Dinge lyk nie altyd goed in ons land nie – die misdaadstatistieke verklap dit en ook die dag se nuus wat ons elke oggend begroet.

Hoekom staan ’n mens steeds soggens op, stort, gaan laai die kinders by die skool af en gaan werk toe? Een van die dae, so lyk dit, sal ons in die Wes-Kaap selfs nie eens meer elke oggend kan stort nie, want die reën bly weg en die opgaardamme word ál leër.

G’n wonder soveel Suid-Afrikaners ly aan die een of ander vorm van depressie nie. Ek is een van hulle, dié mense wat soms met depressie sukkel, hoewel ek nie op die oomblik pille daarvoor drink nie.

Maar vanoggend moes ek myself weer oorreed om uit die bed te klim, voor die rekenaar te kom sit en vir Huis­genoot ’n paar laaste woorde oor die jaar te skryf. Eintlik wil ek vandag net lê, lê, lê.

2017 was nie vir my ’n goeie jaar nie.

En die jaar het so mooi begin. In Januarie het ek en Anette Roberts, die liefde van my lewe, mekaar ontmoet. In Junie het ons verloof geraak. Skaars drie maande later, op 4 Oktober, my verjaardag, het Anette haar eie lewe geneem.

Dana en Anette het mekaar in Januarie vanjaar ontmoet en ses maande later verloof geraak. Sy was die groot liefde van sy lewe, sê Dana.

My liewe Anette, ’n sakevrou van Bloemfontein, het nes ek nie medikasie vir depressie gebruik nie, maar sy was een van die mense wat moes. Het sy dit gedoen, het sy moontlik vandag nog geleef, weet ek nou.

Die benarde omstandighede in die land maak dit vir depressielyers nog moeiliker om van dag tot dag aan te gaan, sê my vriend die sielkundige Louis Awerbuch. En dis seker logies, nè? Hierdie land mors soms met ’n mens.

Ek het gesien hoe Anette sukkel met korrupte amptenare en gierige sake­vennote in van die projekte waarby sy betrokke was.

Die jaar was so sleg dat nie eens Anette se pa, Jan Schoeman (77), meer kans gesien het vir die lewe nie. Skaars twee maande ná sy donkerkopdogter se dood het hy ook sy lewe geneem.

En dan was daar die misdaadsituasie, die swak rand, ’n gesukkel met Eskom . . . Sulke dinge het tot haar wanhoop bygedra. Dit besef ek nou eers.

My situasie is nie uniek nie. 2017 was nie net vir my ’n slegte jaar nie.

Die jaar was so sleg dat nie eens Anette se pa, Jan Schoeman (77), meer kans gesien het vir die lewe nie. Skaars twee maande ná sy donkerkopdogter se dood het hy ook sy lewe geneem. Op dieselfde manier as Anette. In ’n motor het hulle albei hul laaste asem uitgeblaas.

Slegte dinge gebeur met mense. Dit is so. Dis die lewe.

Maar hoekom staan ’n mens maar elke oggend op en gaan aan en doen jou ding? Uit noodsaak en gewoonte? Oor jou geloof dat jy jou brood in die sweet van jou aangesig moet verdien? Omdat jy hoop vir die toekoms het?

Hoop: Moelik maar kragtig

Hoe leef ’n mens hoopvol in tye wat soms so wanhopig voel? Dit is iets waaroor ek deesdae baie wonder.

Het hoop nie vir te veel van ons iets sentimenteels geword nie, iets stroperigs?

’n Fraai prentjie op Facebook met ’n moeë stukkie wysheid daarby: “If you can dream it, you can do it.” ’n Pienkerige boekie vol te maklike antwoorde op ingewikkelde kwessies – “oorwin jou vrees en begin leef” – op ’n boekwinkel se rak.

Daar is soms iets onegs aan, nes ’n rooi vigsstrikkie op pres. Jacob Zuma se baadjie se lapel.

