Ian Neilson, die Kaapstadse onderburgemeester, wat onlangs beheer oorgeneem het van die metro se veldtog teen Dag Zero (wanneer baie inwoners sal moet begin toustaan vir water) het op 'n mediakonferensie laat blyk nog ontsoutingsprojekte kan in die afsienbare toekoms aangekondig word.

Tydelike modulêre ontsoutingseenhede wat in 'n skeepsvraghouer pas ("containerised desalination units") word nou in 'n fabriek vervaardig, waarna dit vervoer sal word na ontsoutingsterreine by Strandfontein en Monwabisi in Valsbaai, waar die grond-, pyp- en ander voorbereidingswerk op dreef is.

Dié aanlegte behoort teen Mei in volle bedryf te wees.

Die Strandfontein-aanleg behoort in Maart die eerste water te begin lewer (2 miljoen L/dag) en teen Mei sy algehele uitsetvermoë (7 miljoen L/dag), het Huisgenoot Donderdag tydens 'n besoek aan die Strandfontein-terrein verneem.

Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid belas met watersake, het terselfdertyd laat blyk die Monwabisi-aanleg behoort teen April eweneens sowat 2 miljoen L/dag te begin lewer en teen Mei sy volle kapasiteit van 7 miljoen L/dag.

Die koste van die twee kontrakte vir die Stad - om so vir 'n tydperk van twee jaar water te verkry - beloop onderskeidelik R240-250 miljoen en R250-R260 miljoen.

Wynand Wessels, projekbestuurder, en Xanthea Limberg, burgemeesterkomiteelid belas met watersake (swart T-hemp), gesels oor die Strandfontein-projek. Foto: Corrie Hansen

By die Strandfontein-projek sal water byvoorbeeld deur twee pyplyne sowat 35 cm in deursnee en 600 m lank uit die see onttrek word, en op land deur die tydelike ontsoutingseenheid in 'n sogenaamde omgekeerde osmose-proses (die water word onder geweldige druk deur sintetiese membrane gedwing) tot op molekulêre vlak van onder meer sout gesuiwer.

Daarna word die behandelde water deur 'n verbindingspyplyn van omtrent 30 cm in deursnee in een van die bestaande watervoorsieningsnetwerk se hoofpype gevoer.

Van die pype wat by die Strandfontein-ontsoutingsterrein gebruik word. Foto: Corrie Hansen

Die derde reeds goedgekeurde maar heelwat kleiner projek is by die Kaapstadse Waterfront.

Onlangs het vrae ontstaan oor of die Waterfront die regte plek is vir 'n stadsraadsprojek, aangesien dié sakespilpunt digby die Kaapstadse hawe sy eie ontsoutingsaanleg vir die toekoms beplan, en die grond nie aan die Stad Kaapstad behoort nie.

“Daar is ook nog 'n paar ander projekte in die tenderstadium. Ons sal hopelik in die volgende paar weke dus bykomende ontsoutingsaanlegte kan aankondig," het Neilson vroeër gesê.

Ekstra bron: polity.org.za