Ja, hy sien hoe mense in die sosiale media spog hulle maak groot geld uit dié opspraakwekkende plan wat die afgelope tyd amper so vinnig soos die coronavirus deur die land versprei – en dít in ’n tyd dat inperkingsmaatreëls weens die covid-19-pandemie baie mense van hul inkomste beroof.

Maar dit alles maak Jason Pieterse (’n skuilnaam), ’n verkoopsman met ’n vrou en drie kinders op ’n afgeleë Noord-Kaapse dorpie, net moedeloos. Want terwyl bekendes onlangs aan Huisgenoot vertel het hulle skep as’t ware pap terwyl dit reën, wag hy nou al maande lank op sý “groot betaaldag” nadat hy geld in die omstrede Crowd1-plan gestort het. 

“Ek het sedert Desember al R5 500 ingesit,” vertel Jason. Maar op 15 Junie – toe Crowd1-beleggers glo hul kwartaallikse uitbetalings vir hul bonuspunte sou kry – het Jason net R27 teruggekry. “Dis dít . . .” sê hy gefrustreerd.

Die selfoonsein is swak, maar dit klink kompleet of Jason in trane wil uitbars. Want soos baie mense wat vir Crowd1 gewerf is, kan hy allermins bekostig om geld in die water te gooi. “Ek gaan nie vir jou lieg nie. Ek het ’n slegte paar maande agter die blad. Dit was moeilik met die lockdown . . . Ek het nou eers twee weke gelede weer begin werk. Ek en my gesin het op my UIF geleef,” vertel Jason.

Selfs onder die minder strawwe vlak 3- inperkingsreëls moes sy maatskappy sy werkure beperk tot vyf uur per dag, wat sy inkomste aansienlik verminder. Jason vertel sy kind se onderwyseres het hom van Crowd1 vertel. Hy het getwyfel, maar geldsake was taai en hy het besluit om die kans te vat.

In Desember het hy die “wit pakket” vir R1 800 gekoop. “En toe is daar ook ’n groot promosie; ek kon upgrade van wit na goud, en dit het my nog R3 700 gekos,” vertel hy.

“Ek het een persoon onder my gewerf, en hy weer ses, wat my rewards heelwat gelig het. Dit het my baie opgewonde gemaak vir die 15de se payout . . . Ek het uitgesien na die 15de. Almal het. Ek het staatgemaak op daai geld, man.” Maar hy dink nou hy het ’n oordeelsfout begaan.

‘Nou wil niemand my pakket oorkoop nie . . . Ek weet nie hoe ons ons geld gaan terugkry nie’

“Dis hoekom ek nou skepties is oor die mense op Facebook wat kwansuis in ’n paar maande miljoene maak. Ek ken nie sulke mense nie. Ek weet net ek het R27 gekry; dis nie wat ek belowe is nie.”

En toe hoor Jason van bewerings dat Crowd1 moontlik soos ’n soort piramideskema werk en verneem hy van finansiële kenners se waarskuwings dat sulke skemas ineen kan stort wanneer genoeg nuwe lede nie meer gewerf word nie. “Nou wil niemand my pakket oorkoop nie, wat vir my sê dis eintlik niks werd nie,” sê hy.

“Ek weet nie hoe ons ons geld gaan terugkry nie.”

Intussen sê Magnus Heystek, die direkteur en beleggingsraadgewer van Brenthurst Wealth Management, dat hy in die sosiale media gebraai is nadat hy beweer het Crowd1 is moontlik ’n soort piramideskema en mense daarteen gewaarsku het.

“Dis die selfoonweergawe van dieselfde ou piramideresep waarmee Suid-Afrikaners al male sonder tal gevang is,” hou hy ondanks dié herrie vol.

“Die topmense is die ouens wat eintlik die geld maak, en jy daar onder gaan bloot jou geld verloor, al is dit net R2 000,” voeg hy by.

crowd1
Crowd1 is verlede jaar in Johannesburg van stapel gestuur. Sedertdien het oor die 2 miljoen Suid-Afrikaners ingekoop in dié netwerk­bemarkingsmaatskappy. Foto: Facebook/crowd1

“Ek het mense die Sondag in Rapport gewaarsku om weg te bly van die skema. Daardie Maandag het my kantoorfoon ook nie ophou lui nie. Dit was net voor en agter hoe ek van die duiwel is. Maar ons almal weet vandag wat met Krion gebeur het . . .”

Ook elders begin vrae by deelnemers ontstaan. Jean Viljoen (ook ’n skuilnaam) van die Vaaldriehoek erken hy is altyd vol geldmaakplanne. “Ek is nie bang nie.”

Hy het by Crowd1 betrokke geraak “nadat ’n vriend my ’n gat in die kop gepraat het”, vertel hy. “My vrou het sommer dadelik gesê: ‘Nou soek jy vir k**.’ En ja, toe is ek nou die mamparra wat daarvoor moes val.” Jean het meer as R30 000 aan Crowd1-pakkette bestee. Wat hy tot dusver daarvoor gekry het, is “peanuts”, beweer hy.

“Ek het eindelik 12 mense gewerf en vinnig in die rangorde gestyg. Ek het al R300 000 in rewards, maar weet jy wat? Hierdie mamparra kan dit nie trek nie.”

Soos Jason beweer hy dat belonings nie uitbetaal word soos wat belowe is nie. “Al wat ek weet, is hierdie skema gaan op sy m*** kyk wanneer hulle nie meer lede kan werf nie,” sê hy nou.

‘Jy daar onder gaan bloot jou geld verloor, al is dit net R2 000’

Hy gaan nie meer mense probeer werf nie, sê hy. “Ek het myself versoen met al die geld wat ek gaan verloor. Ek het dit reeds afgeskryf.” Maar anders as Jason en Jean sê Hanli Lombard (48) Crowd1 is die antwoord op haar gebede.

Sy het oorspronklik van die Noord-Kaap na Gauteng verhuis omdat sy ’n ondernemer wou wees, vertel sy. Maar ondanks haar dryfkrag wou sake nie vlot nie.

“Jy moet geld hê om geld te maak, en 13 maande gelede was dinge baie donker vir my.” Ná “baie ure en dae van trane” het ’n vriendin haar in Mei verlede jaar van Crowd1 vertel. “Sy het vir my gesê ek moet na ’n webinaar van een van die senior leiers van Crowd1 luister.”

crowd1
Crowd1 verkoop verskeie pakkette aan sy kliënte. Die goedkoopste is R1 900 en die duurste R48 570 (met die wisselkoers teen druktyd). Foto: Facebook/crowd1

Volgens haar het sy geluister, maar was sy skepties en het nie geld gehad om in te koop nie. “My vriendin het toe aangebied om vir my die R1 800 te leen. En ná ’n paar dae van huiswerk doen het ek aangesluit. Ek het binne 14 dae my geld teruggemaak,” sê Hanli.

“In hierdie 13 maande by Crowd1 kan ek ’n boek skryf oor hoe dit myself en derduisende ander mense se lewe verander het. Dit was die beste besluit van my loopbaan.”

Vandag het Hanli al so baie lede vir dié maatskappy gewerf dat sy glo “nommer drie” in die wêreld is. “Jou rangorde word weekliks na gelang van jou prestasie uitgewerk,” verduidelik sy.

Sy doen nou voltyds webinare en werwing vir Crowd1. “Dis baie harde werk en jy slaap min, maar ek bied baie ondersteuning vir my netwerk en leiers. Ek het ’n paar duisend mense onder my, en baie van hulle het in Crowd1-leiers ontwikkel.”

crowd1
Foto: Facebook/crowd1

Sy ontken bewerings dat Crowd1 soos ’n piramideskema werk. “Ek hoor dit elke dag by mense, en dit kom net neer op onkunde.” Sy sê Crowd1 is nie ’n beleggingsmaatskappy nie; hulle verkoop ’n produk wat vir hulle ’n opbrengs lewer.

Volgens haar is hierdie produkte in die vorm van opvoedkundige materiaal en advertensies. “Ons is ’n aanlyn bemarkingsmaatskappy. Ons het produkte, maar dit alles is aanlyn, en dit is hoekom ons nie ’n piramideskema is nie.”

Crowd1-pakkette begin by die “wit pakket” vir R1 900, en ’n mens kan opgradeer tot by die “titaanpakket” vir R48 570 (met die wisselkoers teen druktyd).

Volgens Hanli kry jy met elke pakket bykomende “opvoedkundige materiaal” (oftewel e-leerpakkette) oor hoe om uit e-handel en die digitale eiendomsmark geld te maak.

“Met ’n piramideskema moet jy mense werf om geld te kan verdien, maar in ons geval kan jy net een van die opvoedkundige pakkette koop en met jou rewards elke drie maande ’n geldjie verdien.” Maar Magnus bevraagteken dit. Die groot rooi vlag is dat daar geen produk verkoop word nie, sê hy.

“Verkoop hulle Tupperware? Skoonheidsmiddels? Wat verkoop hulle? As hulle sê hulle verkoop e-leerpakkette, wys dit dan vir my. Stuur vir my ’n foto. Maar hulle kan nie,” sê hy aan Huisgenoot.

“Multinetwerkbemarking is niks nuuts nie, maar die ding is, Crowd1 verkoop niks nie. Hulle werf net lede. Dis die klassieke piramideresep waar nuwe lede gewerf word om ou lede te betaal,” beweer hy.

“Maar wat gebeur as hulle nie meer lede werf nie? Die hele piramide stort in duie. As jy nie in Crowd1 lede werf nie, kry jy niks nie. Die ketting is gebreek. Die ‘harde werk’ wat jy moet doen, is om ander mense in te kry om jou inkomste te genereer.”

Suid-Afrika se Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) het op 23 Junie gewaarsku Crowd1 is nie ’n gemagtigde finansiëlediensteverskaffer nie.

‘Alle winste kom van die produkte wat ons verkoop, en die opvoedkundige pakkette is een van hulle’

’n Eenheid van die Suid-Afrikaanse Reserwebank ondersoek dit tans. In ’n verklaring wat op 26 Junie deur die Nasionale Verbruikerskommissie uitgereik is, waarsku die kommissie dit sal ’n strafbare oortreding wees om by die entiteit betrokke te wees as daar wel bevind sou word dat Crowd1 ’n piramideskema is.

Maar Magnus meen indien dít sou gebeur, sal dit moeilik wees om enigiemand te vervolg.

“Dis eintlik baie slim. Dis ’n gesiglose skema op die internet. Wie sluit jy toe? Die Sweed, of die ou wat in Spanje of die Filippyne sit? Dis ’n massahisterie vir elkeen net om ’n paar rand te verloor.”

Hy beweer “die skade gaan nie so groot wees” per individu soos met ander skemas nie, “want mense stoot nie miljoene hierin nie, maar almal sal iets verloor”.

crowd1
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die Sweed Jonathan Ström (35), wat Crowd1 se bedrywighede in Afrika vanuit Stockholm bestuur, het aanvanklik ingestem tot ’n video-onderhoud met Huisgenoot, maar op die nippertjie van plan verander en toe per e-pos Huisgenoot se navrae beantwoord.

“My werk is om met die administrasie van Crowd1 se Afrikamarkte te help,” sê hy. Hy vertel hy is dol oor entrepreneurskap en dat sy verhouding met Afrika begin het toe hy ’n tyd lank in Nigerië vir ’n Sweedse beleggingsmaatskappy gewerk het. Hy ontken bewerings dat Crowd1 op Afrika fokus omdat dit ’n kwesbare mark is. Volgens hom was Crowd1 se groei hier “organies”.

“Crowd1 het ’n groot getal hardwerkende lede in Afrika, en ons probeer alles in ons vermoë doen om hulle te ondersteun. Ons het ook in November 2019 ons ondersteuningsnetwerk uitgebrei en ’n kantoor in Johannesburg geopen.”

‘Crowd1 verkoop niks nie. Hulle werf net lede’

Wat sê hy oor finansiële kenners se bewerings dat Crowd1 soos ’n piramideskema werk? “Dit stem my negatief dat mense nie die sakemodel verstaan nie,” sê hy.

“Mense het baie om oor kommunikasie te leer. Netwerkbemarking as bedryf word misverstaan. Die meeste van die kritiek is weens gebrekkige kennis en jaloesie. Crowd1 voldoen aan al die standaarde en is ’n wonderlike geleentheid vir mense om geld te maak.”

Volgens hom is daar geen aansluitingsfooi nie.

“Daar word geen opbrengs uit die aansluit van lede gegenereer nie. Alle winste kom van die produkte wat ons verkoop, en die opvoedkundige pakkette is een van hulle.”

Kort voor druktyd het hy gesê bykomende “leefstylprodukte” sou op 4 Julie bekendgestel word, maar hy wou nie daaroor uitwei nie.

Oor die talle lande wat hul burgers teen Crowd1 waarsku – onder meer Noorweë, Namibië, Nieu-Seeland en die Filippyne – sê hy: “Ons werk tans saam met dié lande se regspanne om die misverstand op te klaar oor dít wat ons bied . . . In Namibië se geval het ons probeer om die verslag oor hoekom ons daar verbied is in die hande te probeer kry. Maar ons het nog niks ontvang nie,” vertel Jonathan.

Hy hou vol dit is nie nodig om in Suid-Afrika by die FSCA te registreer nie. “Dit is baie belangrik dat mense moet weet ons verkoop geen finansiële produkte nie, en daarom is daar geen rede vir ons om te registreer nie. Ons het niks om weg te steek nie. Mense en owerhede het bloot ’n wanpersepsie oor ons sakemodel.

“Ons gaan nie meer enige laster deur die media duld nie en gaan stappe deur ons regspan doen. Ons gee nie vir mense ’n vis nie – eerder ’n visstok om self geld te maak. Al wat hulle nodig het, is ’n internetverbinding en ’n slimfoon. Ons skep miljoene werkgeleenthede.”

Maar intussen wonder mense soos Jason en Jean of hulle ooit hul geld sal terugkry en duur die ondersoek na die opspraakwekkende plan voort . . .