Die afgelope week is die voormalige Bokafrigter Peter de Villiers en sy gesin deur mense se omgeewoorde oorval nadat ’n foto van Peter en sy dogter in die sosiale media versprei het.

Op die foto sit Peter langs sy dogter, Odille Monk (28), terwyl sy in 'n hospitaal in die Paarl chemoterapie ontvang. Duisende mense het die foto gedeel en Huisgenoot het daaroor berig.

“’n Mens besef nie altyd hoeveel mense deur kanker geraak word nie,” sê Peter oor die reaksie.

Odille het verlede jaar met chemoterapie begin nadat ’n gewas in haar borskas gevind en limfoomkanker by haar gediagnoseer is.

Sy moes agt keer vir die behandeling gaan en elke keer was haar pa aan haar sy. Die twee het die tyd gebruik om te gesels en op te maak vir die lang tye wat hulle mekaar nie gesien het nie omdat albei bedrywige programme het.

Ná Odille se tweede chemosessie het die gewas reeds drasties begin krimp, het sy aan Huisgenoot vertel. Sy is positief ná die behandeling en glo die gewas sal weg wees wanneer sy oor ’n paar weke weer ondersoek word.

“Die reaksie van mense is nogal oorweldigend,” sê Peter.

“Selfs mense van wie ons in jare nie gehoor het nie of mee kontak verloor het, het boodskappe gestuur of gebel. Ek dink Odille het ook ’n hele paar boodskappies gekry,” sê Peter.

Hy sê hulle is dankbaar vir mense se steun.

“Dit wys net daar is nog goeie dinge in die land,” sê Peter.