Eendagkrieket se grootste skouspel is weer om die draai – en krieket­liefhebbers kan uitsien na ’n fees van lopies en paaltjies én ’n nuwe formaat.

Suid-Afrikaners wil natuurlik almal sien of die Proteas oplaas daar in Engeland die “so naby, maar tog so ver”-spoke van die verlede kan besweer en op 14 Julie as kampioen gekroon kan word. 

trofee,krieket
Die trofee waaroor al die spanne meeding. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Aan talent skiet ons klaarblyklik nie tekort nie. Wat kolwers en boulers betref, vertoon ons vanjaar stellig net so goed op die Internasionale Krieketraad (IKR) se wêreldranglys as ander topspanne met ’n wenkans. 

“Ons het net so ’n goeie kans as enige ander span,” sê Shaun Pollock, voormalige kaptein van die Proteas, aan Huis­genoot. Hy meen die toernooi se nuwe formaat, waar almal teen mekaar speel, is regverdig. 

“As ons dan in die topvier kan eindig en ons ouens is op peil en speel so goed as wat hulle kan, het ons beslis ’n kans om te wen.”

Watter spanne het na sy mening ’n kans om na die halfeindstryde op 9 en 11 Julie deur te dring? Shaun ­reken: “As ek ’n topvier moet kies, is dit Engeland, Indië, Australië – en Suid-Afrika.” 

In ’n neutedop

Die Wêreldbekerkriekettoernooi word van 30 Mei tot 14 Julie deur Engeland aangebied, met ’n paar wedstryde in Wallis. Elkeen van die 10 deelnemende lande speel vanjaar in ’n rondomtalieformaat teen elke ander span, waarna die vier spanne met die meeste punte na die halfeindronde deurdring. 

Met vyf trofeë uit die 11 Wêreldbekertoernooie sedert die eerste een in 1975 was Australië tot dusver bobaas in dié toernooi. Vanjaar word veral die gasheerspan, Engeland, en Virat Kohli se Indiese span deur beroepswedders as guns­telinge uit­gesonder.

Suid-Afrika: Hope talent, nog ’n geleentheid

Sedert sy terugkeer tot wêreldkrieket in 1991 is Suid-Afrika een van die topspanne, maar in sy sewe Wêreldbekertoernooie kon hy nog nie beter vaar as vier halfeindstryde nie. Dr. Ali Bacher, voormalige Suid-Afrikaanse kaptein en krieketadministrateur, meen geluk speel ’n rol. 

“Ons het nie in die vorige Wêreldbeker ge-choke nie. Ons het bloot slegte geluk ervaar.” 

Hy meen weerstoestande in Engeland kan in ons guns tel as ons boulers in oortrokke toestande groter swaai kan bewerkstellig. Hy noem ’n paar sleutelspelers. 

“Quinton de Kock kan op sy eentjie vir ons ’n wedstryd wen. En Aiden Markram het enorme potensiaal.” Ons twee boultroefkaarte is Kagiso Rabada en die draaier Imran Tahir, en Faf du Plessis is ’n taai karakter en as kaptein ’n goeie leier. 

Ali glo dis goed dat die Proteas nie die gunsteling is nie. “Daar’s minder druk op ons in hierdie Wêreldbeker. Die fokus kan op ander spanne wees, en dit kan in ons guns tel.”

Ons voormalige snelbouler Fanie de Villiers stem saam dat geluk ’n faktor is in sulke toernooie. “Kyk maar na rugby . . . Hoeveel keer het die beste span daar nie die Wêreldbeker kon wen nie,” sê hy met verwysing na hoe lank die Webb Ellis-trofee die All Blacks ontwyk het.

Al ontbreek van ons spelers ervaring, is ons steeds goed genoeg om tot in die halfeindstryd te vorder, meen Fanie. Hy sê Engeland en Indië is beter gebalanseerde eenhede as die res.

“Maar gaan die geluk noodwendig aan hul kant wees? Op een deurslaggewende dag kan ons, Nieu-See­land of selfs Pakistan hulle uitstof.”

Hou die SA spelers dop 

Quintin de Kock (26)

krieket
Quintin de Kock. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Internasionale eendagwedstryde: 106

Lopies: 4 602

Hoogste telling: 178 

Kolfgemiddelde: 45,56

Quinton, vierde op die IKR-­eendagkolfranglys, is as openingskolwer en paaltjiewagter een van die hoekstene van ons span. Hy het 149 vang­skote en agt stonkslae agter sy naam. Die krieketontleder en oud-Aussie-­kaptein Ian Chappell het Quinton en Virat Kohli uitgesonder as spelers wat hul span in dié Wêreld­beker in taai oomblikke kan inspi-reer en hulle dryfkrag kan gee.

Kagiso Rabada (24)

krieket
Kagiso Rabada. Foto: Gallo Images

Wedstryde: 66

Paaltjies: 106

Beste boulsyfer: 6/16

Kagiso is tans vyfde op die IKR-­eendagboulranglys en word op sy jong ouerdom reeds as een van die beste boulers wêreldwyd beskou. In 2014 het dié lenige snelbouler die Suid-­Afrikaanse o.19-span met 14 paaltjies gehelp om die junior Wêreldbeker te wen. 

Met sy vaart en oordeelkundige boulwerk is hy goud werd in ’n druksituasie. Hy was naas sy Suid-Afrikaanse  spanmaat Imran Tahir die grootste paaltjievraat in IPL-krieket vanjaar.

Faf du Plessis (34) 

krieket
Faf du Plessis. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Wedstryde: 134

Lopies: 5 120

Hoogste telling: 185

Kolfgemiddelde: 46,54

Dis sy eerste Wêreldbeker as kaptein, maar sy derde toernooi. Benewens sy kalm leierskap is hy danksy sy vermoë om vinnig te kolf én ’n kolfbeurt te anker een van die Proteas se staatmakers.

