Dr. Emmanuel Taban het drie mediese grade en is ee
Dr. Emmanuel Taban het drie mediese grade en is een van Suid-Afrika se voorste kenners in pulmonologie. Foto: Gallo Images/Rapport/Elizabeth Sejake

Toe hy 14 was, het ’n burgeroorlog in sy geboorteland uitgebreek. Hy is deur die weermag ontvoer en gemartel omdat hulle gedink het hy spioeneer vir vyandige magte.

Eers nadat hy ingestem het om die Islamgeloof te aanvaar om aan die martelsessies te ontkom, is hy op ’n vragvliegtuig na die Soedanse hoofstad, Khartoem, gelaai om ’n Islamskool in die ooste van die land by te woon.

Maar hy het daaruit ontsnap en as 15-jarige ’n lang tog –meestal te voet – deur Eritrea en Ethiopië aangepak tot in Kenia, waar hy by sy oom wou gaan skuiling soek.

Daar in die vreemde, platsak en ver­lore, het hy op ’n Coca-Cola-bottel af­gekom. ’n Doodgewone Coke-bottel. Op die bottel was ’n etiket met die woorde “Made in South Africa”.

Hmm, het hy gedink. “Suid-Afrika?” ’n Plek waar ’n mens uit die eindelose siklus van pyn en ontbering kan ontsnap; ’n plek van hoop. . .

Hy het weer in die pad geval – op pad na die beloofde land aan die suidpunt van die vasteland. En ná ’n tog van 18 maande het hy eindelik sy bestemming bereik – ’n 17-jarige seun wat hier sou naam maak as een van die suksesvolste dokters in die land.

Dr. Emmanuel Taban se werk as pulmonoloog (longspesialis) plaas hom aan die spits van die land se stryd teen
covid-19.

Die Pretoriase dokter se lewens­verhaal, The Boy Who Never Gave Up, is pas gepubliseer – ’n besielende vertelling oor hoe hy oor honger, oorlog en verpletterende armoede geseëvier het.

Hy is as die vierde van sewe kinders van ’n enkelma gebore. Nie net was die gesin brandarm nie; sy jeug is ook van hom gesteel toe die land in 1983 in ’n burgeroorlog verval het. Die regering wou ’n streng Islamitiese stel wette (“sjaria”) instel en die bevolking is wreed onderdruk.

Emmanuel was nie een van die 2 miljoen mense wat in die oorlog dood is nie, maar hy en sy gesin was wel onder die 4 miljoen wat uit hul huise moes vlug.

Hy het tyd in die tronk deurgebring – baie mense is destyds deur die polisie in tronke en martelkamers ingeboender as hulle net verdink is van misdrywe – en eindelik het hy die grens te voet oorgesteek om familie in die Keniaanse hoofstad, Nairobi, te gaan soek.

“Ek was dae lank op die pad en het sonder water of kos gestap. Dit was baie moeilik. Ek het nie gekies om te ly nie;ek het bloot nie enige ander opsies gehad nie.”

In Kenia het hy sy oom opgespoor, maar dié kon nie vir hom sorg nie en Emmanuel sou na ’n vlugtelingkamp moes gaan om daar tussen ’n verhongerde massa mense op aalmoese te oorleef.

Maar toe sien hy die Coke-bottel. Daardie etiket – “Made in South Africa” – het by iets in hom aanklank gevind. Dalk sou dinge in Suid-Afrika beter wees, het hy gedink.

“Toe begin my tweede reis.”

Katolieke sendelinge het hom met vervoer suidwaarts gehelp en 18 maande later was hy suid van die Limpopo.

Hy was ’n hawelose, platsak 17-jarige toe hy in die land aankom. Al wat hy geweet het, was die naam van ’n groep sendelinge, Comboni Missionaries, wat in sowel Suid-Afrika as Soedan gewerk het. Dit was die laat 1980’s en hy het die sendelinge se nommer in ’n telefoongids opgesoek.

Hulle het hom by hulle laat inwoon en gereël dat hy by die Hoër Seunskool Jeppe in Johannesburg ingeskryf word, waar hy gematrikuleer het.

En so het ’n storie van vreeslose vas­beradenheid vrugte begin afwerp.

Hy het ’n beurs losgeslaan om aan Medunsa geneeskunde te studeer. Ná ’n paar jaar as algemene praktisyn het hy hom as longspesialis aan die Universiteit van die Witwatersrand bekwaam.

“Geneeskunde was my roeping,” sê hy.

Emmanuel en sy vrou, Motheo, ’n fisioterapeut, het mekaar in die mediese biblioteek van die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria ontmoet. Die paar­tjie praktiseer nou albei by die Mediclinic Midstream in Midrand en het drie dogters van 10, sewe en vier jaar. Hulle het ook ’n 13-jarige meisie, Emmanuel se broerskind, aangeneem.

