Duisende Suid-Afrikaners oor alle grense heen voel ’n verbintenis met grond. Of dit nou ’n stadsjapie se wortels in die plattelandse lewe is, ’n kommersiële spogplaas wat al geslagte lank in die familie is of ’n lappie aarde waar ’n bestaansboerdery gevoer word.

Min onderwerpe sorg vir so ’n warm debat soos wanneer “grondhervorming” en “onteiening sonder vergoeding” in dieselfde asem genoem word.

Maar die gesprek rondom grond gaan oor meer as ’n gevoel van behoort, ’n aanklank by eie bodem of selfs ’n vorm van identiteit. Dit gaan ook oor meer as ’n bron van inkomste of ’n goue draad wat deur die generasies loop en geslagte met mekaar verbind.

Dit gaan oor voedselsekerheid en ekonomiese werklikhede en oor hoe om sinvol vorentoe te boer in ’n land wat verdeel is deur (en in) sy pynlike verlede.

Min onderwerpe sorg vir so ’n warm debat soos wanneer “grondhervorming” en “onteiening sonder vergoeding” in dieselfde asem genoem word, soos pres. Cyril Ramaphosa onlangs in sy eerste staatsrede gedoen het.

Grondhervorming in Suid-Afrika is niks nuuts nie. Sedert die oorgang na demokrasie in 1994 was dit nog altyd die regering se beleid om grond terug te gee aan groepe van wie dit in die koloniale era en apartheidsjare afgeneem is.

Ver­skillende modelle van grondherverdeling is al toegepas gegrond op vergoeding vir die huidige eienaars. Maar daar is druk om die proses te versnel; en dit moontlik sonder vergoeding.

Terselfdertyd skop baie boere en kritici vas en wys na gevalle waar eens suksesvolle plase wat aan nuwe boere oorgedra is, misluk het, dikwels weens te min regeringsteun wat finansiering en kundigheid betref.

Die ANC het in Desember op sy leierskonferensie by Nasrec in Johannesburg, waar Ramaphosa tot nuwe partyleier verkies is, ’n resolusie oor grondonteiening sonder vergoeding aanvaar.

Maar wat beteken dit, en hoe gaan Ramaphosa dit bestuur? Wat is die uitdagings en opsies, en is daar gronde vir vrese van ’n grondgrypery?

DIE PLAN: WAT RAMAPHOSA SÊ

“Ons sal daadwerklik optree om landbou se reuse- ekonomiese potensiaal te ontsluit,” het pres. Ramaphosa in sy staatsrede gesê.

Cyril Ramaphosa het in sy reaksie op ’n onstuimige parlementêre debat oor sy staatsrede gesê: “Ons sal nie die foute maak wat ander gemaak het nie. Ons sal nie ‘breek en gryp’-gedrag toelaat nie.”

“Ons sal ons grond­herverspreidingsprogram versnel, nie net om ernstige historiese ongeregtigheid reg te stel nie, maar ook om meer produsente in die landbousektor in te bring en meer grond vir bewerking beskikbaar te maak. 

"Hiervoor sal ons ’n omvattende benadering volg . . . wat die onteiening van grond sonder vergoeding sal insluit.”

Ramaphosa het bygevoeg: “Ons is vasbeslote dat onteiening sonder vergoeding toegepas moet word op ’n wyse wat landbou­produksie verhoog, voedsel­sekerheid verbeter . . . en verseker dat die grond teruggegee word aan dié van wie dit onder kolonialisme en apartheid ontneem is.

“Die regering sal nou ’n proses van oorlegpleging onderneem . . . Ons doen ook ’n spesiale beroep op finansiële instellings om ons vennote te wees om grondherverspreidingsprogramme te versnel aangesien toenemende belegging in dié sektor nodig sal wees.”

Ramaphosa het in sy reaksie op ’n onstuimige parlementêre debat oor sy staatsrede gesê: “Ons sal nie die foute maak wat ander gemaak het nie. Ons sal nie ‘breek en gryp’-gedrag toelaat nie.”

WAT BETEKEN DIT?

Ramaphosa se klem op die belangrikheid van die landbousektor, voedsel­sekerheid en ekonomiese groei bied ’n mate van gemoedsrus, meen dr. Jakkie Cilliers, raadsvoorsitter van die Instituut vir Sekerheidstudies en hoof van hul African Futures & Innovation-eenheid.

“Mense is banger vir grondhervorming as wat hulle behoort te wees. Die eintlike probleem is die onsekerheid oor grondbeleid in die afgelope jare.”

