Dag Zero. Dis hoe dit reeds onheilspellend genoem word, die dag wanneer Kaapstad se krane midde-in die uitgerekte droogte van die afgelope paar jaar toegedraai word en inwoners sal moet toustaan om daagliks ’n karige rantsoen water by tenkwaens te kry.

Tensy sake byna oornag drasties en wonderbaarlik verander, breek dié dag oor drie maande op 21 April aan. Dan sal die watervlak van Kaapse damme – kort voor ons druktyd 28,7% van hul gesamentlike kapasiteit – na verwagting tot slegs 13,5% gedaal het.

Dit sal inderdaad die laaste druppel aan die emmer wees. Die nasionale departement van water en sanitasie (DWS) het noodgedwonge ’n plan beraam om selfs die laaste 10% uit dié damme te tap terwyl dié water gewoonlik onbruikbaar is.

Wanneer Dag Zero aanbreek, sal daar nie genoeg water in die Skiereiland beskikbaar wees om te was, toilette te spoel en wasgoed te was nie. En sedert die begin van die jaar tref dit Kapenaars wat die werklikheid besef, soos ’n vuishou: Geen enkele druppel mag nou meer vermors word nie.

Al raak die lae damvlakke in die Suidwes-Kaap ’n groot deel van die provinsie se bevolking, sal Dag Zero – tot dusver – net vir inwoners van die Skiereiland aanbreek, het die premier, Helen Zille, onlangs gesê.

Inwoners van die Boland en Weskus moet egter ook daarop voorbereid wees dat hul krane kan opdroog.

Wanneer Dag Zero aanbreek, sal daar nie genoeg water beskikbaar wees om te was, toilette te spoel en wasgoed te was nie.

Die gevreesde datum vir Dag Zero was eers 18 Mei en toe 29 April. Die tyd stap ál vinniger aan omdat waterverbruik in die feestyd gestyg het, verduidelik Xanthea Limberg, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir water en afvaldienste.

“Ondanks die goeie werk van party inwoners om water te bespaar veroorsaak ’n beduidende getal inwoners dat ons die gesamentlike perk van 500 miljoen L water per dag oorskry,” sê Xanthea.

“Die situasie is ernstig,” bevestig Xolani Koyana, woordvoerder van Kaapstad se burgemeester, Patricia de Lille. In die week van 25 tot 31 Desember is 578 miljoen L water daagliks verbruik.

“Dit is 78 miljoen L meer as die teiken van 500 miljoen L per dag.”

Kaapstad se burgemeester, Patricia de Lille, besoek ’n waterboorplek.

Noudat die stad elke druppel tel en beplan volgens ’n nuwe daaglikse limiet van 450 miljoen L per dag, word Kapenaars van 1 Februarie beperk tot 50 L per inwoner per dag. Maar breek Dag Zero aan, sal elke inwoner slegs 25 L water per dag kry.

Dié water sal hulle by 200 bemande punte dwarsoor die metrogebied moet afhaal. Die polisie en weermag sal toesig hou om waterdiefstal en oproer te verhoed.

“Die 25 L per persoon per dag is die Wêreldgesondheidsorganisasie se minimum vereiste vir mense om hul gesondheid en higiëne te handhaaf,” vertel Xolani.

Waar moontlik sal daar steeds normale watertoevoer wees na krane in digbevolkte gebiede (soos informele nedersettings) met ’n hoër risiko vir siektes, asook hospitale, skole en ouetehuise, sê Xolani, maar waarsku: “Verbruik sal streng gemonitor word.” 

Terwyl Kapenaars angstig voorberei op die ergste en die droogte ondanks karige reënbuie voortsleep, skarrel die stadsowerheid en nasionale regering om betyds alternatiewe waterbronne vir die stad – soos ontsoutingsaanlegte, waterherwinning en die ontginning van grondwater, oftewel waterdraers, te begin benut.

Hoe lyk die plan om Dag Zero te probeer afwend of dit minstens te probeer uitstel?

En hoe lyk die pad daarna?

HIERDIE PLANNE WORD BERAAM

 1. Water uit waterdraers (akwifere)

Die stad het in Januarie begin met boorwerk om grondwater te onttrek uit waterdraers, ondergrondse rotsformasies waar syferwater in krake of “are” versamel.