“Ons is ’n gesin van meisies,” sê hy trots.

Emmanuel het al verskeie kere na Suid-­Soedan teruggekeer. Sy ma, ’n vroedvrou, is in 2013 aan malaria oor­lede, en een van sy broers het in 2006 gesterf; die res van sy broers en susters woon steeds daar.

Maar nie alles in Suid-Afrika is maanskyn en rose nie.

Emmanuel is in Junie verlede jaar in hegtenis geneem toe hy hospitaal toe gejaag het om ’n pasiënt in die waakeenheid te behandel.

Hulle is afgetrek en van aanranding, die verbysteek op ’n wit streep en roekelose bestuur aangekla. Emmanuel beweer die polisie het hom aangerand.

“Ek was nog nooit in my lewe so bang nie,” sê hy.

Emmanuel en sy vrou, Motheo, het mekaar in 2009 on
Emmanuel en sy vrou, Motheo, het mekaar in 2009 ontmoet. Foto: Facebook/Motheo Phalatse-Taban

Die aanklagte teen Emmanuel is teruggetrek, maar Motheo het ’n klag by die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat, Opod, die waghond vir polisie­beamptes, ingedien. Die egpaar het ook ’n siviele saak teen die polisie oorweeg, maar het daarteen besluit.

Ten spyte van dit alles doen Emma­nuel moeite om sy nuwe tuisland te vergoed vir al die geleenthede wat hy hier gekry het. Hy werk 14 tot 16 uur per dag om sy pasiënte te help – en veral met die uitbreek van die covid-19-pandemie het hy besef hy kan ’n enorme bydrae lewer.

Nadat hy opgemerk het dat sommige covid-19-sterftes deur opgeboude slym veroorsaak word wat in pasiënte se keel verhard en die lugweë blokkeer, het hy ’n spesiale tegniek begin gebruik wat die slym uit die longe suig sodat hulle beter kan asemhaal.

Daarvoor het hy ’n metode op covid-­19-pasiënte toegepas wat normaalweg vir pasiënte met longkanker, ’n ­platgevalde long of met bloeding in die long gebruik word.

Sedert verlede Mei het hy al meer as 120 sulke prosedures uitgevoer. Tot 85% van sy pasiënte wat op die rand van die dood was, het oorleef.

Danksy sy werk is hy verlede jaar deur die Londense tydskrif New Africa as een van die invloedrykste Afrikane op die vasteland aangewys.

Dis ’n briljante prestasie aan enige standaarde gemeet, maar vir ’n man met ’n agtergrond van trauma is dit niks minder as merkwaardig nie.

En wat is sy raad vir ander mense wat dalk dink die lewe se uitdagings is te groot vir hulle om ooit hul drome waar te maak?
“Moet nooit toelaat dat omstandig­hede namens jou oor jou toekoms besluit nie,” sê hy.

“As die een deur toe is, gaan klop jy aan die volgende deur. En selfs as dit toe is, druk teen die deur of kyk deur die sleutelgat. Jy sal verbaas wees. Jy sien dalk net iets.”

Emmanuel Taban se reis
  • Hy is in Joeba in Suid-Soedan gebore. As 15-jarige het hy te midde van ’n burgeroorlog per vragvliegtuig na Khartoem, die hoofstad van Soedan, gereis.
  • Hy het uit ’n Islamskool in die ooste van die land ontsnap en tot in Teseney in die buurland Eritrea gestap.
  • Daar het ’n Katolieke priester hom kos- en busgeld gegee, en het hy sowat 360 km verder tot in Asmara in die land gereis. Daar het ’n ander priester hom aan die polisie oorhandig en is hy vir vier maande in die tronk gestop.
  • Hy het deur Addis Abeba in Ethiopië na Nairobi, Kenia, gestap, maar is aangekeer en het weer in die tronk beland.
  • Hy is na die Ethiopiese grens teruggeneem en daar vrygelaat. Hy het weer in die pad geval, dié keer deur Somalië terug na Nairobi, en het soms saamrygeleenthede gekry of bus gery.
  • Van Nairobi het hy per bus na Arusha en Dar es Salaam in Tanzanië gery, en van daar af het hy, deels te voet, koers gekies na Mosambiek.
  • Hy het deur Zimbabwe gereis en eindelik die grens na Limpopo in Suid-Afrika oorgesteek.
Ook beskikbaar by takealot.com
Ook beskikbaar by takealot.com
  • The Boy Who Never Gave Up deur Emmanuel Taban en Andrew Crofts, uitgegee deur Jonathan Ball, is nou in boekwinkels teen R265 beskikbaar.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe