van die tol wat die pandemie al in die omgewing ­geëis het.

Volgens die Wes-Kaapse departement van gesondheid was daar teen druktyd 155 positiewe gevalle in die ­Matzikama-distrik, wat dorpe soos Vredendal, Vanrhynsdorp en Lutzville insluit, teenoor die 11 gevalle wat op 15 Mei aangeteken is.

In die begraafplaas omring deur ’n tuin van veelkleurige lapblomme op die grafte gaap ’n paar oop grafte. In drie van hulle sal nog gemeentelede van die VGK die dag ná ons besoek te ruste gelê word.

Die Verenigde Gereformeerde Kerk op Vredendal verl
Die Verenigde Gereformeerde Kerk op Vredendal verloor byna daagliks lidmate. Foto: Gallo Images/ER Lombard

Naas die byna dekade lange droogte in die omgewing is die pandemie die ergste ramp wat hy al in sy 23 jaar in die gemeente beleef het, sê hul leraar, ds. Pedro Oktober.

Die droogte het ’n boer van die distrik gedryf om sy eie lewe te neem en talle van die mense in die gemeente in skuld gedompel nadat hulle hul werk op wynplase verloor het, vertel hy. En toe kom die derde vlaag van die virus onder sy kudde maai.

Hy voel saam met hulle, want hy het die virus die afgelope 10 dae in sy eie lyf ervaar: die diarree, die pyn in sy gewrigte en oë. Hy het vandag eers weer begin werk, vertel hy in die sitkamer van die pastorie waar ons omring word deur blomme en foto’s van sy kinders, Shermoné (26) en Estwin (24). Hulle het voor hom die virussiekte gekry, maar ook genadiglik oorleef.

“Die pandemie daag ’n mens se verhouding met God uit,” erken Pedro. “Daar is paniek onder my lidmate. Hulle soek die skuld by hulself. Hoekom het hulle siek geraak?”

Dan moet hy paai: “Dis nie God se straf omdat jy iets verkeerds gedoen het nie. God laat dit toe. Dis sy groot plan met jou lewe.”

“Langs die graf kan ek net die treurendes verseker van God se liefde en trou.”

Hy moet ook die stigma beveg dat ­covid-19 soos ’n soort melaatsheid is. Die vraag: “Waar het jy dit opgetel?” het byna soos ’n soort teregwysing geword. “Jy vat aan ’n mandjie by die winkel; jy skuur per ongeluk teen iemand. Daarom preek ek vir maskers dra en hande ontsmet.”

By die kerkkantoor is Sarie Lategan op haar pos, maar agter ’n traliehek.

“Ek maak vir niemand oop nie,” sê sy. Behalwe as sy moet. Maar dan bespuit sy hulle eers met handreiniger. “Die virus is onsigbaar, en ons weet nie of ons ’n gevaar vir mekaar inhou nie,” verduidelik sy.

Sarie Lategan, die skriba van die VGK. Foto: Gallo
Sarie Lategan, die skriba van die VGK. Foto: Gallo Images/ER Lombard

Maar die noodgedwonge afsondering is vir haar moeilik. “Ek is ’n mense-mens en mag nou nie ander aanraak of hug nie. Hierdie virus steel my vreugde.”

In haar 18 jaar as skriba is die pandemie “die ergste en traumatiesste ding” wat sy al hier beleef het. Sy is nog besig om deur die dodelys te werk.

“Ek is nie seker hoeveel van ons lid­mate nou tydens dié vlaag dood is nie,” sê sy. “Twee van my vriende is aan covid oorlede. Ek kan nie hul name sê nie; dit maak te seer.” Die trane wel agter haar bril op en sy vra verskoning om eers haar emosies onder beheer te kry.

By die Vredendal-hospitaal is die 20 beddens vir covid-19-pasiënte elke dag vol, vertel Lionel Philips, die waar­nemende munisipale bestuurder op die dorp. Meer as 50% van dié pasiënte benodig hoëvloeisuurstof, en daar is net een ventilator wat pasiënte om die beurt moet gebruik.

Lionel Philips, waarnemende munisipale bestuurder.
Lionel Philips, waarnemende munisipale bestuurder. Foto: Gallo Images/ER Lombard

“Ons doen wat ons kan,” sê hy. “Die vlaag sal eers begin bedaar wanneer ons 60% of meer van ons inwoners ingeënt het.”

Sowat 80% van die munisipale werkers wat positief vir die virussiekte getoets het, het in kantore gewerk. Lionel en die personeel werk nou skofte sodat hulle nie almal gelyktydig op kantoor is nie.

“Ons kom agter dat huispartytjies waar 25 en meer mense bymekaar is van die superverspreiders hier is,” vertel hy. Alle sportterreine op die dorp is gesluit.

Die Verenigde Gereformeerde Kerk op Vredendal. Fot
Die Verenigde Gereformeerde Kerk op Vredendal. Foto: Gallo Images/ER Lombard

By die huis vir bejaardes word niemand toegelaat nie. Alle pakkies, kos en noodsaaklikhede word by die hek afgelaai. Die matrone is by die huis – die virus het haar ook platgetrek.

Kerkdienste is die afgelope drie weke opgeskort omdat soveel van die VGK se lidmate deur die virussiekte getref is, sê Pedro. Hy ys vir die dag wanneer die mense weer kerk toe kom en hy oor die gemeente uitkyk en al die leë plekke sien van lidmate wat getrou met elke erediens daar gesit het maar nou weg is.

“Wanneer ons weer bymekaar is, sal ons saam moet rou en treur,” sê hy. “Ons gaan ’n groot klipstapel voor die kerk vasmessel met ’n klip vir elke gestorwe lidmaat tydens die pandemie.” Want die pandemie het hulle kom haal, maar die gemeente sal onthou.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe