Gary Louw (18) klink opgeruimd. “Dit gaan voor die wind met my studies,” sê hy wanneer Huisgenoot hom Vrydag laatmiddag bel.

“Ek geniet elke oomblik sover,” vertel Gary in ’n telefoniese onderhoud uit die Kaap waar hy tans Wetenskap en Astrofisika aan die Universiteit van Kaapstad studeer.

Gary se kunswerke vir sy matriekeindeksamen aan die private spogskool Grantleigh buite Richardsbaai in KwaZulu-Natal, het einde verlede jaar omtrent ’n storm ontketen toe past. Andrew Anderson, wie se dogter, Tasmin, saam met Gary in matriek was, van dit in die skool se skoolsaal aantref.

Pastoor Andrew Anderson. Foto: Skermgreep
’n Skermgreep uit die video.
’n Skermgreep uit die video.

Groot woede het onstaan toe Anderson ’n video van sy “duiwelse” en “demoniese” kuns opneem en dit op sosiale media laai. Die video het soos ’n veldbrand versprei en baie ander video’s is deur nóg ontstigte kykers in reaksie daarop gemaak en versprei.

Een van die kunswerke.
Een van die omstrede kunswerke
Van die omstrede kunswerke.
kunswerke skermgreep
Gary se kuns het landwyd reaksie ontlok, maar hy voer aan sy bedoeling was nie om ’n bespotting van Christenskap te maak nie. Foto: Verskaf

Vir Gary was dit ’n traumatiese tyd wat hy skielik te midde van sy matriekeksamens moet trotseer. Hy het aangevoer Anderson het die video sonder sy toestemming gemaak en boonop sonder enige konteks oor die beweegredes daaragter.

Die Curro Groep, waaronder Grantleigh Skool val, het kort daarna ’n onvoorwaardelike verskoning uitgereik vir diegene wat deur die kunswerke geaffekteer is en aanstoot geneem het.

Gary het intussen ondanks die herrie 99% vir kuns behaal en was Curro se topmatriekleerder in Suid-Afrika vir die klas van 2019.

Gary
Gary Louw, ’n matriekleeder aan die Grantleigh College op Richardsbaai, het hom in ’n mediaherrie bevind nadat past. Andrew Anderson ’n video van sy finale kunsuitstalling wyd aanlyn versprei het. Foto: Verskaf

Maar nou het Gary ’n nuwe projek van sy eie geloods – ’n dokumentêre film genaamd Crucified Again. Dié film, deur die produksiemaatskappy Kop in een mus, is pas op YouTube vrygestel in reaksie op die video waarin sy kuns as “duiwels” en “demonies” uitgekryt is.

“Die filmmakers wou ’n film maak om die ware betekenis agter my kuns ten toon te stel, en spesifiek ook op my as die kunstenaar te fokus.

“Die dekking van verlede jaar se omstredenheid het grootliks op die “sataniese paniek” van my kuns gefokus en my stem as die kunstenaar is soms byna heeltemal in die proses uitgedoof.”

Gary Louw in die nuwe dokumentêre film oor sy kuns. Foto: YouTube
Gary Louw in die nuwe dokumentêre film oor sy kuns. Foto: YouTube

Gary hoop dat mense ’n groter begrip van sy kuns sal kry wanneer hulle die film kyk, wat sy pad van louwarm Christen na Ateïs verken.

Hy het reeds verlede jaar dit duidelik gemaak dat die doel nie was om ’n “bespotting van Christenskap” te maak nie, maar eerder om deur sy kuns kommentaar te lewer op georganiseerde godsdiens en die kommersialisring daarvan, van daar die gebruik van die karakter Ronald McDonald as Jesus.

Hy vertel in die dokkie hoe hy op skool self as toeris die Sistynse Kapel in die Vatikaanse stad besoek het. Hier het hy eerstehands Michelangelo se kunswerke bewonder.

Gary Louw in die nuwe dokumentêre film oor sy kuns
Gary Louw in die nuwe dokumentêre film oor sy kuns. Foto: YouTube

“Die besoek het deel van my navorsing en inspirase gevorm,” vertel hy nou aan Huisgenoot.

“Dit was juis die navorsing agter die kuns wat mense nooit van geweet of gesien het nie. Dit was inderdaad ’n baie mooi en gegoede plek, maar sodra jy buite gekom het was dit deurtrek met uitgeteerde mense, haweloses en bedelaars, wat sekerlik die geval in baie lande in die wêreld is, maar vir my was dit tekenend dat die teenwoordigheid van dié pragkerk, simbolies aan Christenskap, regtig geen beduidende verskil aan die stand van die omgewing gemaak het nie.”

Weer gekruisig

“Ons het aanvanklik die naam Crucified Again gekies omdat Anderson in die video gesê het: ‘Dit was asof hulle weer Jesus kruisig’, maar vir my het dit nog meer relevansie gehad, want wat ek nog nie aan enigiemand genoem het nie. . . Dit het gevoel asof ék weer gekruisig word.

“Daar is geen skuld aan die kant van die skool nie, maar daar was medeleerders aan my skool wat vir ’n tyd lank probeer het om my te laat skors uit die skool omdat my geloofsoortuigings van hulle s’n verskil het, omdat ek ’n ateïs is. In hierdie tyd is my kuns ’n paar keer deur hulle ‘vervolg’.

“Die herrie verlede jaar was vir seker nie die eerste nie. Op ’n sekere vlak was my matriekuitstalling in reaksie op dié sogenaamde Christene, die individue wat my vervolg het en my geboelie het as ateïs. So grootliks het ek gevoel asof ek weer gekruisig word, want hier gaan ek weer daardeur, dié keer net op ’n groter skaal. Dit het seergemaak.”

Gary Louw, het 2019 matriek aan Grantleigh-skool i
Gary Louw, het 2019 matriek aan Grantleigh-skool in Richardsbaai geskryf. Foto: Facebook

As hy nou terugkyk sal hy niks anders doen nie.

“As ek weet wat ek nou weet sou ek nog net groter gegaan het! Ek werk aan ’n volgende kunswerk, waarin ek veral skynheiligheid in goddiens verken. Weer sal die doel nie wees om nie te skok nie, maar om mense te laat dink.

“As ek nou dink hoe mense verenig het om in wese ’n 18-jarige seun wat sy opinie uitspreek te boelie net omdat hy anders as hulle dink, is dit nogal ’n skreiende waarneming. As mens net dink hoeveel werklike probleme ons het. . .

“As daardie selfde mense kon saamstaan teen armoede, seksisme, rassisme, geweld teen vroue en kinders, soos wat hulle teen my gedoen het, maar waar is hulle? Heeltemal afwesig. Tjoepstil. Dit wek die vraag as hulle so suksesvol kon saamstaan om my so effektief te vervolg, hoekom kan hulle dit nie doen met die dinge wat werklik saakmaak nie?