Jakkie sê die president speel vir nog tyd omdat hy dinge beredeneerd benader.

“Ons sien nog hoofsaaklik debat, geen beweging nie. Ramaphosa het eers ander prioriteite, soos ’n nuwe kabinet (dié is onlangs onthul) en die samestelling van die staatsdiens.

“Onthou, Ramaphosa skerm ook teen die EFF,” sê Jakkie.

Deur te sê wat die EFF se aanhangers wil hoor – dat “grond aan die mense teruggegee gaan word” – hoop die ANC om steun vir die EFF te ondermyn. Ramaphosa sê dit met groter omsigtigheid en benadruk dat die ANC nie ongrondwetlik sal optree nie.

Ongelukkig het die president se verdere uitsprake glad nie duidelikheid gebring nie.

Dit lyk of die ANC weer bereid is om gesprek te voer oor grond, want ’n ANC-konferensie is vir Maart beplan, meld prof. Elmien du Plessis, grond­hervormings- en eiendomsregkenner van die Noordwes-universiteit.

“Die vraag is: Wat sal die gesprek wees?”

“Ongelukkig het die president se verdere uitsprake glad nie duidelikheid gebring nie,” sê Annelize Crosby, regs­geleerde en Agri SA se grondsakehoof.

“Ons meen dis onmoontlik dat onteiening sonder vergoeding nie die ekonomie skade sal berokken nie.”

Dr. Theuns Eloff, uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting, sê Rama­phosa “speel albei kante.

Hy sal onder toejuiging sê dit moet gedoen word, maar dan sê ons moet verseker dit sal nie voedselsekerheid en die ekonomie skaad nie. Dié twee is wederkerig uitsluitend.

“Ek dink nie ons sal vinnig ’n grondwetlike verandering sien nie; eers verslae en konsultasie,” sê hy.

GRONDHERVORMING TOT NOU

Prof. Nick Vink, landbou-ekonoom aan die Universiteit Stellenbosch, verduidelik in Suid-Afrika het grondhervorming wetlik drie gedaantes: restitusie (waar die staat mense wie se grond afgeneem is ­finansieel vergoed); grondbesithervorming (wat mense se reg erken om grond te besit en te verpand); en grondherverdeling (eiendom word deur die staat gekoop en dan herverdeel).

Maar selfs vir die herverdelingsproses was daar al vier of vyf verskillende programme gereed, sê Nick.

“Die doel was om vir mense wat nie geld het nie geld te leen om grond in die hande te kry. Maar jy gaan nie mense uit armoede help deur vir hulle geld te leen nie,” verduidelik Nick.

“Die geld was altyd te min, en boonop is ’n boer afhanklik van ’n aantal steundiens­te. As jy ’n nuwe, swart boer is, het jy nog nie daardie steunstelsel nie.”

Nick meen grondhervorming in Suid-Afrika het nog min bereik.

"Maar dis moeilik om die sukses te meet. Gewoonlik glo ons ’n boerdery het drie geslagte nodig om te vestig.”

Die regering se eie ondersoek ver­lede jaar, onder leiding van oudpres. Kgalema Mo­tlanthe, was “duidelik oor wat skeef­geloop het”, sê Annelize: “ ’n onvoldoende begroting vir grondher­vorming (sowat 0,4% van die totale begroting); swak uitvoering daarvan; korrupsie; en swak steun vir grondontvangers.”

Ek dink nie Suid-Afrikaners, wit of swart, het ’n probleem met grondhervorming nie. Die probleem kom wanneer dit tot landbou-agteruitgang en verval lei.

Johann Bornman, voorsitter van die konsultasiegroep Agri Development Solutions (ADS), verduidelik dis moeilik om enigiets meer as bestaansboerdery te beoefen sonder finansiering vir plaastoerusting en ander insetkoste, toegang tot ’n landbounetwerk en markte, en voldoende landboukundigheid en -ervaring.

Dit is iets wat nuwe boere nie noodwendig het nie en aan hulle gebied moet word vir grondhervorming om sinvol uit te speel.

“Ek dink nie Suid-Afrikaners, wit of swart, het ’n probleem met grondhervorming nie. Die probleem kom wanneer dit tot landbou-agteruitgang en verval lei,” sê Jakkie.

Nog ’n probleem met grondhervorming is ’n gebrek aan kundigheid en swak samewerking tussen die relevante staatsdepartemente, sê Annelize.

“As die ANC eerlik is en na al die feite kyk, was dit (haakplekke tot dusver) die staat se skuld,” sê Theuns.

“Daar is geen gebrek aan wil by die landbougemeenskap nie.”

MISLUKKINGS – EN SUKSESSE

’n Voorbeeld van grondhervorming wat skeefgeloop het, was in die Levubu-­distrik in Limpopo. Kommersiële plase met ’n reuse-uitvoermark was daar gevestig en vrugte en neute is op groot skaal verbou.

Nadat die historiese bewoners deur ’n grondeis die grond terug­gekry het, het die landbou daar erg ­gekwyn, is destyds wyd berig. Die kommersiële boere wat die grond ontwikkel het, is nie betrek nie en teen 2010 was omtrent die helfte van die produktiewe Levubu-plase onbewerk.

Maar ingryping met finansiële steun en kundigheid het wel elders vrugte afgewerp. So het omtrent 1 600 families van die Moletele-groep, naby Hoedspruit, in 2007 sowat 70 000 ha grond teruggekry wat dekades gelede van hulle vervreem is.

Weens ’n gebrek aan geld, kommersiële vaardighede en beperkte toegang tot die landboumark het die grondsege gou op ’n ramp afgestuur.

Die Moletele-gemeenskap het toe geadverteer vir boere wat hulle met die bedryf van die betrokke plaasgrond kon help, vertel Hezekiel Nkosi, voorsitter van die Moletele-grondvereniging. ’n Aantal boere van die omgewing het gehoor gegee en ’n suksesvolle vennoot­skap is gesluit.

Dit gaan oor goeie verhoudings met die gemeen­skap, werkskepping en om terug te gee deur sakeskemas en opleiding.

Die Moletele-groep het ingestem om ’n persentasie van die landbougrond se opbrengs, byvoorbeeld uit mango’s en suurlemoene, oor 20 jaar aan dié boere oor te betaal in ruil vir hulp en kundigheid.

“Hier het ons ’n voorbeeld van suksesvolle grondhervorming,” het Pieter Scholtz van die boerdery Matuma Farms, wat hand bygesit het, vertel.

“Dit gaan oor goeie verhoudings met die gemeen­skap, werkskepping en om terug te gee deur sakeskemas en opleiding.”

HOE LYK DIE PRENTJIE NOU?

Verlede jaar is die uitslae van Agri SA en Landbouweekblad, Huisgenoot se sustertydskrif, se nasionale grondoudit bekendgemaak.

Johann, wie se ADS-­konsultasiegroep die navorsing vir die oudit gedoen het, vertel ons die regering het vyf verskillende grondhervormingsprogramme van 1996 tot 2016 ingespan en R46 biljoen daaraan bestee. Maar volgens hom was dit nie baie suksesvol nie.

Volgens die ANC se Nasrec-bespre­kings­dokumente is net 9,8% van Suid-­Afrika se bewerkbare landbougrond in besit van swart boere. Maar volgens die ADS-oudit wat Agri SA en Landbouweekblad verlede jaar gepubliseer het, was sowat 26,7% van landbougrond teen 2016 in die besit van mense wat nie wit is nie.

Die onlangse oudit deur die departement vir landelike ontwikkeling en grondhervorming het nie spesifiek na landbougrond gekyk nie, maar na die totale oppervlak van Suid-Afrika.

In Suid-Afrika se drie vrugbaarste provinsies, die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Limpopo, is meer as 50% van die landboupotensiaal in swart besit, het die ADS-oudit vasgestel.

Sedert 1994 besit wit boere minder landbougrond. Dit het gedaal van 85,1% tot 73,3% in Desember 2016, is in die oudit bevind.

Die onlangse oudit deur die departement vir landelike ontwikkeling en grondhervorming het nie spesifiek na landbougrond gekyk nie, maar na die totale oppervlak van Suid-Afrika. Daarvolgens besit swart Suid-Afrikaners 1,2% in landelike gebiede, en wit mense 23,6%.

HOEKOM IS DIT WEER IN DIE KOLLIG?

Die rede vir die hernieude grondhervormingsdebat is die stryd tussen die twee ANC-faksies (die Ramaphosa- en Zuma-­kamp) en druk van die EFF, sê Jakkie.

“Die ANC het weggespring met ’n nuwe beleidsrigting en nuwe grondstrategie en nou moet Ramaphosa daarvoor voorsiening maak,” beaam Johann.

Dit is ook tyd vir daadwerklike optrede rakende grondhervorming.

Die EFF sou kort voor ons saktyd ’n parlementêre mosie indien dat ’n veelpartykomitee teen Mei moet aandui hoe die Grondwet verander kan word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Elmien meen die ANC probeer met sy nuwe onteieningsuitsprake stemme werf vir die 2019-verkiesing.

“Maar dit is ook tyd vir daadwerklike optrede rakende grondhervorming. Dit het die afgelope 23 jaar baie stadig verloop,” sê sy.

Teen die huidige pas sal dit volgens haar nog 35 jaar neem net om restitusie-­eise tot 1998 (om grond wat onder apartheid vervreem is aan die oorspronklike eienaars terug te gee of hulle daarvoor te vergoed) af te handel.

HOE SAL ONTEIENING SONDER VERGOEDING WERK?

Die eerste stap sal moet wees om die Grondwet te verander.

“Die huidige grondhervorming-­meganisme in die Grondwet maak voorsiening daarvoor dat die staat grond teen vergoeding kan onteien,” sê Johann.

Om die Grondwet te verander om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, sal ’n tweederdemeerderheid-­stem in die parlement verg. Daarvoor sal ’n opposisieparty of -partye die ANC moet steun – iets wat die EFF al gesê het hy sal doen.

Maar volgens Elmien is die vraag of die EFF gelukkig sal wees met die voorwaardes wat Ramaphosa uitgestippel het, “want die voorwaardes sal die gevalle waar grond onteien word baie beperk”.

Die DA is gekant teen onteiening sonder vergoeding en die partyleier, Mmusi Maimane, het in die staatsrededebat gemaan “onteiening sonder vergoeding is onversoenbaar met ’n groeiende, florerende ekonomie” en dat “grondhervorming deur doeltreffender staatsbestuur en die uitroei van korrupsie versnel moet word”.

Malema het gedreig om EFF-same­werking met die DA in DA-beheerde metropole te staak.

“Enigeen gekant teen onteiening sonder vergoeding is die vyand van ons mense,” het hy gesê.

Johann twyfel of ’n tweederdemeerderheid om die relevante grondwetklousule te wysig verkry sal word omdat die ANC intern verdeeld is oor die kwessie.

Indien die Grondwet wel verander sou word, bestaan geen besonderhede oor die moontlike maatstawwe en pro­ses wat gevolg sou word om grond te ont­eien sonder vergoeding nie.

Ná alles is kenners optimisties dat grondhervorming in Suid-Afrika nie die roete van grondgrypery sal volg nie.

Yolisa Mfaise, regsverteenwoordiger van Agri SA, meen dit “het die potensiaal om grondhervorming eerder verder te vertraag as bespoedig omdat grond­eienaars waarskynlik hof toe sal gaan om hul eiendom te beskerm”.

Ná alles is kenners optimisties dat grondhervorming in Suid-Afrika nie die roete van grondgrypery sal volg nie.

Die verskille tussen Suid-Afrika en Zimbabwe is baie groot, benadruk Jakkie.

“Hul bevrydingsoorlog het spesifiek om grond gedraai. Suid-Afrika is ook ’n baie moderner land, met ’n baie meer gediversifiseerde ekonomie as Zimbabwe.”

Elmien meen die Zimbabwe-scenario is net moontlik sonder ’n funksionele Grondwet en beklemtoon: “Ons storie is anders as Zimbabwe s’n.”

IS DAAR ALTERNATIEWE?

Dan Kriek, Agri SA-president, sê dié landbouliggaam het reeds ’n strategie vir suksesvolle landbousektor-transformasie ontwikkel.

Dit sluit innoverende finan­sieringsmodelle en steunprogramme in waar kommersiële boere en banke saamspan om grondbegunstigdes te mentor en vestig.

“Agri SA, die banke en Agbiz het voorstelle voorgelê, en die Motlanthe-paneel het eweneens spe­sifieke, werkbare voorstelle gemaak,” sê Annelize.

“As grond verkry moet word, kan dit ook (met vergoeding) onteien word,” sê Elmien.

Johann meld teen 2050, met ’n ge­skatte Suid-Afrikaanse bevolking van 77 miljoen, sal ons verstede­likingskoers na ­raming 75% wees.

“Dit word reeds deur die Grondwet toegelaat. In sekere gevalle sal dit regverdig en billik wees om grond teen minder as markwaarde te onteien. Regverdigheid en billikheid is die sleutel­kriteria.

“Wat onteiening betref, moet die ANC dus begin om die gereedskap reeds tot sy beskikking te benut. Ek dink dus dis onnodig om die Grondwet te verander.”

Een van die beste maniere om grondhervorming in Suid-Afrika te bespoedig “is om weg te beweeg van die gemeen­skaplikegrondbesit-stelsel in gebiede onderhewig aan tradisionele regerings,” meen Jakkie. Hy stel voor arm boere in sulke gebiede word titelaktes gegee vir die grond wat hulle reeds bewerk, maar nie self besit nie.

Johann meld teen 2050, met ’n ge­skatte Suid-Afrikaanse bevolking van 77 miljoen, sal ons verstede­likingskoers na ­raming 75% wees. Met soveel stedelinge wat gevoed moet word, sal voedselsekerheid in die gedrang wees as alle beskikbare landbougrond nie optimaal vervaardig nie.

Die bestaande meganismes vir grondhervorming moet bloot behoorlik benut en meer “vaartbelyn” gemaak word, vertel hy.

Van die kwessies wat aandag moet kry (soos ook in die Motlanthe-verslag gemeld), sluit in:

  • die skep van ’n enkele struktuur wat grondhervorming behartig en die Landbank, ander finansiële instellings, landbouondernemings, die kommersiële landboubedryf en ’n staatsdepartement insluit;
  • ’n proses vir die keuring, evaluering en monitering van nuwe grondeienaars sodat mense met die regte ingesteldheid om te boer plase kry; en
  • ’n behoorlik gestruktureerde ontwikkelingsplan en ondersteuningsnetwerk vir elke grondhervormingsprojek.

Wat beteken dit vir die landbou?

Die grootste slaggat rondom die ANC se onteieningsretoriek is onsekerheid, sê prof. Elmien du Plessis van die Noord­wes-universiteit.

“Boere en landbougemeenskappe kan beplan as daar sekerheid is, maar tans weet niemand wat gaan gebeur nie.”

Dit skep “risiko’s vir investering in die sektor, die bankwese, die sekondêre bedrywe wat van die landbousektor afhanklik is (soos voedselverwerking) en eindelik die hele ekonomie”, maan die regsgeleerde en AgriSA-grondsakehoof, Annelize Crosby. Voedselsekerheid is ook in die gedrang, sê sy.

Foto: Gallo Images/Getty Images

“Om jou grond as ‘sekuriteit vir die bank’ te kan gebruik is belangrik in die landbou,” verduidelik dr. Jakkie Cilliers van die Instituut vir Sekerheidstudies.

“So kan jy geld leen vir byvoorbeeld toerusting en bedryfskoste. En dit sal ondermyn word deur onteiening sonder vergoeding.”

Geen instelling sal immers vir jou geld wil leen as daar ’n kans is dat die eiendom wat gewoonlik as sekerheid vir so ’n lening sal dien, vervreem kan word nie.

Kyk jy eers na die landbou-impak, sê dr. Theuns Eloff van die FW de Klerk-­stigting, “kan die kommersiële boer reken: Gaan ek verder in my boerdery belê, nog ’n trekker koop, mense in diens neem? Nee, ek gaan wag. Of: Ek sit dadelik my plaas in die mark.”

Johann Bornman, voorsitter van Agri Development Solutions, beaam: “Dis ’n remskoen vir groei en ontwikkeling in die landbou. Buitelandse beleggers sal ook versigtig wees om in Suid-Afrika se eiendom te belê.”

Wat beteken dit vir gewone eiendom?

Om die beginsel van onteiening sonder vergoeding “in die Grondwet in te bou sal gevaarlik wees”, sê dr. Theuns Eloff van die FW de Klerk-stigting.

“Die sogenaamde ­eiendomsklousule, die betrokke deel van Artikel 25, beskerm alle eiendom, selfs intellektuele eiendom. Mettertyd kan daar dalk gesê word jy het ‘te veel’ aandele in jou beleggingsportefeulje; dus moet van hulle onteien word.”

“Eiendomsreg in die algemeen is hier in die gedrang; nie net plaaseienaarskap nie,” sê die regsgeleerde Annelize Crosby.

“As die klousule uit die Grondwet geskrap word, is geen soort eiendom in Suid-Afrika veilig nie. Internasionale studies toon ook as jy sekerheid van besit aantas, word landsburgers in die algemeen armer.”

EKSTRA BRONNE: AFP, NEWS24.COM, LANDBOU.COM; Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Reuters