Dié Titans- en IPL-Chennai Super Kings-held is ’n ratse veldwerker met veilige hande en is tans vyfde op die IKR-eendagkolfranglys.

Ander sterre om dop te hou 

Virat Kohli (30)

krieket
Virat Kohli. Foto: Gallo images/ Getty Images
 

Span: Indië

Wedstryde: 227

Lopies: 10 843

Hoogste telling: 183

Kolfgemiddelde: 59,57

Die no. 1-kolwer op die eendag- én toetsranglys word tans beskou as die beste krieketspeler vandag. Ian Chappell skryf boonop die kaptein van die Indiese span “is op pad om as die grootste krieketspeler van alle tye beskou te word”.

Virat spog onder meer met die hoogste eendagkolfgemiddelde ooit in die IKR-rangstelsel. Voeg daarby die meedoënlose dryfkrag en bestendigheid wat hom Indië die toptoetsspan en een van die groot drie in eendagkrieket help maak het, en jy kan maar weet hy sál ’n rol in Engeland speel.

Jasprit Bumrah (25)

krieket
Jasprit Bumrah. Foto: Gallo images

Span: Indië

Wedstryde: 49

Paaltjies: 85

Beste boulsyfer: 5/27

Jasprit Bumrah is Indië se weergawe van snellers soos ons Kagiso en Nieu-­Seeland se Trent Boult. Hy het aanvanklik aandag getrek met sy onortodokse boulaksie, wat ’n mens aan ’n Middeleeuse katapult herinner. Maar nou is die relatiewe jongeling reeds boaan die eendagboulranglys. Hy het ook al op die T20-toneel amok gemaak.

Ben Stokes (27) 

krieket
Ben Stokes. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Span: Engeland

Wedstryde: 82

Lopies: 2 125

Hoogste telling: 102

Paaltjies: 63

Beste boulsyfer: 5/61

Joe Root is die Drie Leeus se kolfmaestro, maar ’n Ben op sy stukke is die vuur in die enjin-­kamer. Veelsydige spelers soos dié geta­toeëerde deeltydse kroegvegter kom goed te pas in WB-krieket, en Ben is die ware Jakob met kolf, bal en boonop hope veggees.

Mitchell Starc (29)

krieket
Mitchell Starc. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Span: Australië

Wedstryde: 75

Paaltjies: 145

Beste boulsyfer: 6/28

Hy staan al ’n geruime tyd Mitchell Johnson se skoene vol as hoofboelie van die Aussie-boulaanval. Die jonger Mitchell kan volgens kenners die bal ook ietwat vernuftiger laat swaai. Sy in­swaaiballe het menige kolwer by die vorige Wêreldbeker soos ’n springhaas in kopligte laat lyk. Met sy 22 paaltjies in daardie toernooi is die 1,96 m-blits dan ook eindelik as speler van die 2015-Wêreldbeker aangewys.

Kane Williamson (28) 

krieket
Kane Williamson. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Span: Nieu-Seeland

Wedstryde: 139

Lopies: 5 554

Hoogste telling: 145

Kolfgemiddelde: 45,90

Martin Guptill, sy ouer spanmaat met die kanonkolf, hou die rekord vir die hoogste WB-kolftelling, maar “Kaptein Kane” is voortreflik in al drie formate en was onder meer die Kiwi-­kolwer wat die vinnigste 3 000 lopies in eendagkrieket kon behaal. 

Soos ons Faf is hy ’n uitstekende veld­werker, en sy geestelike krag maak hom voorts ’n goeie kaptein.

Die wedstryde waarin Suid-Afrika speel

30 Mei: Teen Engeland – The Oval, Londen

2 Junie: Teen Bangladesj – The Oval, Londen

5 Junie: Teen Indië – Hampshire Bowl, South Hampton 

10 Junie: Teen die Windies – Hampshire Bowl, South Hampton

15 Junie: Teen Afganistan – Cardiffstadion, Wallis

19 Junie: Teen Nieu-Seeland – Edgbaston, Birmingham

23 Junie: Teen Pakistan – Lord’s, Londen

28 Junie: Teen Sri Lanka – The Riverside, Durham

6 Julie: Teen Australië – Old Trafford, Manchester

Wêreldbekerkrieketrekords

Meeste Wêreldbekertitels

Australië: 5

Voorste lopievraat: Sachin Tendulkar (Indië)45 wedstryde, 2 278 lopies

Hoogste individuele kolftal: Martin Guptill (NS) 237 teen Wes-Indiese Eilande in 2015

Meeste paaltjies: Glenn McGrath (Aus) 39 wedstryde, 71 paaltjies

Beste boulsyfer: Glenn McGrath 7/15 teen Namibië in 2003

Meeste veldwerkvangskote: Ricky Ponting (Australië)46 wedstryde, 28 vangskote

Vorige wenners

2015: Australië

krieket
Australië, kampioene van 2015. Foto: Gallo Images/ Getty Images

2011: Indië 

krieket
Indië, kampioene van 2011. Foto: Gallo Images/ Reuters

2007: Australië

2003: Australië 

krieket
Australië, kampioene van 2003. Foto: Gallo Images/ AP



1999: Australië

krieket
Australië, kampioene van 1999. Foto: Gallo Images/ Reuters

Wenners voor 1999 

1996: Sri Lanka
1992: Pakistan 
1987: Australië
1983: Indië
1979: Wes-Indiese Eilande 
1975: Wes-Indiese Eilande 

Ekstra bronne: icc-cricket.com, cricketworldcup.com, espncricinfo.com, cricket.co.za

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!