Maar Donderdagaand het die klein Renesmé Rossouw van Brakpan, aan die Johannesburgse Oos-Rand, haar stryd om oorlewing verloor. 

Die kleinding se verpletterde ouerpaar, Anton (23) en Tiffany (19), moes hoor dat dokters “alles in hulle vermoë” gedoen het om die dogtertjie se lewe te red – maar vergeefs.

“Ons prinsessie het vlerkies gekry,” het Diana Becker van die ondersteuningsgroep Little help 4 A Little Heart Donderdagaand bevestig. “Dis met ’n gebroke hart dat ons in kennis gestel is dat Renesmè vanaand, 21 Mei 2020, net na 20:00 oorlede is.”

’n Chirurg het die ondersteuningsgroep, wat ’n belangrike rol in die babadogtertjie se hospitaalopnames en skenkings gespeel het, met die tragiese nuus gebel. Sy sê dokters het “alles in hulle vermoë gedoen” in ’n poging om haar op die operasietafel by te bring. 

“Hou asseblief die gesin in julle gebede. Dankie, Here, dat u Renesmé aan hulle geleen het. Sy het hoop en geloof na ons almal gebring.”

Klein Renesmé by haar ouers, Tiffany Rossouw en An
Klein Renesmé by haar ouers, Tiffany Rossouw en Anton Filmater. Foto: Verskaf
Klein Renesmé Rossouw Foto: Verskaf
Klein Renesmé Rossouw Foto: Verskaf

Renesmè is op 26 April by Anton en Tiffanny se huis gebore. Die ouerpaar was onkant betrap met haar onverwagse opwagting, maar het nie onmiddellik besef daar skort met haar gesondheid nie.

Dis eers drie dae na haar geboorte, toe Renesmè nie melk wou drink nie, dat sy blou om die mondjie geraak het en na ’n Gautengse provinsiale hospitaal gehaas is. Sy is hierna gediagnoseer met ’n aangebore hartdefek – bekend as pulmonêre atresie – wat vinnige ingryping geverg het. 

Dokters het twee gaatjies in Renesmè se hart opgemerk en het ook vasgestel sy het geen pulmonêre arterie, oftewel ’n longslagaar, nie. Die toestand is as ’n “gebreekte hartjie” beskryf.

Die babadogtertjie is op 16 Mei na die Netcare Sunninghill-hospitaal in Sandton oorgeplaas nadat ruim skenkings aan die ouerpaar, wat nie ’n mediese fonds het nie, gemaak is.

Klein Renesmé Rossouw in die hospitaal. Foto: Vers
Klein Renesmé Rossouw in die hospitaal. Foto: Verskaf

Maar Renesmè moes eers genoeg gewig aansit voordat spesialiste van die Maboneng hart en long-instituut Donderdag op haar sou opereer – en die ouerpaar se nagmerrie dan hopelik oplaas tot ’n einde sou kom.

Maar toe gebeur die ergste: klein Renesmè verloor haar lewe in die teater. 

Na die nuus oor Renesmè se dood Donderdagaand bekend gemaak is, het dr. Erich Schürmann, ’n kardiotorakale chirurg verbonde aan die hart en long-instituut, sy medelye met die jong ouers gedeel. 

“Die Maboneng-stigting wil hul innige meegevoel betuig met die familie en geliefdes van Renesmè,” het Schürmann in ’n amptelike dokument gesê. “Sy het haar stryd verloor. Maar gedurende haar kort lewe het sy baie mense aangeraak – en die stryd teen aangebore hartsiektes weer beklemtoon.” 

  • Diana het Donderdagaand versoek dat die privaatheid van die ouerpaar in hierdie stadium gerespekteer word.