“Die Kaapse Vlakte-, Tafelberggroep- (’n ondergrondse geologiese formasie) en Atlantis-akwifere (aan die Weskus) sal saam minstens 150 miljoen L water per dag kan lewer,” het Patricia aangekondig.

Die stad sê akwifere op die Kaapse Vlakte sal na verwagting sowat 80 miljoen L water per dag lewer, die Tafelberggroep s’n sowat 40 miljoen, en die Atlantis-akwifere nog 30 miljoen.

Van hierdie water word volgens die stad reeds daagliks gelewer, maar die akwifere sal eers teen Junie hul volle kapasiteit kan lewer.

Na verwagting sal hierdie akwifere die volgende 10 jaar lank water kan lewer.

Water uit die Kaapse Vlakte- en Atlantis-akwifere sal direk na spesiale opgaardamme in die metrogebied gepomp word en van daar na die bestaande waternetwerk.

Water uit die Tafelberggroep sal na die stad se voerdamme gevoer word.

2. Die ontsouting van seewater

Tydens ontsouting word seewater deur filters na ’n opgaartenk gepomp om dit te suiwer van byvoorbeeld skulpies en seewier. Daarna word die water onder druk deur sintetiese membrane gedwing en tot op molekulêre vlak gefiltreer van onder meer sout.

Dié gefiltreerde water word chemies behandel om bakterieë dood te maak en die pH-vlak te stabiliseer.

Dit word dan as drinkbare water in die waternetwerk gepomp. Die onsuiwerhede en sout word terug in die see gepomp.

Volgens die stad sal vier ontsoutingsaanlegte opgerig word: by Monwabisi en Strandfontein op die Kaapse Vlakte, in die Kaapse hawe en langsaan in die Waterfront.

Dit is nog nie duidelik wanneer die aanlegte water sal begin lewer nie.

Daarom moes ons tot ná 2017 se winterreënseisoen wag en kyk of ontsouting regtig nodig sou wees.

Kapenaars staan tou om water te kry by ’n fontein in die suidelike voorstad Nuweland. Dit kan ’n algemene gesig word ná Dag Zero, wat nou vir 21 April voorspel word.

“Ons voorsien dat ons (ontsoutings-)aanvullingsprogram teen einde Julie daagliks 196 miljoen L ekstra water aan Kaapstad kan voorsien,” sê Xolani.

Dr. Rolfe Eberhard, wat die regering adviseer oor waterbeleid, meen die ontsoutingsaanlegte sal nie betyds genoeg lewer om die nood te verlig nie.

Dr. Anthony Turton, ’n spesialis oor waterbronaanwending, sê die stad het te lank gesloer met tenderprosesse vir die oprigting van die aanlegte.

Volgens Xolani is dit omdat ontsouting duur is en Kapenaars daarvoor sal moet betaal met voorgestelde waterheffings.

“Daarom moes ons tot ná 2017 se winterreënseisoen wag en kyk of ontsouting regtig nodig sou wees,” verduidelik Xanthea. Die ontsoutingskepe waaroor vroeër berig is, is nie meer deel van die stad se plan nie.

3. Wateronderbrekings

Die stad installeer tans waterbeheertoestelle by huishoudings wat meer as 10,5 KL, oftewel 10 500 L, per maand verbruik.

Die toestelle verminder die waterdruk na dié eiendomme. Verbruik die huishouding meer as 350 L per dag, word water vir die res van die dag afgesny.

Die beheertoestelle sal in gebruik bly tot die waternood in Kaapstad verlig word. Huishoudings met meer as vier mense kan op die stad se webtuiste of by 48 instapsentrums aansoek doen om ’n groter watertoewysing, sê Xanthea.

Hoeveel bykomende water dan beskikbaar gestel word, sal afhang van behoeftes, byvoorbeeld mediese redes.

Werkers pluk druiwe naby Durbanville. Daar word geraam tot 50 000 seisoenwerkers kan kan deur die droogte benadeel word.

Die waterdruk in die stad se verspreidingsnetwerk sal ook geleidelik verlaag word. Dit kan lei tot wateronderbrekings tydens spitsverbruiktye – tussen sewe- en negeuur soggens en dieselfde tye saans.

Of jy in daardie tyd water uit jou kraan kry, sal afhang van die aanvraag, verduidelik Xanthea.

“Die waterdruk sal weer toeneem soos aanvraag afneem.”

As die onderbrekings te lank aanhou, sal tenkwaens die betrokke gebiede voorsien. Inwoners word aangeraai om 5 tot 10 L water per dag te berg vir drinkwater en higiëne tydens onderbrekings. Die onderbrekings tree reeds in werking.

4. Uitheemse plantasies uitroei

Uitheemse bome is dorstiger as inheemse bome. Verlede jaar is 50 ha dennebome naby Franschhoek verwyder om meer water na die Wemmershoekdam te laat vloei.

“Die verwydering van dié plantasie sal verseker dat die stad ’n week of ’n maand se ekstra water kry,” het die burgemeester toe gesê.

Volgens haar sal nog 110 ha se dennebome vanjaar daar uitgehaal word.

5. Die laaste druppels damwater

Die DWS beplan om die laaste 10% water uit die Theewaterskloof- en Voëlvleidam te herwin en in die Kaapse waternetwerk te voer, vertel hul woordvoerder Sputnik Ratau.

Dit word gewoonlik nie gebruik nie omdat die damvlak te laag is om water te laat uitvloei, maar ook weens onsuiwerhede op die bodem.

Die noodplan behels dat kanale gegrawe word om die laaste water uit die dam te herlei na die watertoevoernetwerk. Dit sal dan ook gesuiwer word om dit drinkbaar te maak.

“Dit sal deur die nasionale departement gefinansier word,” vertel Sputnik. “Die werk sal begin sodra die damvlakke laer as 13% is.”

Dit sal dus ná Dag Zero gedoen word.

WIE GAAN OPDOK?

Die Stad het R20,8 miljoen van die nasionale rampfonds ontvang wat sal help om vir ontsoutingsaanlegte en grondwater-ontginning te betaal.

Om die res van die noodwaterplan te finansier, het die stad ’n voorstel opgestel vir “droogteheffings”, oftewel bykomende waterheffings vir inwoners. Sowat 55 000 respondente het in die kommentaartydperk die voorstel teëgestaan en kort voor ons druktyd moes die stad finaal besluit.

Mense wie se woonplek meer as R400 000 werd is, se waterrekening kan met nog 10 tot 11% toeneem weens die heffing.

Die voorgestelde heffings sal net geld vir wooneiendomme met ’n munisipale waardasie van meer as R400 000 en sakepersele van meer as R50 000. Dit sal beteken dié inwoners en eienaars se huidige waterrekening kan met 10 tot 11% styg weens die droogteheffing.

Pensioentrekkers, gestremdes of hulpbehoewendes, skole, hospitale en ouetehuise word vrygeskeld hiervan.

Word dit goedgekeur, sal die droogteheffing reeds voor Dag Zero geld.

Breek Dag Zero wel aan, sal inwoners ’n tarief betaal gegrond op die waterperk van 25 L per persoon per dag. Die stad moet nog dié tarief bereken.

Dit was teen druktyd nog nie duidelik of en hoe Kapenaars sal moet betaal vir water wat hulle by voerpunte sal moet afhaal nie.

WAT IS DIE UITWERKING OP TOERISME, DIE LANDBOU EN ONDERNEMINGS?

1. Toerisme

Volgens Tim Harris, hoof van die Wes-Kaapse handelsbevorderingsagentskap, Wesgro, huiwer toeriste weens die waterkrisis om die mooiste Kaap te besoek.

Hy sê dit is nog nie duidelik wat die uitwerking hiervan op toerisme in die provinsie sal wees nie.

Volgens Alan Winde, Wes-Kaapse minister van ekonomiese geleenthede, het sy departement meer as 2 000 laedruk-stortkoppe aan gastehuise versprei, wat in die volgende jaar hopelik sowat 70 miljoen L water kan bespaar, sê hy. Hotelle het volgens hom ook reeds badproppe verwyder sodat toeriste gedwing word om te stort.

2. Die landbou

Die plaaslike landbousektor het reeds in 2015 by die Wes-Kaapse regering alarm gemaak oor ’n dreigende waterkrisis, sê Jeanne Boshoff, kommunikasiebestuurder van Agri Wes-Kaap. Sy sê die uitwerking van die droogte op die landbousektor in die afgelope drie jaar word al klaar op sowat R14 biljoen geskat.

Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê Wes-Kaapse boere se waterkwota is in Januarie met gemiddeld 60 persent gesny.

’n 60% afname in water sal lei tot ’n gemiddelde afname in voedselproduksie van meer as 30%.

Hy sê boere wat deur die Olifants/Doring-waterskema voorsien word (dus die Koue-Bokkeveld, Knersvlakte en Sandveld ) se waterkwota is reeds met 87 persent verminder. Die Wes-Kaap se produksie van sagtevrugte, graan, groente en vee sal vanjaar kleiner wees, maan hy.

Volgens aanduidings sal sowat 50 000 seisoenwerkers se inkomste daardeur geraak word. In die Ceres-gebied is 50 persent minder aartappels en uie byvoorbeeld geplant as in “normale” seisoene, sê Carl.

Baie sagtevrugte word uitgevoer en daar sal ’n verlies aan buitelandse inkomste wees. Groente- en vrugtepryse sal ook plaaslik styg.

“Die min beskikbare weiding brand dood (weens die droogte) en veeprodusente in die Sentraal-Karoo, Weskus- en Eden-distrikte is al drie jaar van voerskenkings en droogtehulp afhanklik,” voeg Carl by.

Hy se daar is dus nie ’n landbousektor wat nie onder druk verkeer nie.

“Studies deur die Wes-Kaapse landboudepartement toon ’n 60% afname in water sal lei tot ’n gemiddelde afname in voedselproduksie van meer as 30%,” waarsku hy.

3. Kaapse ondernemings

“Dag Zero sal drastiese gevolge hê,” waarsku Janine Myburgh, voorsitter van die Kaapse Kamer van Koophandel.

In ’n onlangse peiling onder dié organisasie se lede het die helfte van respondente gesê hul voortbestaan word bedreig deur die waterkrisis. Hotelle, gastehuise, spysenieringsmaatskappye, restaurante en ander in die gasvryheidsbedryf word volgens haar reeds getref.

Tuinontwerpers en -dienste en die swembadbedryf moes reeds baie mense aflê.

Volgens die peiling moes ’n kwart van ondernemings ook nuwe sakebeleggings skrap of uitstel. Twee derdes belê egter daarin om waterslimmer te wees en 45% maak langtermynplanne om onafhankliker van munisipale water te wees.

Sy sê 15% van die respondente ondersoek nuwe geleenthede, soos waterlose motorwasserye, asook produkte en dienste wat met watersekerheid help.

Groot maatskappye met ’n kantoor in die stad beraam ook planne om werknemers waar moontlik van die huis te laat werk om produktiwiteit te handhaaf wanneer krane leegloop, toilette nie gespoel kan word nie en mense hul water by voerpunte moet gaan haal.

HOE LYK DIE PAD VORENTOE?

Die stad aanvaar dat langdurige droogtes en onvoorspelbare klimaatstoestande die norm geword het en nie meer die uitsondering is nie, sê Xanthea.

Daar sal dus nooit weer slegs op reën en dus damwater staatgemaak kan word nie, sê sy.

Of Dag Zero aanbreek en die Suidwes- Kaap se krane heeltemal opdroog of nie, vir Kapenaars geld die ou spreekwoord voortaan altyd: Kinders, moenie in die water mors nie . . . 

HOE HET ONS HIER BELAND

Dr. Kevin Winter, waterkenner van die Universiteit van Kaapstad, verduidelik die Wes-Kaap se waterbronne verkeer onder groot druk weens vinnige bevolkingsgroei en verstedeliking, groter wateraanvraag as voorsiening, gebrekkige woongebiedbeplannig, swak instandhouding van waterinfrastruktuur, oorafhanklikheid van damme en klimaatsverandering.

Die Kaapse metrobevolking het tussen die sensus van 1996 en dié van 2011 met 46% tot 3,74 miljoen gegroei en sal vanjaar na verwagting 4,3 miljoen bereik. Die afgelope 20 jaar het die totale damkapasiteit met net 15% toegeneem omdat min projekte onderneem is om damme te bou of te vergroot.