Natuurlik is daar niks verkeerds daarmee om elke oggend vir iemand naby aan jou ’n mooi versie op Facebook of oor WhatsApp te stuur nie, maar maak dit die lewe minder wanhopig? Maak dit ’n mens se teleurstelling oor die meedoënlose gang van die lewe nie net groter nie?

Jy kan maar duisend keer jouself probeer opbeur met die spreuk “If you can dream it, you can do it” – maar is alles so eenvoudig? Skep dit vir ’n mens nuwe hoop as jy die oggend net wil bly lê?

Hoop is nie maklik nie. Hoop is moeilik. Dis nie my eie woorde nie: Hoop is moeilik. Dis my oorlede pa se woorde.

Waar ek voor die skryf van dié stuk op die bed lê en net wil bly lê, tel ek eindelik my pa se ou Bybel van die bedkassie af op. Dit is nog die 1933-vertaling.

Ek begin soek na daardie bekende teksvers oor die hoop wat nie beskaam nie.

Romeine 5
Ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop; en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.

En toe staan dit daar in die kantlyn in my pa, wat ’n predikant was, se bewerige skriffie: “Hoop is moeilik!”

Hy moes meer as een keer daaroor gepreek het, want verse 3, 4, 5 en 8 is in swart onderstreep.

In sy eie handskrif het Dana se pa nog by dié paar verse in Romeine geskryf: “Hoop is moeilik!”

“Dit is belangrik om te sê wat hoop nie is nie,” skryf Rebecca Solnit, een van my gunstelingskrywers.

“Hoop is nie die geloof dat alles mooi en goed was, is of sal wees nie. Rondom ons is die bewyse van swaarkry, lyding en vernietiging.”

Aan sulke wyshede klou ek toenemend vas. Hoop. Is. Moeilik.

Lesse geleer

Wat het ek uit Anette se dood geleer? Baie dinge, en ek leer steeds daagliks nuwe dinge by, veral oor my­self en die krag van Bo en ook die krag van die menslike gees.

Anette het op 4 Oktober, op Dana se 55ste verjaardag, haar eie lewe geneem.

Dis ironies: Hoe sterker jy innerlik word, hoe meer begin jy met sagte oë na die wêreld kyk, na jou eie en ander mense se weerloosheid.

Sagtheid. Om sagter te wees met ander mense en met myself.

Dis dalk die grootste ding wat ek uit Anette se weggaan geleer het. Praat iemand oor ernstige dinge, is dit asof ek ’n bietjie fyner luister. Is daardie mens se woorde nie dalk ’n soort noodkreet nie?

Ek het Anette se siekte, bipolêre steuring, ’n vorm van depressie, misgeluister en misgekyk. Tot my eie skande en verdriet.

Gaan lees ’n bietjie oor bipolêre steuring. Iemand wat daaraan ly, is met tye heeltemal uitgelewer aan wanhoop.

Wat het ek nog geleer?

Om op te hou om die land en die wêreld te wil ver­ander. Ek gaan dit nie regkry nie, en dan gaan dit my net slegter oor myself laat voel en ’n bietjie wanhopig maak.

Anette het my sterker gemaak, ’n beter, heler mens, al was sy siek, en al is ek nou ’n bietjie stukkend.

Ek het geleer dis wyser om in jou eie huis, op jou eie werf en in jou eie gemeenskap ’n verskil te probeer maak, dinge vir die mense naby jou en rondom jou beter te probeer maak.

Ek wil ’n bouer wees, nie ’n boikotter nie. Toenemend. ’n Gepraat en geskel loop dikwels, ná die aanvanklike lawaai, op dit uit: niks.

En dan het ek ook baie van die liefde in die laaste jaar geleer. Die reddende krag van die liefde.

Anette het my sterker gemaak, ’n beter, heler mens, al was sy siek, en al is ek nou ’n bietjie stukkend. Op ’n manier het sy my geleer wat my pa ook geweet het: Soms is hoop moeilik. Maar dit beskaam nie; nooit.

Foto's: Facebook, verskaf