Die nasionale regering in 2015 die Wes-Kaap se aansoek om finansiering vir grondwater- en herwinningsprojekte afgekeur. In 2016 het die regering ook Kaapstad se regstreekse versoek om rampverligtingsfinansiering geweier omdat die stad volgens hulle 'nog nie op krisisvlak was nie'.

“Tans kom 98% persent van Kaapstad se water uit damme,” vertel hy. Hul ligging is ook ’n onvoorsiene probleem, meen hy, omdat dit nou later en minder in hul opvanggebied reën.

Volgens die waterkenner dr. Anthony Turton is die Kaapse waterpenarie weens die mislukking van die hele watersekerheidstelsel in Suid-Afrika.

Eindelik is die nasionale departement van water en sanitasie vir watersekerheid verantwoordelik. Dit behels ook die instandhouding en bou van damme.

Hy waarsku druk op ons waterbronne is dus ’n nasionale probleem; die Wes-Kaap voel dit net eerste.

Volgens Anthony het die DA-stadsraad ook te laat wakker geskrik. Al was die erns van die droogte onvoorsienbaar, moes die munisipaliteit al jare gelede alternatiewe waterbronne ontwikkel het.

Dr. David Olivier, navorser van die Global Change Institute, sê Kaapstad het nog nooit drie jaar agtereenvolgens so ’n lang en knellende droogte beleef nie.

Volgens David het die nasionale regering in 2015 die Wes-Kaap se aansoek om finansiering vir grondwater- en herwinningsprojekte afgekeur.

In 2016 het die regering ook Kaapstad se regstreekse versoek om rampverligtingsfinansiering geweier omdat die stad volgens hulle “nog nie op krisisvlak was nie”.

DIE PRENTJIE ELDERS

Dit is nie net die Kaap wat bekommerd moet wees oor water nie. Die gemiddelde damvlak in die Oos-Kaap was teen middel Januarie 59,6%, vergeleke met die Wes-Kaap se 26%. Die Nelson Mandelabaai-metro (NMB) se situasie was veral benard.

Maar anders as die Wes-Kaap, is die Oos-Kaap ’n gemengde reënvalstreek en is daar hoop op somerreën.

Die NMB wil R3 biljoen se ontsoutingsaanlegte in die loop van vier jaar bou. Dis nog onduidelik hoeveel die staat sal finansier en hoeveel plaaslike belastingbetalers sal moet opdok.

Weens jare lange onderbesteding deur veral die nasionale regering, maar ook munisipaliteite, is te min nuwe damme gebou en waternetwerke nie goed onderhou nie, wat tot watervermorsing lei.

In die Noord-Kaap was damvlakke in opvanggebiede waar dit goed gereën het 76,6%. Maar elders, soos in Namakwaland, was dit bitter droog.

KwaZulu-Natal het verlede somer goeie reën gekry ná die droogte van 2015 en ’16, maar intussen het damvlakke teruggeval tot 49,%, met ’n normaalweg droë winterseisoen wat voorlê.

Die Vrystaat se damvlakke is 65,1%, Limpopo s’n 65,7% en Noordwes s’n 68,7%. Dit is volgens kenners nog nie kommerwekkend nie, maar hulle maan ook hier kan daar nie op historiese reënval staatgemaak word nie.

Gauteng se damvlakke het danksy goeie reënval laat verlede jaar van sowat 58% tot 70% gestyg. Volgens Anthony het die amptelike nasionale waterbronstrategieplan reeds in 2004 gewaarsku daar sou teen 2025 ’n nasionale watertekort wees.

Weens jare lange onderbesteding deur veral die nasionale regering, maar ook munisipaliteite, is te min nuwe damme gebou en waternetwerke nie goed onderhou nie, wat tot watervermorsing lei, sê Anthony.

Hy meen R80 biljoen per jaar moet oor die volgende dekade bestee word om die agterstand met onderhoud uit te wis. Volgens ’n verslag van die Wêreldnatuurlewefonds kan wateraanvraag landwyd teen 2030 die wateraanbod met 17% oorskry.

Alle Suid-Afrikaners moet dus anders begin dink oor hul waterverbruik.

Foto's: MISHA JORDAAN, GALLO IMAGES/AFP, GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GALLO IMAGES/JACQUES MARAIS